Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaans is nou op 'n goeie plek
Alida Kok Engelbrecht

Die hoogtepunt of laagtepunt van 2016, afhangend van hoe jy daarna kyk: Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite is amptelik tot op die akademiese periferie geskuif en word ook in primêre en sekondêre onderrig bedreig.

Toneel: Ons staan in ’n sosiale laboratorium. Ons het wit laboratoriumjasse aan. In dié geval is daar nie die bekende reuke van ’n laboratorium, soos swael of chloor, in die lug nie, maar eerder die klanke van stemme wat Afrikaans – en ander tale – praat en die fyn en versteekte boodskappe wat deur sprekers se liggaamstaal, woordkeuses, sinstrukture en stembuiging oorgedra word.

Opdrag: Voer ’n eksperiment met Afrikaans en Afrikaanssprekende mense uit.

Eksperiment: Meng Afrikaans en Afrikaanssprekendes met ’n skeppie counterculture en twee skeppies beat poetry in ’n proefbuis. Poef! Wat gebeur as ons hierdie elemente meng?

(Let wel: Engelse woorde is by die bestanddeellys bo ingesluit. Die rede daarvoor is omdat dié woorde ’n essensiële geskiedkundige ervaring vasvang, meestal uit die globale noorde, wat van belang is in ons eksperiment.)

Counterculture, of ’n teenkultuur, ontstaan as ’n subkultuur se waardes en normes van gedrag verskil van die hoofstroom s’n. Anders gestel: ’n Teenkultuur wat geleë is op die sosiale periferie ontstaan in reaksie op ’n magtige, oorheersende kultuur.

Hierdie patroon herhaal hom in die geskiedenis. ’n Voorbeeld van ’n teenkultuur is die beat generation, wat in die 1950’s ontstaan het in reaksie op Amerikaanse modernisme en materialisme ná die Tweede Wêreldoorlog. Die beat poets, soos Allen Ginsberg en Jack Kerouac, was deel daarvan.

In Suid-Afrika se apartheid was 'die struggle' ’n teenkultuur.

As ’n mens die geskiedenis ken, weet jy dat daar gevalle is waar subkulture as teenkulture ’n sekere kritiese massa bereik en die oorheersende kultuur óf vervang óf drasties beïnvloed.

In Suid-Afrika se apartheid was “die struggle” ’n teenkultuur wat ’n kritiese massa bereik en die apartheid-oorheersende kultuur vervang het.

Die buiterand kan dus stelselmatig die oorheersende kern word. Die oorheersende kern sal weer mettertyd in ’n nuwe vorm die periferie word.

Vir lesers van Beeld is die verengelsing van universiteite waar Afrikaans voorheen ’n onderrigtaal was dus een van vanjaar se hoogtepunte.

Die rede daarvoor is omdat Afrikaans en Afrikaanssprekendes nou deur die oorheersende kern op die buiterand geplaas is. Op die periferie kyk ’n mens van buite na binne – jy’t ’n waardevolle perspektief. Ongemak op die buiterand veroorsaak dat evolusie en groei plaasvind. Gemak in die oorheersende kern kan lei tot ’n lusteloosheid en ’n afwesigheid van innovasie en groei.

Ons het reeds ons beat poets, soos Bittereinder en Jack Parow en Hunter Kennedy en Bouwer Bosch en ’n mondvol ander kunstenaars wat insluit Francois van Coke, Arno Carstens, Karen Zoid en Joshua na die Reën wat in Afrikaans werk (hierdie lys is nie naby aan volledig nie).

Musiek en kuns uit die Afrikaanssprekende samelewing word ons stemme en help om ’n teenkultuur op die periferie te skep waar ons kan hersien, herwaardeer en ’n nuwe bewussyn kan ontwikkel.

Ek is bly ons is aan die “ander kant”. Ek luister op Apple Music na Johannes Kerkorrel, wat sing: “Ons gaan uit hierdie stad ontsnap. / Genadelose strate gaan ons agterlos. Want die stad se hart het ys geword. / En niks wat hy gee kan meer ons fassineer. / Dis die ander kant.”

Sien jou aan die ander kant.

  • Alida Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.
Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.