Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ace sal nie die ANC laat skeur
Rapule Tabane

Dit lyk of die ANC inplof, want wat jy ook al van Ace Magashule as mens dink, die pos van sekretaris-generaal wat hy in die ANC beklee, is die belangrikste en invloedrykste in die party.

So, as die sekretaris-generaal van die party geskors word, is dit groot nuus en sal dit heel moontlik ’n uitwerking op ander aktiwiteite in die party hê.

Wat vir meer drama gesorg het, was Magashule se laataandpoging om op sy beurt pres. Cyril Ramaphosa as president van die party te “skors”.

Dit sal ná die naweek se vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) duideliker word wat volgende gaan gebeur, maar ek dink Magashule het met dié brief sy hand oorspeel en ook sy steun in die party oorskat.

Hy was slordig in sy politieke oorlog teen Ramaphosa, wat baie meer openbare steun geniet. Die rede daarvoor is duidelik: Magashule staan tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie en watter skuiwe hy ook al maak, lyk soos ’n poging om aanspreeklikheid te probeer ontduik.

Gaan die party skeur?

Die vraag wat sedert die ANC se ontbanning al duisende kere gevra is, is of die party in die moeilikheid is. Gaan die party skeur?

Ek is nie ’n waarsêer nie, maar ek dink nie dit gaan gebeur nie. ’n Wegbreekgroepie kan dalk hul eie party stig, maar dit sal nie probleme vir die ANC skep nie.

Die rede? Die ANC is die regerende party. Diegene wat in die party bly, kan steeds poste in die regering kry, hetsy op munisipale, provinsiale of nasionale vlak. Deur die beleid van kaderontplooiing word hulle as raadslede, parlementslede, burgemeesters of in die staatsdiens ontplooi.

Daar is dus genoeg aansporing om in die ANC te bly. ANC-lede is ook bekend vir hul lojaliteit teenoor hul leier. Kyk maar hoe sterk is oudpres. Jacob Zuma ondersteun, selfs al was sy swakhede wyd bekend.

Die Magashule-sage sal die party vir ’n rukkie skud en uiteindelik gaan een van die faksies verloor, maar die party self gaan ongeskonde bly.

Die Magashule-sage sal die party vir ’n rukkie skud en uiteindelik gaan een van die faksies verloor, maar die party self gaan ongeskonde bly.

Boonop is die ANC se kiesers – nie net lede nie – so lojaal aan die party soos geen kiesers van enige ander party in die land lojaal is nie.

Terwyl die ANC Suid-Afrikaners vasgenael hou met interne drama, dink ek nie ons moet fokus verloor nie. Die grootste kwessie van ons tyd is Covid-19 en dit is waar ons aandag moet wees.

By die G7-beraad wat in Brittanje gehou word, het CNN die geleentheid gehad om met dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, ’n onderhoud te voer. ’n Kernvraag was waarom die land so agter is met die toediening van entstowwe. Net 0,5% van die bevolking is al ingeënt – 300 000 uit 58 miljoen in die afgelope drie maande.

Dís waar ons aandag moet wees. Wêreldwyd het regerings se hantering van die pandemie die maatstaf geword van hoeveel hulle vir hul burgers omgee.

Ramaphosa is tydens die eerste donker maande van die pandemie geloof vir sy deurlopende kommunikasie en omdat hy ons op die hoogte van sake gehou het. Daarvoor – en vir hoe Ramaphosa se regering en dié van Indië in Oktober verlede jaar aan die voorpunt was om lande te versoek om tydelik van hul intellektuele eiendomsreg op entstowwe afstand te doen – verdien hy lof. Die VSA het dié voorstel intussen gesteun en dit kan daartoe lei dat meer lande die entstof makliker kan vervaardig.

Dié nuus is vir my belangriker as enige paleisrevolusie in die ANC en dit kan Ramaphosa se beeld in die aanloop tot die verkiesing aansienlik versterk.

  • Tabane is politieke redakteur van die City Press.
Meer oor:  Ace Magashule  |  Rapule Tabane  |  President  |  Entstowwe  |  Anc  |  Faksies  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.