Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Affies vanuit die staanspoor trots Afrikaans
Fransjohan Pretorius

Dit is gepas om aandag te gee aan die ontstaansgeskiedenis van die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, wat vanjaar 100 jaar oud is – en uit die staanspoor Afrikaans.

’n Skool ontstaan omdat daar in die betrokke gemeenskap ’n behoefte daaraan is. So was dit met die Afrikaanse Hogere Skool in Pretoria in 1920. Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het in sy nasleep onvoorstelbare verwoesting en armoede in die Transvaal gebring. Deels as gevolg daarvan was daar ’n verstedeliking wat die behoefte aan onderwysgeriewe vergroot het.

Hoewel die Afrikaner vanweë sy getalle polities in beheer was, moes hy ekonomies en kultureel die knie voor Britse meerderwaardigheid buig. Vir geslagte sou hy die armblanke wees. Kultureel kon hy nie die mas opkom teen ’n eeue oue Britse kultuur nie, veral omdat hy nie Nederlands magtig was nie en Afrikaans se letterkunde gering.

Afrikaners moes ervaar hoe Engelssprekendes en pro-Nederlandse Afrikaners die “kombuistaal” verag het.

Die Vrede van Vereeniging in 1902 en lord Milner se verengelsingsbeleid het verseker dat die voertaal in die skole Engels was. Kinders wat in die klas Afrikaans gepraat het, is eenvoudig verneder.

Die Tweede Taalbeweging teen 1905, met poësie soos Eugène Marais se “Winternag”, het bewys dat Afrikaans as literêre taal lewensvatbaar was, maar Afrikaners moes ervaar hoe Engelssprekendes en pro-Nederlandse Afrikaners die “kombuistaal” verag het.

’n Bitter geveg aan twee fronte.

Gustav Preller en andere het in 1905 die Afrikaanse Taalgenootskap in Pretoria gestig om Afrikaners te oortuig om hul taal te praat, te skryf en ’n Afrikaanse nasionale gevoel te ontwikkel. Die meerderheid lede van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, gestig in 1909, sou uiteindelik Afrikaans bo Nederlands kies.

Met Uniewording in 1910 was die amptelike tale Engels en Nederlands. Twee jaar later het die “Vereniging van Onderwijzers en Onderwijzeressen in Zuid-Afrika” aangedui dat Afrikaans as onderrigtaal ingevoer behoort te word. Die stigting van die Nasionale Party in 1914 en die Eerste Wêreldoorlog en die gevolglike Afrikaner-rebellie van 1914-’15 het ’n Engelse administrasie negatief teenoor Afrikaners en Afrikaans ingestel.

Onder dié omstandighede het die provinsiale raadslid Bernie Hattingh met ’n werkkomitee die inisiatief geneem om ’n Afrikaanse hoërskool in Pretoria te stig.

Onder dié omstandighede het die provinsiale raadslid Bernie Hattingh met ’n werkkomitee die inisiatief geneem om ’n Afrikaanse hoërskool in Pretoria te stig. Alfred Robertson, die Transvaalse administrateur, het verrassend gunstig gereageer. Ds. Chris Neethling en Jan Joubert, seun van kmdt.genl. Piet Joubert, het die saak met geesdriftige ouers verder gedryf.

Einde 1919 het die uitvoerende komitee van die provinsiale raad sy goedkeuring verleen. Op 28 Januarie 1920 het die Afrikaanse Hogere Skool in Piet Joubert se huis in Visagiestraat begin, met 45 seuns en meisies – 35 in vorm II (gr. 9) en tien in vorm III. Sedert April 1920 was Frank le Roux die eerste permanente hoof.

In 1925 is Afrikaans as amptelike taal erken. Vyf jaar later het die Afrikaanse Hoërskool vanweë sy groei die huidige geboue betrek as die afsonderlike Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria en die Afrikaanse Hoër Seunskool.

  • Prof. Pretorius is ’n geskiedkundige van Pretoria.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.