Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afganistan as enigma
’n Chinook-helikopter van die Amerikaanse weermag Sondag reg bokant die Amerikaanse ambassade in Kaboel, hoofstad van Afganistan. Dit is gebruik om diplomatieke personeel uit die land te verwyder te midde van die Taliban se oorname van die land. Foto: AP

In die Amerikaanse politiek – en trouens wêreldwyd – is daar één vraag wat tans bo alle ander uittroon: Wie het Afganistan verloor? En hoe kon dit gebeur? Leopold Scholtz waag ’n voorlopige antwoord.

Op 30 April 1975 het die wêreld op televisie ’n ongelooflike gesig gesien: ’n Amerikaanse helikopter op die dak van die land se ambassade in Saigon, Suid-Viëtnam, met draaiende lemme en ambassadelede wat met trappe na die dak opskarrel om per helikopter na veiligheid gebring te word. Dit was een van die grootste internasionale vernederings tot dusver vir dié supermoondheid.

Dié vernedering is op Sondag 15 Augustus 2021 herhaal. Op televisie kon gesien word hoe Amerikaanse helikopters in die ambassadeterrein in Kaboel (weliswaar nie op die dak nie) land om die personeel na veiligheid te bring.

Sonder enige twyfel is dit die grootste ramp vir die Amerikaanse internasionale prestige in 46 jaar. Dit sal op pres. Joe Biden se brood gesmeer word. Die ineenstorting het immers gevolg op sy aankondiging dat hy alle Amerikaanse troepe teen 11 September – die 20ste herdenking van die groot terreuraanvalle op New York en Washington – wil onttrek.

Eintlik het die Afgaanse oorlog al in Desember 1979 begin toe die destydse Sowjetunie die land binnegeval het om ’n bondgenoot in die saal te hou. Dit het tot ’n uitgebreide guerrillaoorlog gelei waarin die Taliban – ’n fanatieke, fundamentalistiese Islamitiese groepering – die Sowjets in Februarie 1989 tot ’n vernederende aftog gedwing het.

In die dekade daarna het die Taliban ’n skrikbewind in die land gevoer. Alles was onderhewig aan húl letterlike vertolking van die Koran: Vroue was laer as vuilgoed, afwykende denke was verraad teen Allah.

En wat uit ’n Westerse oogpunt nog erger was, is dat die terreurgroep Al-Kaïda toegelaat is om die land as afspringplek vir die groot terreuraanval van 11 September 2001 in New York en Washington te gebruik.

Die man in die Withuis destyds, pres. George W. Bush, het hárd teruggeslaan. Afganistan is in ’n blitsveldtog ingeneem en die Taliban en Al-Kaïda is verjaag.

Verspeelde kans

Maar, as ’n mens wil gaan soek na wie Afganistan nóú verloor het, is hiér waarskynlik die eerste aanduiding. Bush het wat die Amerikaners noem ’n “window of opportunity” gehad van sowat ses maande om vrede en stabiliteit na Afganistan te bring en aan die Afgane te wys dat die Taliban nie hul beste opsie was nie.

Helaas, Bush (en veral sy uiters arrogante minister van verdediging, Donald Rumsfeld) het beter geweet. Hulle het Afganistan slegs as ’n voorwendsel gebruik om by hul éintlike doel uit te kom – die Irakse diktator Saddam Hoesein.

In Februarie 2002 het genl. Colin Powell, minister van buitelandse sake, ’n groot internasionale mag voorgestel om die Taliban se koppe laag te hou en die land op groot skaal op te bou. Dis onmiddellik deur Rumsfeld gekeer.

En dus was die Amerikaanse militêre en burgerlike aanwesigheid in Afganistan lig. Van die win van mense se hart, kop en gemoed was daar nie veel sprake nie, met die gevolg dat die Taliban binne enkele maande stadig maar seker weer hul opwagting begin maak het.

Daarmee was die – agterna gesien, enigste – kans om die oorlog te wen daarmee heen. In die jare hierna het die Taliban stadig, millimeter vir millimeter, veld gewen, ondanks die feit dat die Amerikaanse militêre krag weer versterk is. Tot Biden se aankondiging dat hy wil padgee. Toe het sake rasendsnel ontwikkel.

En soos ’n mens die spesie politikus ken, het die politieke establishment in Washington aan alle kante reeds met ’n heksejag begin om die vinger na mekaar te wys.

Oudpres. Donald Trump en die Republikeine het hul groot vyand, Biden, fel aangeval. Biden en die Demokrate het daarop gewys dat een van Trump se grootste verkiesingsbeloftes sy land se onttrekking aan Afganistan was.

Biden se woorde in sy aankondiging was: “Ek was die vierde president wat aan die hoof gestaan het van ’n Amerikaanse troepeteenwoordigheid in Afganistan – twee Republikeine, twee Demokrate. Ek wou nie, en sal nie, dié oorlog aan ’n vyfde deurgee nie.”

Geen oorwinning

Los van die maniér waarop dit gedoen is, is dit moeilik om fout met Biden se logika te vind. Die Amerikaanse betrokkenheid by die oorlog in Afganistan het naamlik op 11 September 2001 begin en dit duur steeds voort sonder enige vooruitsig op ’n oorwinning.

In dié 20 jaar se gevegte het Amerika 2 448 soldate en 3 864 burgerlike werknemers aan die dood afgestaan. Amerikaanse bondgenote in Navo, wat ook in beperkte mate deelgeneem het, het 1 144 soldate verloor, by die Afgaanse weermag en polisie het sowat 66 000 gesneuwel, soos ook meer as 47 000 Afgaanse burgerlikes, 444 burgerlike hulpverleners en 72 joernaliste.

Om die Taliban se verliese te bepaal is moeilik, maar volgens skatting moet dit meer as 50 000 wees.

Die finansiële koste is ongelooflik. Amerika het $2 000 miljard bestee, waarvan $83 miljard slegs om die Afgaanse weermag toe te rus en op te lei – net om te sien hoe dié soldate hul wapens wegsmyt en paniekbevange vlug.

Amerikaanse diplomatieke personeel klim in ’n Bell Model 204B-helikopter wat op die dak van die ambassade in Saigon, destydse hoofstad van Suid-Viëtnam, geland het. Foto: Wikipedia

Hoe gaan sake nou verloop met die Taliban opnuut aan die bewind?

Taliban-woordvoerders het Sondag laat weet dat hulle nie wraak gaan neem op diegene wat teen hulle geveg het nie, dat vroueregte (onderhewig aan die sjaria, die Islamitiese reg) gerespekteer sal word en dat hulle met die internasionale gemeenskap wil saamwerk om stabiliteit in die land teweeg te bring.

Dit klink goed. En dis waar dat die Taliban nie as ’n enkele, hegte en soliede groep beskou kan word nie – die beweging is in talle opsigte ’n weerspieëling van die Afgaanse kultuur en samelewing, wat gekenmerk word deur wedywering tussen familiegroepe, stamme en geografiese gebiede.

Maar op dié een punt stem hulle almal saam: Almal vertolk die Koran op dieselfde ongenaakbare wyse.

As ’n mens die tydperk waarin die Taliban die land regeer het (1989 – 2001) as uitgangspunt neem, moet jy daar weliswaar nie veel verwag nie. Polities en teologies afwykende denke sal wreed aangepak word en vroue sal géén noemenswaardige regte (soos onderwys of beroepsbeoefening) hê nie.

’n Woordvoerder het toegegee dat strawwe soos die amputasie van ledemate en steniging weer moontlik sal wees.

Dag van vernedering

Vanuit ’n Westerse oogpunt is die belangrikste vraag egter of die Taliban opnuut, soos destyds, gevaarlike Islamitiese terreurbewegings in die land gaan toelaat.

Enersyds kan dit betwyfel word. Dit was immers die rede vir die Amerikaanse inval van 2001 en dalk kan ’n mens aanneem dat die Taliban dié les geleer het.

Maar met fanatici, veral religieuse fanatici, weet jy nooit. Hou maar minstens rékening met hernieude terreuraanslae in Amerika en Europa.

Intussen is daar nóg ’n slagoffer. Sy naam is Joe Biden.

Nog in Julie het peilings gewys dat sowat 70% van die Amerikaners (dit sluit selfs 56% van die Republikeine in) gestaan het agter Biden se aankondiging om uit Afganistan pad te gee. Maar die vernederende wyse waarop dinge die afgelope week ontwikkel het, maak daardie peiling moontlik irrelevant.

In The Observer skryf die vermaarde ontleder Simon Tisdall Sondag: “Opponente sal vra: Wie het Afganistan ‘verloor’, Joe? Dis nie redelik nie, maar dit sal Biden se nederlaag wees. Hy sal dit besit. Dit kan by hom kom spook.”

En in die Duitse koerant Die Welt noem Daniel Friedrich Sturm Biden se aanname dat die Taliban nié die land sou inneem nie “fundamenteel verkeerd, skokkend naïef”.

Wat ook al die geval, Sondag 15 Augustus 2021 sal in die annale van die Amerikaanse geskiedenis langs 30 April 1975 opgeteken staan as ’n dag van vernedering.

Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en historikus wat in Nederland woon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.