SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Menings
Adv. Batohi sal haar draaie gewis moet ken

Twee nuusberigte vandeesweek hou met mekaar verband – die aanstelling van adv. Shamila Batohi as hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die terugtrek van die aanklagte in die NVG-ondersoek na die omstrede Estina-suiwelprojek van R250 miljoen.

Gert Coetzee

Met as punt dat Batohi se taak insluit om die kultuur van die NVG geswaai te kry.

As die eerste vrouehoof van die NVG, ’n aanstelling wat sy as ’n geskiedkundige oomblik vir vroue bestempel, lyk die vurige, bekwame Batohi soos ’n regrukker.

Haar aanstelling is hoeka daarop gerig om die “stand van wanfunksionaliteit en die gebreke in die NVG wat die hof uitgewys het” teen te werk, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Ten tyde van staatskaping, waarvan die Vrede-melkprojek ’n uitloper is, het die NVG van die kop af in ruggraatloosheid verval.

Dit moes toegewyde NVG-lede rasend gefrustreer het om hul werk in dié verlammende konteks te probeer uitvoer.

Net soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), die Staatsveiligheidsagentskap, die Valke en andere is die NVG met voorbedagte rade ingekatrol om oudpres. Jacob Zuma en sy konsentriese binnekring van hoeders se sonde te bedek en te vergoeilik en vegters vir reg en geregtigheid verdag te maak.

Onstabiliteit in die NVG kom al van die dae van die wapenbedrog, waar ons weet wie se naam as Skelm Een begin opduik het.

Dit is ingelui met die aanslag op adv. Bulelani Ngcuka in die 1990’s en adv. Vusi Pikoli, sy opvolger. Ná hulle het advv. Mokotedi Mpshe, Menzi Simelane, Nomgcobo Jiba (waarnemend) en Mxolisi Nxasana, wat almal vir dieselfde rede aangestel is, geen vertroue ingeboesem nie.

Gee Ramaphosa krediet dat hy ook met Batohi se aanstelling raakvat.

Die treurmare het ondersoeke, hofbevele en ’n goue handdruk ingesluit.

Die NVG se ware missie is vertroebel en sy geloofwaardigheid aangetas.

’n Fundamentele verskil tussen ’n demokrasie en ’n totalitêre diktatuur is dat in eersgenoemde die regsapparaat hul werk onafhanklik en los van die wetgewende en die uitvoerende gesag uitvoer.

Hierteenoor is totalitêre diktature ideologies deurdrenk en die regsapparaat gedienstig.

Amptenare se besluite berus op ’n vermenging van die reg, partypolitieke oorwegings en ideologiese oortuiging.

So het Mpshe korrupsieklagte teen Zuma vertraag tot ná die ANC se Polokwane-konferensie in 2007.

Toe Zuma ANC-leier en later staatshoof word, was hy onaantasbaar.

En die ANC-regering het die regbank deur (minder) subtiele pogings probeer rysmier om Zuma van vervolging gevrywaar te kry.

Die ANC se chroniese gesukkel om tussen staat en party te onderskei het akuut geword. Dit verg immers ondergeskiktheid aan die regbank en nie regsverhewendheid nie.

Voorlopers, soos Gwede Mantashe (wat nou voor die Zondo-kommissie staatskaping onthul het!), dr. Blade Nzimande en Jessie Duarte het toe laat deurskemer die ANC beskou die regsgesag as ’n lastigheid wat die party se selfverheerlikte strewes in die wiele ry.

Die geveg om Zuma te lig was ook ’n sege vir die regbank, maar die stryd is onvoldaan. Een van sy stuiptrekkings was die aanstelling van adv. Shaun Abrahams as NVG-hoof.

Abrahams het beloof hy is nie ’n politieke beskermheer nie en gáán die NVG, waarvan die onafhanklikheid en onberispelike werking vanselfsprekend is, regruk. Skynheilige laaste woorde.

Gee Ramaphosa krediet dat hy ook met Batohi se aanstelling raakvat.

  • Die nuwe NVG-hoof gaan haar hande vol hê om die bose kringloop – met mislukte ondersoeke as ’n simptoom – stop te sit en die staat teruggekaap te kry.
Meer oor:  Nvg  |  Shamila Batohi  |  Cyril Ramaphosa  |  Aanstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.