Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Adriaan Basson: Wat wil Zuma hê?

Op die bekendstelling van my boek Zuma Exposed drie jaar gelede, vra die outeur en navorser Antony Altbeker: “Wat wil Zuma hê?”

Dié vraag het my deur pres. Jacob Zuma se stormagtige, verwoestende presidentstermyn bygebly. Ons is nou oor die halfpadkerf.

Elke keer ná die volgende Zuma-skandaal vra ek myself af: Wat wil Zuma hê? Soos Woensdagaand, toe Zuma ons knap en eerste swart African minister van finansies, Nhlanhla Nene, sonder rede afdank.

Ek dink Antony het die vraag gevra om Zuma te probeer verstaan. Waarom doen die president wat hy doen?

Want dit is te maklik (en verkeerd) om te sê Zuma is dom, onnosel of ongeletterd. As daar een ding is wat die president beslis nie is nie, is dit dom.

Ja, ons kan lekker lag as hy sukkel om groot syfers in die parlement uit te spreek, maar Zuma is ’n uitgeslape strateeg wat in sy ses jaar as president suksesvol was om mag in die presidensie te sentraliseer.

Onthou waar dit alles begin het: toe oudpres. Thabo Mbeki in Junie 2005 vir Zuma as adjunkpresident van die land afgedank het op sterkte van regter Hilary Squires se uitspraak dat Schabir Shaik vir Zuma omgekoop het.

Zuma was in sy eer gekrenk en het ’n briljante strategie van slagofferskap geskep: hy was die teiken van Mbeki, die Skerpioene en duistere magte in die media en intelligensie wat hom wou verhoed om president te word.

Tesame hiermee het Zuma die kultuurkaart gespeel: “100% Zuluboy” was ’n gunsteling-t-hemp van Zuma-ondersteuners tydens optogte en nagwake.

Zuma het geweet hy het ondersteuning op voetsoolvlak nodig om Mbeki in Polokwane te klop en het die vakbonde, kommuniste en ANC-jeugliga gekoöpteer as deel van sy veldtog.

Die grootste proponente van die Zuma-as-slagoffer-veldtog was Zwelinzima Vavi en Julius Malema. Vandag is hulle van sy grootste openbare teenstanders en buite die ANC-binnekring.

Zuma was nooit ’n volbloed vakbondman of kommunis nie, en het besef om ná Polokwane polities te oorleef gaan hy ’n nuwe magsbasis moet skep om hom te beskerm.

Daarom was dit nie Vavi of Malema of Blade Nzimande wat verseker het dat Zuma in 2012 in Mangaung herverkies is nie, maar provinsiale ANC-leiers soos Ace Magashule (Vrystaat), David Mabuza (Mpumalanga) en John Block (Noord-Kaap).

Zuma was nooit ’n volbloed vakbondman of kommunis nie, en het besef om ná Polokwane polities te oorleef gaan hy ’n nuwe magsbasis moet skep om hom te beskerm.

Om hulle te vergoed het Zuma hulle in magsposisies aangestel (Magashule was byvoorbeeld jare lank ANC-leier in die Vrystaat, maar Mbeki het geweier om hom as premier aan te stel). Die provinsiale leiers het hul eie koninkryke gebou en beheer gekry oor die provinsiale fiskus (lees: tenders vir vriende).

Wat ál dié provinsiale leiers in gemeen het, is dat hulle direk of indirek betrek word by bewerings van ongerymdhede wat wissel van wanbestuur tot volskaalse korrupsie. Hulle is dus afhanklik van Zuma se gunste om hulself en hul vriende te verryk.

Maar die provinsies was nie genoeg nie: Zuma moes ook beheer kry oor belangrike staatsinstellings om hom te beskerm teen vervolging en om die belange van sy familie en vriende te bevorder.

Soos met die provinsies het Zuma swakkelinge, dikwels gekompromitteerde individue, aangestel in senior poste by instellings soos die polisie, Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), intelligensie, die SAUK en die openbare ondernemings SAL en Eskom.

In die geval van Menzi Simelane, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, het die konstitusionele hof beslis Zuma het nie goed genoeg gedink oor Simelane se geskiktheid nie en ’n onbevoegde persoon aangestel. Beteken dit Zuma is dom? Allermins. Hy het presies geweet wat hy in Simelane gekry het: ’n plooibare liggewig wat dit nie sou durf waag het om die president aan te kla van korrupsie nie.

En wie stel Zuma aan in Simelane se plek? Nomgcobo Jiba, ’n staatsaanklaer met ernstige dissiplinêre klagte teen haar wat getroud is met ’n man met ’n misdaadrekord. Kort voordat sy aangestel is as waarnemende hoof van die NVG het Zuma haar man Booker Nhantsi, ’n prokureur wat trustgeld gesteel het van arm kliënte, se vorige misdaadrekord uitgewis.

Dieselfde het gebeur met Bheki Cele, Zuma se nemesis in KwaZulu-Natal. Ek het al by menige ingeligte bron gehoor dat Zuma ’n dossier oor Cele se beweerde wandade in KwaZulu-Natal gehad het waarmee hy Cele se loopbaan as polisiehoof kortgeknip het. Cele was dalk ’n goeie polisiehoof, maar Zuma kon enige dag besluit om hom te herontplooi.

Daar is nog ander voorbeelde: Hlaudi Motsoeneng by die SAUK, Tina Joemat-Pettersson by energie en meer onlangs Riah Phiyega in die polisie.

Met genoeg steun in die provinsies en swakkelinge aan die stuur van sleutel-staatsinstellings kon Zuma dus gemaklik regeer sonder vrees van inhegtenisneming of politieke opposisie uit ANC-geledere.

Die uitsondering op die reël was nogal altyd die ekonomiese groep, vernaam die tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Onder Zuma was daar grondige vrese dat die goeie werk van oudmin. Trevor Manuel ongedaan gemaak sou word.

Die aanstelling van Pravin Gordhan as minister van finansies het hierdie vrese van beleggers en die private sektor grotendeels besweer oor sy goeie rekord as hoof van die SAID onder Mbeki. Met Lesetja Kganyago en later Lungisa Fuzile as direkteurs-generaal was daar vertroue in hoe die staat sy R1,2 triljoen se belasting in moeilike ekonomiese tye bestee.

In 2008 is die ervare ANC-LP Nhlanhla Nene aangestel as adjunkminister van finansies, eers onder Manuel en toe Gordhan. Daar was toenemende druk op Zuma en die ANC om ’n swart African minister van finansies aan te stel. Veral Malema was uitgesproke daaroor dat nog net wit, bruin en Indiër mense die pos beklee het sedert 1994 (Chris Liebenberg was oudpres. Nelson Mandela se eerste minister van finansies).

Gordhan het glo eers die aand voor die tyd gehoor hy word geskuif na plaaslike regering, maar soos met sy aanstelling was daar rustigheid oor Nene – hy het genoeg ervaring gehad en was duidelik opgewasse vir die taak.

Toe die Independent-koerante Dinsdag berig Nene se kop is op Zuma se blok, was daar grootskeepse ontnugtering en ongeloof. Wat het hy dan verkeerd gedoen?

Om die vraag te beantwoord keer ek terug na Antony Altbeker se vraag aan my: Wat wil Zuma hê?

Ek het dié aand gesê ek reken twee dinge: rykdom vir hom en sy familie en ’n vrypas uit die tronk.

Waarom sal die president Nene afdank in die middel van ’n ekonomiese krisis, ’n paar dae nadat die kredietagentskap Fitch Suid-Afrika se staatskuld afgegradeer het?

In die afwesigheid van ’n verduideliking deur Zuma leen ’n mens jou ore uit aan ingeligte spekulasie: Nene moes gestraf word vir sy weiering om vliegtuie by Airbus te koop, eerder as te huur. Dudu Myeni, SAL-voorsitter, wou die vliegtuie aan ’n anonieme derde party verkoop by wie die SAL dit sou huur.

Tot dusver het Myeni geweier om die derde party se identiteit bekend te maak. Wie is Myeni nou weer? Die voorsitter van die Jacob G Zuma-stigting en volgens die EFF Zuma se “meisie”.

Daar word gesê dat Myeni enorme mag oor Zuma uitoefen en Nene die derde minister is by wie die SAL weggevat word op haar aandrang (Malusi Gigaba en Lynne Brown is die ander twee).

Die ander skinderstorie is dat Nene geweier het om af te teken op die peperduur kernkragkontrak wat Suid-Afrika met Rusland wil sluit. Die kernkragsentrales gaan ons glo R1 triljoen kos – geld wat ons bloot nie het nie. Rusland wil glo die transaksie met ’n ingewikkelde leningskema beklink.

Vir die eerste keer sedert 1994 het ’n onbekende ANC-politikus sonder enige bewese ekonomiese ervaring die fiskus se sleutel. Minister Des van Rooyen is glo weggejaag uit Khutsong toe hy as burgemeester die munisipaliteit by Noordwes wou inlyf.

Iemand wil iets by die tesourie hê wat Nene nie vir hulle wou gee nie. Vóór Van Rooyen in Februarie sy eerste begrotingstoespraak kan lewer, sal ons waarskynlik weet wat dit was.

Meer oor:  Adriaan Basson  |  Jacob Zuma  |  Nhlanhla ­Nene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.