Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ace moet getuig en alles vertel

Ace tells Trump to back off, lui The Weekly se straatplakkaat.

Gert Coetzee

’n Mens kan net lag. Dat die groot Vrystaatse kampvegter teen fopnuus nou so teen die groot Amerikaanse kampvegter teen fopnuus uitvaar. In ’n fopkoerant nogal.

Die Ace-vermaning laat seker die VSA se pres. Donald Trump sidder.

Op die hakke van dié stukkie fop-komedie volg die getuienis voor die Zon-do-kommissie dat van die R260 miljoen wat van 2011 tot 2018 van die GCIS, die nasionale regering se kommunikasie-diens, na die Gupta-mediamaatskappye The New Age en Infinity Media gevloei het, R79,3 miljoen van die Vrystaatse provinsiale regering (VPR) gekom het.

Dis nie nuus nie.

Oor jare heen het Volksblad oor die belangebotsing berig. Dit misken die waghondtaak van die media as ’n regering ’n “onafhanklike” medium betaal om oor sy doen en late te berig. As die propaganda van die nou gesneuwelde The New Age geglo kon word, was die Vrystaat onder Ace ’n modelprovinsie met ’n modelpremier.

Wat die vraag laat ontstaan hoekom die Vrystaat in so ’n haglike toestand is.

He who pays the piper, plays the tune, lui die Engelse spreuk.

As The New Age geglo sou kon word, was hier geen misdaad, korrupsie, staatskaping, rassisme, vermorsing, versuim en vergrype hier nie.

Dit verras nie dat Magashule meen daar was niks fout met die VPR se betaling van R79 miljoen aan die Gupta-groepe vir advertensies nie.

Ongelukkig is sy spieël verblind om die betaalmeester (met belastinggeld) tevrede te hou. Die koerant was deur sy Gupta-base se ANC-infiltrasie speler én skeidsregter, wat ’n nuusblad kapater.

Magashule is nou sekretaris-generaal van die ANC en maak ook sy beweerde deelname aan ’n komplot om pres. Cyril Ramaphosa as ANC-leier te lig as fopnuus af. Net interessant dat hy in die onderhoud hieroor steeds na die gewese Nommer Een (alias Die Ou Man) as “pres. Zuma” verwys.

Dit verras nie dat Magashule meen daar was niks fout met die VPR se betaling van R79 miljoen aan die Gupta-groepe vir advertensies nie.

Dit is gerieflik dat hy dit nie kan of wil verstaan nie. Want dit lê die vinger op die seerplek van wat met Suid-Afrika onder die ANC-regering skort.

Die Vrystaat se parallelle staat vir die afskepping van room strook met die staatskapingsmodel waaroor die Zondo-kommissie nou getuienis aanhoor.

Naamlik die deurtastende kanker van selftoeëiening van staatsvoordele deur ’n elite-groepie op só ’n wyse dat dit nie so eenvoudig is om hulle aan die pen te laat ry nie weens staatsverlamming, blaam-skuif, die raskaart en gemaakte onkunde.

Die nagevolge blyk met die nasionale vervolgingsgesag se onmag om met die geldwassery met die Estina-projek op die berugte Vrede-melkplaas hond haaraf te maak. Sowat R500 miljoen se verlore geld later wil die VPR nóg hierin belê.

Net om die geheue te verfris. Die nasionale New Age-model, naamlik dat staatsdepartemente hul advertensie-begrotings aan die GCIS, die regering se kommunikasiediens, moet oordra, is in die Vrystaat slaafs nagevolg. Hiér is hul bydrae gesentraliseer in Magashule se premierskantoor, wat R53 miljoen van die New Age-geld bygedra het.

Onthou ook dat die Vrystaat ’n voorloper met die guptafisering van die staat was. Mosebenzi Zwane het as destydse Vrystaatse LUR vir landbou die brief bekragtig wat vir die Guptas landings-regte op dieWaterkloof-lugmagbasis bekom het. As Gupta-minister van minerale bronne is hy deur Ramaphosa uitgeskop.

Die Vrystaat se parallelle staat vir die afskepping van room strook met die staatskapingsmodel waaroor die Zondo-kommissie nou getuienis aanhoor.

En waaroor almal nou so dom is dat hulle nie kan verstaan hoe dit in die ANC kon gebeur het sonder dat enigiemand daarvan geweet het nie.

Gelukkig sê Ace hy wil graag daar gaan getuig. Sodat hy ons alles kan vertel.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Vrystaat  |  Politiek  |  Staatskaping  |  Kommissie  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.