Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Adriaan Basson: Is dit Zuma se einde?
Adriaan Basson

Teen die einde van hoofregter Mogoeng Mogoeng se verdoemende Nkandla-uitspraak het ek Jim Morrison “this is the end” hoor sing soos in Apocalypse Now.

Maar toe onthou ek dis Jacob Zuma van wie ons hier praat.

Ons teflon-president wat al meer skandale in sy loopbaan oorleef het as wat hy kinders het.

Gaan ’n bevinding deur die hoogste hof in die land dat Zuma die Grondwet, sy ampseed en die land se wette verontagsaam het uiteindelik die laaste strooi wees wat die kameel se rug breek?

Zuma behoort nie die eenparige bevinding van die konstitusionele hof te oorleef nie. Geen president kan met morele gesag regeer as ’n hof bevind het hy het die basiese reëls wat ons samelewing rig verbreek nie.

Maar dit is Zuma van wie ons hier praat. ’n Man wat homself as verhewe bó die reg beskou. ’n Man wat vir jare lank alles in die stryd gewerp het om uit die hof te bly, al het dit demokratiese instellings vermink.

’n Man wat sy grondwetlike pligte om ’n kabinet aan te stel aan ’n familie wat van sy seun ’n miljoenêr gemaak het uitgekontrakteer het.

En daarmee wegkom. Keer op keer.

Waarom? Want almal in die Zuma-ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het “smallanyana skeletons” (klein geraamtes) in die kas, aldus minister Bathabile Dlamini.

Zuma weet wat daai geraamtes is en waar om hulle op te grawe.

Die vraag nou vir Zuma se opponente in die ANC is hoe om van hom ontslae te raak sonder om die geraamtes uit die kas te skud.

Ek kan eerlikwaar nie sien hoe die ANC vir Zuma as president in die parlement sal onttroon deur hom in ’n staat van beskuldiging te plaas nie.

Dis eenvoudig nie die ANC se styl om een van hul eie in die openbaar te verneder of te verkleineer nie (Tony Yengeni is skouerhoogte deur ANC-leiers na die tronk gedra om sy straf vir bedrog uit te dien).

Buitendien het Mogoeng en sy kollegas ook bevind die parlement (lees: ANC-LP’s) het ongrondwetlik opgetree deur adv. Thuli Madonsela se bevindings oor Nkandla te minag. Hulle is dus net so skuldig soos Zuma.

Sonder twyfel sal die EFF en die DA ’n mosie in die parlement bring om Zuma as president te verwyder, maar dit is haas ondenkbaar dat die ANC dit sal ondersteun.

Watter ander opsies is daar vir Gwede Mantashe, Cyril Ramaphosa en Zweli Mkhize om van Zuma ontslae te raak?

’n Groep uMkhonto we Sizwe-veterane onder leiding van oudgenl. Siphiwe Nyanda het onlangs aan die ANC geskryf dat hulle ’n “eerbare uittrede” met Zuma moet onderhandel.

Dit was na aanleiding van die jongste Gupta-skandaal.

Hulle het later hul eis verander om te vra vir ’n spesiale nasionale konferensie om te herbesin oor die ANC-leierskap.

Na verwagting sal Zuma op só konferensie uitgestem word en vervang word met ’n interim ANC-president soos oudpres. Kgalema Motlanthe.

Ná vandag se uitspraak behoort ’n eerbare uittrede ’n baie meer aanloklike aanbod te wees vir Zuma, veral as sy politieke ondersteuning gaan begin taan.

Dit sal ’n massiewe dobbelspel wees vir die ANC om ’n plaaslike verkiesing in te gaan met Zuma as president.

Uitgeslape politici soos Julius Malema (EFF) en Mmusi Maimane (DA) sal eenvoudig aanhaal uit Mogoeng se uitspraak by verkiesingsaamtrekke en alles in hul mag doen om Port Elizabeth, Johannesburg en Pretoria by die stembus te verower.

Gaan Zuma te vinde wees vir uittrede voor die einde van sy ANC-termyn einde 2017? Indien wel sal hy waarskynlik self sy opvolger wil aanwys.

Nkosazana Dlamini-Zuma, sy eksvrou, is Julie terug in die land en wil ANC-president wees. Zuma sal baie meer gemaklik wees met haar as met iemand soos Motlanthe of Ramaphosa, wat hom waarskynlik nie teen vervolging sal beskerm nie.

Hou Morrison se liedjie maar nog vir so rukkie op “pause”. Dis nog nie Zuma se einde nie, maar ons is nader daaraan.

Meer oor:  Adriaan Basson  |  Jacob Zuma  |  Openbare Beskermer  |  Nkandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.