Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afganistan dalk nog ’n Viëtnam vir Amerika

Amerika verloor die oorlog in Afganistan. Dít is die onvermydelike gevolgtrekking uit die publikasie vandeesweek van enkele duisende dokumente wat The Washington Post in die hande gekry het.

Soos heelparty ander weermagte het dié van Amerika die gewoonte om sy optrede in militêre operasies agterna onder die mikroskoop te plaas om lesse te leer. Die meer as 600 onderhoude wat gevoer is met offisiere en amptenare – almal het met die oorlog te make gehad – vorm die inhoud van die dokumente.

Dit blyk dat Amerika die oorlog reg van die eerste dag verkeerd aangepak het. Agtereenvolgende administrasies – van dié van George W. Bush en Barack Obama tot by Donald Trump – het almal flagrant gelieg oor die “vordering” wat gemaak word, terwyl dinge in der waarheid die kreeftegang gegaan het.

Die oorlog het in 2001 begin toe Amerika wraak vir 9/11 gesoek het. Die verantwoordelikes in Al-Kaïda is deur die Taliban-regering in Afganistan ge­herberg, en dié moes dus ’n les geleer word. Maar Bush en Donald Rumsfeld, sy minister van verdediging, het ernstige foute begaan. Ten eerste het hulle niks van Afganistan geweet nie, en ook nie belang gestel om iets te weet nie. Tweedens het hulle gemeen die Taliban kan net met spesmagte, lugaanvalle en die Taliban se plaaslike teenstanders verjaag word.

Daarna het die fokus na Irak verskuif, waar Saddam Hoesein verkeerdelik van betrokkenheid by 9/11 verdink is. Die inval in Irak was ’n groot operasionele sukses, maar ’n strategiese ramp. Amerika is ingesuig in ’n uitsiglose guerrillaoorlog wat steeds voortduur, al is die troepe intussen onttrek.

Dit blyk dat Amerika die oorlog in Afganistan reg van die eerste dag verkeerd aangepak het.

Die oorlog in Afganistan is intussen pap aangepak, iets waarvan die Taliban dankbaar gebruik gemaak het. Bowendien was die regering wat die Amerikaners in Kaboel neergesit het, fundamenteel ondoeltreffend en korrup, wat die Taliban se taak ook vergemaklik.

Die gevolg is dat die oorlog, duisende miljarde dollars en byna 4 000 gesneuwelde Amerikaners later, steeds sonder vooruitsig op ’n oorwinning voortduur.

Geen wonder nie dat Trump bereid is om die vernedering van ’n Taliban-oorwinning te aanvaar om die soldate huis toe te bring.

In 1975 het Amerika se internasionale pres­tige ’n yslike knou gekry toe hy stert tussen die bene uit Viëtnam moes padgee. Dié beeld is bepaal deur die laaste helikopter wat bo die Amerikaanse ambassade in Saigon hang. As ’n mens so kyk na die dokumente wat vandeesweek gepubliseer is, is ’n herhaling van dié geskiedenis in Kaboel glad nie vergesog nie.

Trump is nie verantwoordelik vir die mislukking nie; hy het die gebakte pere geërf. Hy het inderdaad geen ander keuse as om met die Taliban te begin onderhandel nie. Anders sien ons weer ’n foto van ’n laaste helikopter bo die Amerikaanse ambassade in Kaboel.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Viëtnam  |  Amerika  |  Afganistan  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.