Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Adriaan Basson: Gaan Zuma bly of gly?
Adriaan Basson

Met een sweepslag het Zuma in effek sy rug gedraai op die lakeie, lojaliste en lafaards in die ANC wat twee jaar lank moes lieg om hom teen adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), se bevindings te beskerm.

Die geskiedenis sal hulle onthou: Jeff Radebe, Nathi Nhleko, Gwede Mantashe, Baleka Mbete, Mathole Motshekga, Jessie Duarte, Doris Dlakude en Cedric Frolick om maar ’n paar te noem. En dan is daar natuurlik die ganse ANC-afvaardiging in die ad hoc-komitee oor Nkandla wat in ’n boendoehof teen Madonsela ontaard het. Daar is elke ANC-beeldpoetser wat keer op keer gesê het Madonsela se bevindings is níé bindend nie. Dat sy haar magte oorskry. Dat sy die president haat. Dat sy ’n EFF-simpatiseerder is.

Die geskiedenis sal ook vir Tshiamo Tsotetsi, sekretaris-generaal van Cosas, onthou. Tsotetsi se bydrae tot die Nkandla-debat was dat Madonsela ’n “groot, aaklige neus het”.

Hy is later deur die ANC oor die vingers getik, maar dit was die reaksie van mense soos Mantashe en Motshekga wat in die eerste plek ’n omgewing geskep het waarin dit aanvaarbaar is om sulke dinge kwyt te raak.

En nou, twee jaar later, het Zuma in ’n historiese U-draai die magte van die OB bevestig en onderneem om te betaal vir opknappingswerk – wat nie veiligheidsverwant is nie – aan sy Nkandla-woning.

Daar was Dinsdag waarskynlik min mense só verras en geskok soos Nhleko en Motshekga.

Hulle was Zuma se voorlopers in die parlement; die president se bulhonde wat moes verduidelik waarom ’n swembad ’n vuurpoel is en dat Madonsela die land “mislei” het met haar bevindings dat Zuma vir sekere opknappings moet betaal.

Wat sê hulle vir Msholozi as hulle hom by Donderdag se staatsrede sien?

Die mees drastiese gevolg sal wees as die parlement ’n mosie van wantroue teen Zuma instel en hom in ’n staat van beskuldiging (impeachment) plaas.

Zuma se mea culpa via adv. Jeremy Gauntlett voor die konstitusionele hof was ’n berekende politieke risiko wat verreikende gevolge vir sy toekoms kan hê. As die konstitusionele hof, soos verwag word, bevind Zuma het sy grondwetlike pligte verontagsaam, is die volgende scenario's moontlik:

1. Mosie van wantroue 
Die mees drastiese gevolg sal wees as die parlement ’n mosie van wantroue teen Zuma instel en hom in ’n staat van beskuldiging (impeachment) plaas. Daarvoor gaan minstens twee derdes van die LP’s nodig wees.

Dit is onwaarskynlik dat die ANC sy eie president só sal verneder, maar nie onmoontlik nie. Baie LP’s voel gebelg omdat Zuma hulle onder die bus gegooi het en mag dalk tot so ’n drastiese stap oorgaan.

2. Herroep Zuma 
Die ANC kan Zuma herroep as president van die land op sterkte van die konstitusionele hof se uitspraak. Oudpres. Thabo Mbeki is herroep op sterkte van ’n uitspraak deur die hooggeregshof (wat later op appèl omgekeer is) en Julius Malema, EFF-leier, het reeds begin voorbrand maak vir ’n soortgelyke afdanking. Daar is egter nie groot aptyt in die ANC, selfs onder Zuma se teenstanders, vir nóg ’n herroeping nie. Daar word nou openlik gepraat oor die “fout” om Mbeki vroegtydig te herroep. Partylede sien dit as ’n gevaarlike gewoonte as twee agtereenvolgende presidente herroep word en dit die norm word. Daar is ook vrese dat dit Suid-Afrika as “nog ’n mislukte Afrikastaat” kan uitbeeld.

3. Vervang Zuma 
Daar word druk in die ANC gepraat oor die moontlikheid om Zuma voor die einde van sy termyn te vervang, ten minste as president van Suid-Afrika. Cyril Ramaphosa en Nkosazana Dlamini-Zuma se name was tot onlangs die enigste wat genoem is, maar onlangs is oudpres. Kgalema Motlanthe se naam ook weer in die hoed gegooi.
Motlanthe word gesien as ’n versoenende figuur in die ANC wat die land naatloos sal kan lei tot die volgende nasionale verkiesing in 2019. In hierdie scenario sal Zuma waarskynlik oortuig word om die “eerbare” ding te doen en uit te tree. 
In ruil daarvoor kan die ANC instem om hom nie in die openbaar te verneder of te vervolg vir korrupsie nie.

4. “Flou makou” tot 2019 
Selfs al bevind die konstitusionele hof teen Zuma kan die ANC besluit om hom nie te herroep of te vervang nie uit vrees vir ’n loesing by die stembus later vanjaar. Dit sal ’n berekende risiko wees, aangesien die party juis stemme kan verloor weens sy swak leier. 
As die ANC nie noemenswaardige steun verloor in vanjaar se plaaslike verkiesing nie, kan daar dalk besluit word om Zuma in sy pos te hou tot aan die einde van sy termyn (’n nuwe ANC-leier word in Desember 2017 verkies en ’n nuwe president in 2019). 
In hierdie geval kan die ANC al hoe meer regeringspligte en belangrike besluite aan Ramaphosa toevertrou en Zuma se rol verskraal tot ’n simboliese president wat linte knip en babas soen.

Meer oor:  Adriaan Basson  |  Jacob Zuma  |  Cyril Rama­Phosa  |  Nkandla  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.