Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaans druk digitale stempel nou deeglik af

As jy teen dié tyd nog nie gehoor het van die gloednuwe Afrikaanse woordelys en spel­reëls (AWS) nie, was jy waarskynlik met vakansie in die boendoe.

Gerhard van Huyssteen

Donderdagaand is dié eeufeesuitgawe by ’n luisterryke geleentheid op die dak van die Media24-gebou in Kaapstad bekend gestel.

RSG het die bekendstelling regstreeks uitgesaai, Coenie de Villiers het ’n opreggeteelde hond uit ’n bos uit gesing, die kameras het gerol en geflits, daar is feestelik gefuif en gebras.

Die uitgewer, Pharos Woordeboeke, het geen geld en moeite ontsien nie om dié Afrikaanse prestasie met luide geskal te vier.

Presies 100 jaar gelede het die eerste uitgawe van die AWS verskyn. Die klein, beskeie, bruin boekie van net oor die 200 bladsye had maar 48 spelreëls en ongeveer 16 000 inskrywings in die woordelysdeel. Geskrewe Afrikaans was in sy puberskoene.

Vanjaar se AWS is ’n lywige, parmantige, karmynrooi standaardwerk van bykans 800 bladsye, met 457 reëls en meer as 34 000 woordelysinskrywings. Geskrewe Afrikaans het ringkopstatus bereik.

Vanjaar se AWS is ’n lywige, parmantige, karmynrooi standaardwerk van bykans 800 bladsye, 457 reëls en 34 000 woordelysinskrywings.

’n Taal wat in die 21ste eeu nie sy digitale stempel kan afdruk nie, gaan myns insiens sukkel om die 22ste eeu lewend te haal. Daarom is dit belangwekkend dat dié AWS ook Afrikaans se vele ontwikkelinge in die digitale era etaleer.

  • ’n Groot deel van die meer as 2 000 woorde wat toegevoeg is tot die woordelysdeel, bestaan uit woorde wat Afrikaanssprekendes se omgang in die tegnologiewêreld weer­spieël: Wi-Fi of wi-fi; whatsapp (as soortnaam én werkwoord); warsender; swiep (wat jy met jou vinger doen op jou slimfoon); skermgreep of skermskoot; googleloer (google as werkwoord staan lankal in die AWS); rekenaarkluster; klusterberekening; meem; hutsmerk of hutsmerker; videoblog of vlog (blog was al in die vorige AWS); hommeltuig; antispioenware; en spelifiseer, om maar ’n paar te noem.
  • Die AWS is – met bloed, sweet en trane – volledig omgeskakel na XML-formaat. Dit verseker dat toekomstige Taalkommissies makliker en doeltreffender dié erfstuk kan bywerk en versprei.
  • Die AWS is volledig aanlyn beskikbaar by www.pharos­aanlyn.co.za. Dit is makliker as ooit om deur die AWS te soek, om op hiperskakels te klik wat jou na die relevante reëls neem, om die AWS saam te neem waar jy ook al gaan.
  • Ook die werkwyse van die Taalkommissie staan in die teken van die digitale tyd. Ons gebruik groot versamelings aanlyn- elektroniese tekste om woorde en reëls na te vors, ons neem besluite op digitale platforms en ons konsulteer en kommunikeer met taalgebruikers via Facebook.
Afrikaans se digitale prestasies strek nóg verder.

Afrikaans se digitale prestasies strek nóg verder: Die woordelysdeel gaan ook van Oktober gratis in VivA se slimfoontoepassing beskikbaar wees. Allerhande taaltegnologieë word met dié toepassing geïllustreer, soos outomatiese voltooiing van woorde, slim voorstelle as jy nie weet hoe om ’n woord te spel nie, integrasie met Wikipedia en ­Wiktionary, ensovoorts.

En die mooiste bewys van Afrikaans se digitale voetspoor is dat jy met jou stem soektogte in die AWS kan doen (ten minste in die Androidtoepassing).

Maar daar is nie tyd om op ons louere te rus nie . . . Op die afgelope week se Taalkommissie-sitting is reeds begin beplan aan ’n volgende uitgawe!

Meer oor:  Afrikaans  |  Digitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.