Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaans is toe al die tyd eintlik nooit onderbreek nie
Gerhard van Huyssteen

‘Sal jy asseblief stilbly terwyl ek besig is om jou te onderbreek?” het Todd Rockefeller gesê.

Die afgelope Woensdagaand was ek ’n genodigde spreker by AfriVriendelik se jaarlikse Tinteltong Toekennings. Aanvanklik wou ek die uitnodiging van die hand wys, want my eerste reaksie was dat “Tinteltong Toekennings” vas geskryf moet word. Ek besef toe dat hulle hul waarskynlik slimweg op reël 15.6 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls beroep het, want daarvolgens is “Tinteltongtoekennings” en “Tinteltong-toekennings” en “Tinteltong-Toekennings” én “Tinteltong Toekennings” korrek. Ek aanvaar toe maar die uitnodiging taalkundig eervol.

Met die Tinteltong Toekennings word erkenning gegee aan sakeondernemings wat Afrikaans as dienstaal gebruik, ondersteun en uitbou. 15 pryse word toegeken: van beste logo tot beste slagspreuk; van beste kliëntediens tot beste uitgewer.

Terwyl ek stort en skeer, sien ek swaar op na die aandjie. Ek verwag ’n gelaertrekkery deur ’n klomp óú, stroewe en stoere Afrikanersakelui, ortodoks gebaadjie en gedas, met gesprekke wat hoofsaaklik handel oor die agteruitgang van Afrikaans as gevolg van die regering se miskenning van Die Taal.

Moes ek lelik op my neus kyk!

Die venue is een van die sjiekstes in Pretoria, duur sjampanje en opgesmukte kanapees word by aankoms be­dien en oral staan mense in groepies en lag – opgetof en uitgevat, kleurryk en gesellig. (Aanvanklik sukkel ek om te onderskei tussen boerebaard en hipsterbaard, maar deur die loop van die aand word dit duidelik dat 98% van die baardgesigte wel hippe hipsters is.)

En hoekom kan ons vandag nog opreg vriendelik en hartlik saam ’n selfie neem?

My vooropgestelde stort-en-skeerverwagtinge word van alle waarheid ontdaan:

  • Daar is geen gelaertrekkery nie. Sakeondernemings met Engelse name word benoem en wen pryse. (Hopelik sien ’n mens wel in die toekoms ook meer bruin, Indiër- en swart Afrikaanse entrepreneurs by die geleentheid.);
  • Niemand is oud, stroef en stoer nie. My selfvermeende jeugdige laat 40’s ten spyt, ek tel onder die oudste 20% van die genodigdes. Die gaste se gemiddelde ouderdom is waarskynlik 30, want die pryswenners en hul modieuse entourages is almal nog ’n bietjie baard, maar klipsteenhard. Jong mense (en verál jong vroue) in die sakewêreld is klaarblyklik doenig in Afrikaans, terwyl ek eintlik gedink het dis Engels, Engels, alles Engels daarbuite; en
  • Niks se gesanik oor die behoud of bedreiging van Afrikaans nie . . .

Nog ’n verrassing is dat ek twee van my studentedaevriende raakloop: Willie Spies (van Hurter Spies Inc. en Pretoria FM) en Kallie Kriel (van AfriForum). Ons is almal ’n paar kilogramme gewigtiger (Willie miskien die minste), meer beplooid (Kallie gewis die minste) en ewe swaar bebrild.

Ons groet mekaar hartlik en neem ’n selfie. Nou ja, “studentedaevriende” is perdalkies ’n groot woord om die drie van ons te beskryf. Toentertyd het ons saam op die studenteraad gedien, maar oor-en-weer-kuiervriende was ons nou nie juis eintlik nie. Sien, ons het toe al hemelsbreed van mekaar se politieke standpunte verskil.

En hoekom kan ons vandag nog opreg vriendelik en hartlik saam ’n selfie neem? Want van destyds af het jy stilgebly as een van die ander jou onderbreek het. Of dalk het ons mekaar nooit onderbreek nie?

Of dalk was dit gewoon omdat ons altyd met mekaar kon spot en saam kon lag, met ’n angel wat ontbreek . . .

Meer oor:  Moedertaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.