Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrika kan in 2021 sy negatiewe beeld afskud

Afrika, die kontinent van armoede, siekte en onbeholpe regerings, tree in dié stadium relatief goed uit die stryd.’n Mens kan nie anders as om sy mense te bewonder vir hul vinnige reaksie en doeltreffende strategieë teen die virus nie, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Liesl Louw-Vaudran

Dit was ’n donker jaar wêreldwyd. Ook in Afrika.

Voorspellings van apokaliptiese tonele waar honderde duisende mense eensaam in haglik digbevolkte stede soos Lagos, Nairobi of Kaïro sterf het egter nie waar geword nie.

In hierdie stadium is die teendeel waar.

Tot dusver het Afrika ’n totaal van net by die 2,5 miljoen aangemelde Covid-19 gevalle en by die 60 000 sterftes. Dit is veel laer as in die res van die wêreld. Indië se bevolking is byvoorbeeld byna net soveel as die somtotaal van Afrika se 54 state, maar het meer as 10 miljoen gevalle en 145 000 sterftes.

Dit is nog te vroeg om te sê of Afrika se getalle nie wel nog gaan styg voordat ’n inenting wyd beskikbaar is nie.

Afrika, die kontinent van armoede, siekte en onbeholpe regerings, tree dus in hierdie stadium betreklik goed uit die stryd.

Dit is nog te vroeg om te sê of Afrika se getalle nie wel nog gaan styg voordat ’n inenting wyd beskikbaar is nie.

Baie Afrikalande is relatief afgesonder.

Juis daarom sien ons die hoogste syfers in Suid-Afrika en Noord-Afrikalande soos Marokko, Egipte en Tunisië wat baie meer uitgelewer is aan internasionale handel en toerisme.

Gevare van buite kom dus stadiger met die grondpad na die dorp, soos Rian Malan aan die begin van die pandemie (baie skepties) oor Covid-19 geskryf het, maar dit kom uiteindelik wel daar uit. (’n Mens hoop dat Covax teen daardie tyd by die veldhospitaal uitgekom het . . .)

Die lande sonder seetoegang soos Rwanda en Uganda of Niger, Mali en Burkina Faso het elk net ’n klein handjievol gevalle.

Hierdie relatiewe afsondering was duidelik tydens die 2008 finansiële krisis wat aanvanklik die vasteland – en Suid-Afrika – min geraak het. Mettertyd het die invloed daarvan egter geblyk, veral in die daling van kommoditeitspryse.

“Die kontinent” is ook ’n gevaarlike konsep, aangesien daar so ’n groot diversiteit is binne die geografiese ruimte Afrika.

Die land van ‘Jerusalema’

En tog kan ’n mens nie anders as om mense in Afrika te bewonder vir hul vinnige reaksie en doeltreffende strategieë teen die virus nie.

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens neem deel aan die “Jerusalema”-dansuitdaging in Pretoria. Foto: Alet Pretorius

Die doemprofete het nie in ag geneem dat mense hier al vir dekades met aansteeklike siektes te doen het nie en reeds doeltreffende meganismes het om daarteen te veg.

Die Afrika-unie, met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur, het ook goed gevaar deur nuwe inisiatiewe te loods en om saam te werk aan oplossings.

Baie onsekerheid lê egter voor in die nuwe jaar.

Die invloed van die ekonomiese maatreëls en die sluiting van skole – waar onderwys in sommige lande feitlik heeltemal tot stilstand gekom het – gaan in die volgende paar maande hul uitwerking toon.

Afrika-regerings en die kontinent se inwoners sal dieselfde weerstand moet toon te midde van die ekonomiese insinking as wat hulle teen Covid-19 bewys het.

Afrikane het in 2020 besef die leiers in Amerika en Europa het voete van klei.

Mense moet bemagtig word om wat hulle vanjaar geleer het te behou en selfs vir die res van die wêreld te leer.

Afrikane het in 2020 besef die leiers in Amerika en Europa het voete van klei. Dit sal nie baat om gedurig na hulle as rolmodelle te kyk nie.

’n Mens glimlag byvoorbeeld dat die Britte nou skielik praat van “tier 1” en “tier 2” terwyl net Suid-Afrika aanvanklik ’n weldeurdagte langtermynplan gehad het wat skuif vanaf vlak 5 tot vlak 1 – toegegee met heelparty gebreke.

’n Konsekwente benadering deur die meeste regerings, minstens in die eerste fase, het mense in Afrika sekerheid gegee oor hoe om op te tree. Daar was geen gewik en geweeg deur regerings oor die belangrikheid van maskers of inperkings soos elders die geval was nie.

Die vindingrykheid van jong mense en plaaslike entrepreneurs om staande te bly ondanks inperkings is ’n ander. Afrika kan die tafels omkeer en sy negatiewe beeld afskud. Het ons nie immers in hierdie somber tye vir die wêreld “Jerusalema” gegee om op te dans nie?

*Louw-Vaudran is 'n senior konsultant by die Instituur vir Sekerheidstudies. Die menings in hierdie rubriek is haar eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Liesl Louw-Vaudran  |  Covid-19  |  Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.