Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaans: Hoe dan nou verder?
Leopold Scholtz

Wat ’n mens lankal verwag het, het gebeur: Die doodsklok lui vir Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Dit word uitgefaseer.

In sy stuiptrekkings kry dit nóg ’n skop van die nuwe rektor, prof. Tawana Kupe, wat in ’n onderhoud troos: Afrikaans sal darem, nes Pedi, ’n “seremoniële taal” bly. Wat dit ook al beteken.

Afrikaans is vir alle praktiese doeleindes dood by die Universiteit van Johannesburg (vroeër nogal die Randse Afrikaanse Universiteit), die Universiteit van die Vrystaat, die Nelson Mandela-Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland. In die praktyk is hulle almal eentalig Engels.

Op Stellenbosch is Afrikaans se stuiptrekkings pynlik om te aanskou. Volgens dr. Theuns Eloff, vroeër rektor van die Noordwes-Universiteit en tans direkteur van die F.W. de Klerk-stigting, skat hy Afrikaans kan dalk nog vier jaar op Stellenbosch oorleef.

Dit ondanks die dapper pogings van ’n aantal alumni om die universiteit deur ’n hofsaak te dwing om sy plig na te kom insake die oorwegend Afrikaanssprekende omgewing wat hy veronderstel is om te bedien. Trouens, Afrikaans word nou al in die praktyk agtergestel by Engels.

Al kampus van ’n staatsuniversiteit waar Afrikaans nog ordentlik oorleef, is die een op Potchefstroom, deel van die Noordwes-Universiteit. Maar selfs daar is die taal-imperialiste besig om hul kragte te monster om Afrikaans die nekslag toe te dien.

Dis maklik om emosioneel te raak.

Dis maklik om emosioneel te raak. Dis ewe verleidelik (en akkuraat) om daarop te wys dat ’n aantal Afrikaanssprekende akademici – wat ’n mens nie anders as taalverraaiers kan noem nie – lustig meedoen. Maar dit help niks, want al is jou verwyte ook hoe waar, dit gaan dié vyande van Afrikaans nie van gedagte laat verander nie.

’n Mens sou ook op die yslike corpus navorsing kon wys wat onteenseglik bewys dat moedertaalonderwys op al drie vlakke akademies en pedagogies vir die beste resultate sorg. Los maar die ideologie en emosie; konsentreer op rasionele argumente, is my neiging.

Maar ek is bevrees al het die rasionele kamp die akademiese en pedagogiese debat loshande gewen, help dit steeds nie. Dié kamp het immers die politieke debat ewe loshande verloor.

Daar is wel ’n kans dat die Stellenbosse hofsaak gunstig vir Afrikaans kan eindig. Selfs dan is ek sinies dat die (dikwels Afrikaanssprekende) Engelsdrywers op die kampus hul politiek korrekte aanslag gaan staak. Alles dui daarop dat hulle nie sal rus voordat geen enkele Afrikaanse woord meer in ’n lesinglokaal gebesig word nie.

Hoe dan nou verder? Wel, as ek ’n Afrikaanse ouer in Gauteng is, sal ek my kind na Potch stuur. As ek ’n Afrikaanse ouer in die Wes-Kaap is, sal ek die praktyk op Stellenbosch – dit in teenstelling met die teorie – noukeurig dophou en my kind elders laat studeer as die taalsituasie nie verbeter nie. As ek dit kon bekostig, sou ek die Potch-kampus minstens ernstig oorweeg.

Wat ook ’n besliste alternatief is, is Solidariteit se private universiteit, Akademia.

Wat ook ’n besliste alternatief is, is Solidariteit se private universiteit, Akademia. Dié inrigting bied nog nie alle studierigtings aan nie en moet nog verder groei. Maar gee die inrigting kans. Alles dui daarop dat daar niks met sy akademiese peil skort nie.

Ek is effens twyfelagtig of Potch onbepaald sal kan standhou. Die konstruksie waarvolgens hy één universiteit met die kampusse van Mahikeng en Vanderbijlpark (albei eentalig Engels) vorm, maak die taak van die Afrikaansvegters op Potch moeilik.

Dan is Akademia al wat oorbly. Dít is trouens die prototipe vir Afrikaanssprekendes in die algemeen: Moenie regte van die staat verwag nie; doen self jou eie ding!

Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Onderrigtaal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.