Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Adriaan Basson: Wit mense kan nie langer stilbly oor rassisme
Adriaan Basson

Hoe behoort wit mense te reageer op die verwerplike rassisme van mense soos Penny Sparrow?

Dié afgetrede eiendomsagent van KwaZulu-Natal het ’n rou senuwee raakgeboor toe sy op Facebook swart strandgangers in Durban met ape vergelyk het.

Swart kommentators en kletsers is woedend.

Hoe durf wit mense die versoenende hand van swart mense ná 46 jaar van apartheid weg klap? Is dit nie tyd om rassisme onwettig te verklaar nie? Hoe gaan ons rassiste se besighede doodsmoor, word gevra.

Ek was verbaas oor die massiewe reaksie van swart mense op Sparrow se skrywe; nie omdat dit nie erg beledigend en disrespekvol is nie, maar omdat mense verras was dat daar nog dikvellige rassiste tussen ons woon en werk.

Ek vermoed die meeste wit mense ken ’n oom of tannie of kollega wat nog mildelik die k-woord gebruik of nie die bohaai oor Sparrow se hatige uitlatings verstaan nie.

Dit is die moeiliker gesprek wat ons in 2016 behoort te hê: wat doen ons oor die rassiste in ons midde en oor die rasse-vooroordeel in elkeen van ons?

Ek glo onbeskaamd dat die meeste wit mense, spesifiek Afrikaners, nie rassisties is nie en vrede gemaak het met die feit dat ons nou en vir nog baie jare deur ’n swart meerderheid regeer sal word.

Ek vermoed die meeste wit mense ken ’n oom of tannie of kollega wat nog mildelik die k-woord gebruik.

Duisende wit mense help saam bou aan hierdie land, betaal hul belasting en doen moeite om hul kinders bloot te stel aan diverse omgewings en aktiwiteite, anders as toe ons op skool was onder apartheid.

Die meeste wit mense skree net so hard vir Dane Piedt as vir Morné Morkel as hulle ’n Engelse paaltjie laat kantel.

Skelwoorde het geen plek in hul huise nie en hulle het lankal besef dat gedeelde menslikheid, eerder as velkleur, mense aan mekaar bind.

Hulle verstaan dat ons gemeenskaplike vyande korrupsie, armoede en ongelykheid is en dat ons net kan gedy as ons saam aan oplossings werk.

My ervaring is ongelukkig ook dat hierdie mense dikwels nie betrokke wil raak by debatte of gesprekke oor rassisme nie, veral nie wanneer dit hul vriende, familie of kollegas behels nie.

“Daar is geen punt om met hom te redeneer nie. Hy is nou maar eenmaal rassisties en dis hoe dit is,” word gesê. Dan word die oor maar gedraai as die k-woord val of daar neerhalend na ’n swart politikus of sportman op TV verwys word.

Niemand word rassisties gebore nie. Ons is almal produkte van jare se sosialisering en blootstelling aan mense, literatuur en ervarings.

Sparrow het waarskynlik as kind reeds gehoor hoe daar van swart mense gepraat word as diere. Weens die magtige segregasie van apartheid, wat vandag steeds neerslag vind in hoe ons dorpe en voorstede ontwerp is, is sy waarskynlik nie blootgestel aan swart mense op ’n menslikheidsvlak nie.

Die enigste swart mense met wie sy daagliks in aanraking kom is waarskynlik haar werkers. As ek moet raai, het sy nog nooit ’n openhartige gesprek gehad met ’n swart eiendomsagent oor sy of haar grootwordjare, persoonlike uitdagings of ervarings van rassisme nie.

Die pynlike waarheid is waarskynlik dat baie mense van haar generasie nie wil praat of dink oor wat hul rassisme veroorsaak of waarom sekere volke of rasgroepe aan hulself dink as meerderwaardig nie.

Dit gesê glo ek dat elke mens die vermoë het tot nabetragting en om te verander.

Ek hoor die vakansie ’n storie van ’n wit man van in sy 60’s wat verlede jaar vir die eerste keer ’n openhartige gesprek gehad het met ’n swart kollega oor sy belewenis van apartheid.

Dit het sy ganse lewensuitkyk verander, veral toe hy uitvind hoe die swart man deur die veiligheidspolisie aangerand is en hoe dit vandag steeds sy gesondheid beïnvloed.

Die swart man is nie bitter teenoor wit mense nie en is nét so vies vir pres. Jacob Zuma en die ANC oor die stand van sake in die land.

2016 is die jaar wat wit mense wat glo in ’n toekoms vir Suid-Afrika nie langer kan stilbly nie. Anders gaan rassiste soos Penny Sparrow namens jou praat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.