Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
AfriForum doen ons ’n onguns aan
Prof. Amanda Gouws, dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.Foto: Argief

Verlede week het akademici ’n versoekskrif begin om prof. Elmien du Plessis van die Noordwes-Universiteit se akademiese vryheid en vryheid van spraak te ondersteun nadat AfriForum haar gedreig het en Ernst Roets onder meer die volgende oor intellek­tuele en akademici te sê gehad het:

“If one day the situation were re­versed and the fate of the vanquished lay in my hands, then I would let all the ordinary folk go and even some of the leaders, who might perhaps after all ­have had honourable intentions, and not known what they were doing.

“But I would have all the intellectuals strung up, and the professors three feet higher than the rest; they would be left hanging from the lamp posts for as long as was compatible with hygiene.”

Dié van ons wat die petisie onderteken het, beskou dit as ’n aanval op almal wat openbare intellektuele en akademici is.

My doel is om AfriForum se knaende aanvalle op joernaliste en akademici wat nie met hul standpunte saamstem nie, onder die loep te neem.

Ek wil nie hier skryf oor die statistieke van plaasmoorde nie, want ek dink Du Plessis het dit duidelik gemaak dat daar meer as een manier is om daarna te kyk. My doel is om AfriForum se knaende aanvalle op joernaliste en akademici wat nie met hul standpunte saamstem nie, onder die loep te neem.

Een van die klippe in AfriForum se skoen is Max du Preez. Du Preez is al ’n rassistiese kommentator genoem wat AfriForum aanval sodat hy homself na links kan posisioneer.

Op 28 September 2017 vra Kallie Kriel die volgende op Netwerk24: “Hoekom is daar ’n klein groep Afrikaanse kommentators en joernaliste soos Max du Preez wat onder die mees onverdraagsame deelnemers aan openbare debat is?” Kriel beskou Du Preez as rassisties omdat hy (Du Preez) nie Kriel se argumente ondersteun nie.

Dit gaan veral oor hoe AfriForum homself posisioneer om die belange van Afrikaners, en spesifiek plattelandse Afrikaners, te beskerm. Enige intellektueel wat nie met AfriForum se interpretasie saamstem nie, is per definisie ’n rassis en ’n Afrikaner-verraaier.

Sy vete met Christi van der Westhuizen wat oor wit bevoorregting skryf, is nog ’n voorbeeld van sodanige onverdraagsaamheid.

Om plaasmoorde en volksmoord gelyk te stel is nie eerlik van Kriel nie en daarmee dra hy, Roets en AfriForum by tot verdere rassepolarisasie.

Ek kan Kriel verseker dat Du Preez nie AfriForum nodig het om homself na links te posisioneer nie. Hy was nog altyd progressief en daarvoor is hy knaend deur die apartheidsregime vervolg. Du Preez het onlangs ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch vir sy bydrae tot Suid-Afrika se bevryding ontvang. Ek neem aan almal van ons wat die toekenning ondersteun het, is rassiste.

Om met AfriForum te verskil beteken nie dat ons as akademici en kommentators nie glo dat plaasmoorde ’n werklikheid is nie. Ons glo dat ’n oplossing vir die grondkwessie dringend gekry moet word, waarin die belange van alle aandeelhouers in ag geneem word.

Om plaasmoorde en volksmoord gelyk te stel is nie eerlik van Kriel nie en daarmee dra hy, Roets en AfriForum by tot verdere rassepolarisasie.

Vir Roets om homself gelyk te stel aan ’n oorlewende van die Joodse volksmoord is in sulke swak smaak dat dit my walg. Vir Kriel om te sê dat apartheid nie ’n onreg teen die mensdom was nie, is ’n ontkenning van die ergste graad.

AfriForum leef in ’n wêreld waarin almal dieselfde dink en dieselfde vrese het wat slegs deur verset teen grondeise opgelos kan word, en sodoende verwerp hy die werk van intellektuele.

As ’n Afrikaner-akademikus wat debat en die soeke na gesamentlike oplossings voorstaan, verwerp ek AfriForum se haatspraak teen intellektuele en akademici met die minagting wat dit verdien.

  • Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Plaasmoorde  |  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.