Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
AfriForum gaan sukkel om regse beeld af te skud

Baie mense meen AfriForum het met sy private vervolgingseenheid nóg ’n alternatiewe staatsinstelling geskep waarmee hy die legitimiteit van die staat wil ondermyn, skryf Gert van der Westhuizen.

Gert van der Westhuizen

Pogings om alternatiewe staatsinstellings, óf selfs ’n alternatiewe staat, in Suid-Afrika te skep, is niks nuuts nie.

Teen die einde van die apartheidsera is verskeie selfverdedigingseenhede in townships geskep omdat die inwoners onder meer geglo het hulle kan nie op die beskerming van die polisie teen politieke geweld staatmaak nie.

Boendoehowe was ook aan die orde van die dag waar inwoners self mense verhoor wat volgens hulle teen die belange van die gemeenskap opgetree het.

In sommige gevalle is sulke oortreders selfs tereggestel.

In die tydperk van onsekerheid en wydverspreide vrees wat die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika voorafgegaan het, het regses ook probeer om hul eie instellings as alternatief vir dié van die staat op die been te bring.

Private leërs was byvoorbeeld volop en planne is onder meer beraam vir eie verkiesings en wat volkseie onderwys genoem is. In sommige regse kringe is gesê hulle sal hulself in ’n volkstaat “in regeer”.

Regse oorgangsowerheid

In Januarie 1994 is ’n regse oorgangsowerheid gestig. Dr. Ferdi Hartzenberg, destyds leier van die Konserwatiewe Party, is as die “president” aangewys en Eugène Terre’Blanche, tóé die leier van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB), as “minister van verdediging”.

Dié “oorgangskabinet” moes as teenvoeter dien vir die Uitvoerende Oorgangsraad wat nie deur die regses erken is nie. “Dit is eerder ’n owerheid wat moet omsien na die belange van die Afrikanervolk en besluite oor dié volk se toekoms sal neem,” is die doel daarvan deur dr. Lem Theron, destydse hoofsekretaris van die KP, verduidelik.

Die lede van dié “kabinet” het hulself tot ’n “vryheidstryd” verbind en sy doel was om die “Afrikaner by die stryd te betrek”.

Kallie Kriel kondig verlede week aan dat adv. Gerrie Nel vir AfriForum gaan werk. Foto: Deaan Vivier

Sulke planne kon nie uitgevoer word nie omdat onderlinge verdeeldheid die regses verlam het en die geskiedenis hulle as’t ware ingehaal en verbygesteek het.

Dit was egter vir hulle, én die selfverdedigingseenhede en boendoehowe, maklik om alternatiewe staatsinstellings te stig omdat hulle níé die regering en owerhede van hul tyd erken het nie.

Hulle wou die legitimiteit van die staat ondermyn. Die ondermyning van die staat en die skep van alternatiewe instellings was immers ’n belangrike kenmerk van vryheidstryde en revolusionêre oorlogvoering in ons tyd, soos die terreurgroep Isis inderdaad deesdae in sy stryd teen byvoorbeeld die regering in Sirië weer bewys.

Die situasie in die moderne Suid-Afrika verskil natuurlik hemelsbreed van dié in Sirië en die “ou Suid-Afrika”.

Die Suid-Afrikaanse regering is legitiem, hoewel hy met sy onbeholpenheid, aangehelp deur swak administrasie en korrupsie, verskeie gapings skep wat maar al te gretig deur AfriForum gevul word.

Agterdog oor AfriForum

Die probleme in die nasionale vervolgingsgesag wat tot AfriForum se jongste inisiatief aanleiding gegee het, is maar net een voorbeeld.

Dié organisasie het hom ook al onder meer bemoei met dienslewering op veral die platteland en met gemeenskapspolisiëring.

Ongelukkig vir AfriForum sal sy alternatiewe instellings of ingryping op gebiede waar die regering te kort skiet, hoe goed bedoel dit ook al is, altyd deur die grootste deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap met agterdog bejeën word omdat hy die belange van net een etniese groep dien.

AfriForum word voorts in die Suid-Afrikaanse opset as regs beskou. Hoewel heelwat meer gesofistikeerd as die regses van die apartheidsjare wat betref sy organisasievermoë en mobilisering van veral Afrikaners, word AfriForum ook in sekere opsigte bloot beskou as ’n opvolger van vroeëre regse organisasies.

Die stigting van sy eie vervolgingseenheid kan ook vrae oor AfriForum se ware oogmerke laat ontstaan.

Dit is ’n beeld wat AfriForum sal sukkel om af te skud totdat hy kan bewys dat hy deurentyd die belange van alle landsburgers wíl bevorder.

Die stigting van sy eie vervolgingseenheid kan ook vrae oor AfriForum se ware oogmerke laat ontstaan. Wat is volgende? Skuil daar iets sinister agter al sy pogings om ’n alternatief vir die regering te probeer bied, is al gevra.

Probeer hy homself in sy eie staat “in regeer” soos die veel meer amateuragtige organisasies van die jare 90 deur die legitimiteit van die regering te ondermyn? Is hy nie besig met iets wat in ’n gevaarlike speletjie kan ontaard nie?

Daar wag baie harde werk op AfriForum as hy die teendeel wil bewys.

* Gert van der Westhuizen is ’n artikelskrywer by Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.