Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afjak vir nie-rassigheid
EFF-leier Julius Malema spreek in Februarie vanjaar ’n saamtrek in Soshanguve toe. Foto: Felix Dlangamandla

Dit was ’n eer om die 25ste staatsrede in ’n vrye en demokratiese Suid-Afrika te kan lewer, het pres. Cyril Ramaphosa in Februarie in sy staatsrede gesê.

Sodoende het hy die aandag gevestig op April 1994 toe apartheid beëindig is. Nou, 25 jaar later, sou Suid-Afrikaners “as ’n diverse en verenigde nasie” geleentheid kry om “een van die beste menslike prestasies” te kon vier.

“Ons sal dié tyd gebruik om onsself te herinner aan die swaarkry en lyding wat generasies van ons mense moes verduur,” het hy gesê. Dié het hy geloof vir “hul stryd, opofferings en onuitwisbare verbintenis tot ’n Suid-Afrika vir almal”.

Wat goed in hierdie toespraak sou pas – as Ramaphosa by historici sou kers opsteek – sou ’n verwysing wees na ’n ander geskiedkundige politieke gebeurtenis 110 jaar gelede toe ’n afvaardiging van nege plaaslike politieke figure in Julie 1909 ’n boot na Londen gehaal het. Onder hulle was dr. Abdullah Abdurahman, president van die African People’s Organisation, en dr. Walter Rubusana, stigterslid van die ANC.

Hierdie inisiatief het plaasgevind in die nadraai van die beëindiging van die Anglo-Boereoorlog in 1902, het gevolg op die 1908-verkiesing en het plaasgevind in die aanloop tot die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910.

Kortom, hulle het steun by Haar Majesteit se regering vir ’n volwaardige nie-rassige bestel gaan soek.

Die nege mans se versoek was eenvoudig: Die nuwe Suid-Afrika-wet moes gekeer word omdat dit polities voorkeur sou gee aan Afrikaners en Engelse ten koste van bruin en swart se politieke regte as deel van die Britse Ryk. Kortom, hulle het steun by Haar Majesteit se regering vir ’n volwaardige nie-rassige bestel gaan soek.

Terugskouend mag dit dalk vreemd opval dat William (WP) Schreiner, die (wit) voormalige premier van die Kaapkolonie en broer van die befaamde skrywer Olive Schreiner, aan die hoof van die afvaardiging gestaan het.

Maar hierdie skynbare “teenstrydigheid” vervaag as jy in ag neem dat dit uit die staanspoor bedoel was om ’n nie-rassige projek te wees, soos wat die titel van Martin Plaut se boek bevestig: Promise and Despair – The First Struggle for a Non-Racial South Africa.

“Hierdie was ’n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika,” skryf dr. Richard van der Ross later in sy boek In Our Own Skins oor die politieke geskiedenis van bruin mense. “Maar ongelukkig is die belangrikheid daarvan verskillend geag deur die twee hoofpartye [die SA afvaardiging en die Britse parlement].”

Wat die swaarste moes weeg, was ook die groot vraag op die vroeëre Suid-Afrikaanse Nasionale Konvensie: Die verhouding tussen die Engelse en die Afrikaners, of die verhouding tussen swart en wit?

Wat hy sekerlik nie hiermee bedoel het nie, is die “besinning” wat Julius Malema die naweek ten toon gestel het toe hy aan swart kiesers gesê het wit mense se honde eet beter as hulle.

Ná weke se besprekings hieroor op die konvensie is tot die gevolgtrekking gekom dat dit onmoontlik was om albei probleme terselfdertyd die hoof te bied, word genl. Jan Smuts deur Plaut uit die Manchester Guardian aangehaal.

“Ons het die een probleem opgelos,” het Smuts aan die koerant gesê, “en laat die ander oor aan die groter en wyser Suid-Afrika van die toekoms, wat hierdie vraag baie beter sal kan hanteer as wat ons selfs sou kon hoop om te doen.”

Heindrich Wyngaard

Nagenoeg 80 jaar sou verloop – met 40 jaar se apartheidsregering tussenin – voordat Smuts se toekomswens verwesenlik is met die veelparty-onderhandelings op die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa), wat tot April 1994 se eerste demokratiese, nie-rassige verkiesings gelei het.

Nou, 25 jaar later, moet Suid-Afrikaners hulself afvra of die belofte van die geboorte van ’n nuwe nasie verwesenlik is, het Ramaphosa ook in Februarie gesê, én of ons sedertdien ’n samelewing gebou het waarin alle Suid-Afrikaners in dieselfde mate en sonder uitsondering hul onvervreembare regte tot lewe, waardigheid en vryheid geniet?

In die besonder moet daar besin word, aldus Ramaphosa, oor in watter mate die ongeregtighede van die verlede mense se lewe vandag definieer. Wat hy sekerlik nie hiermee bedoel het nie, is die “besinning” wat Julius Malema die naweek ten toon gestel het toe hy aan swart kiesers gesê het wit mense se honde eet beter as hulle.

Dié soort rasse-opstokery is ’n afjak vir die nie-rassigheidstrewe van sowel die politieke pioniers van 1909 as dié van 1994, wat ook die weg vir hóm gebaan het.

Wyngaard is ’n televisie-aanbieder en kommentator oor aktuele sake.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Rassehaat  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.