Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaans se heil lê dalk nou hier

Wanneer die boeiende verhaal van Afrikaans se opgang aan die Universiteit Stellenbosch (US) en sy tragiese neergang geboekstaaf word, sal die hofsaak van die burgerlike drukgroep Gelyke Kanse ’n prominente rol in dié boek speel.

Vandag sou Gelyke Kanse se saak oor Afrikaans aan die US voor die konstitusionele hof gedien het, maar dit is uitgestel sodat die saakrekord in Engels vertaal kan word. Dit gaan hier nie oor die regsaspekte nie; ons konsentreer op die prinsipiële meriete van die saak.

Op een vlak is dit intens en diep tragies dat só ’n saak hoegenaamd nodig was. Regdeur die afgelope eeu het die US ’n prominente rol gespeel om Afrikaans te skep en te vestig.

Die bou van Afrikaans kan met die skep van ’n standbeeld vergelyk word. Die granietblok was Nederlands, en Afrikaans moes met moeite, sweet, trane en ongelooflike energie uit die blok gekap word.

Afrikaans het natuurlik ’n eeu gelede al bestaan, en in die totstandkoming van die spreektaal het sowel wit as bruin ’n onontbeerlike rol gespeel.

Maar dit was destyds wat die geleerdes noem ’n patois, ’n “kombuistaal”, soos dit neerhalend genoem is.

Maar dit was destyds wat die geleerdes noem ’n patois, ’n “kombuistaal”, soos dit neerhalend genoem is.

So het Deneys Reitz, ’n gebore Afrikaner, in 1932 in die Volksraad gesê Afrikaans het geen wetenskaplike woordeskat nie en is nie buigsaam genoeg om as wetenskaplike onderrigtaal te dien nie. ’n Ander keer het hy gesê Afrikaans is “plaastaal en niks meer nie”. In sy studeerkamer praat hy Engels.

In sy seminale studie Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare noem Jaap Steyn die verhaal van Afrikaans sedert 1902 “ ’n storie van loop en val, val en weer opstaan”.

In indrukwekkende detail vertel hy hoe geslagte mense – boere, predikante, onderwysers, joernaliste en ander – dag ná dag, week ná week, jaar ná jaar doelbewus gewerk het om Afrikaans van ’n kombuistaal tot ’n volwaardige wetenskaps-, onderrig-, handels- en kultuurtaal te omskep. Hoe ’n woordeskat op alle moontlike terreine – van chemie tot binnebrandmotors tot filosofie tot sport – geskép moes word.

Dit het getuig van verskeie geslagte se onvermoeibare politieke wil en skeppingsdrang wat van Afrikaans een van slegs vier tale gemaak het wat in die 20ste eeu van patois tot kultuurtaal opgehef is (die ander was Hebreeus, Hindi en Maleis) – ’n prestasie waarop elke Afrikaanssprekende trots kan wees.

Deesdae klink die woorde van Reitz belaglik. Afrikaans staan geen millimeter terug vir Engels, Duits, Frans, Mandaryns of welke ander ontwikkelde taal ook nie. In dié proses het talle mense ’n rol gespeel. Die Burger se redaksie was onder hulle. Akademici aan die US ook.

Die skep van ’n ontwikkelings­momentum is deur verskeie faktore moontlik gemaak. Een daarvan was moedertaalonderwys.

Deurdat kinders van sub A tot matriek in hul moedertaal onderrig kon word, deurdat hulle verder in hul eie taal op tersiêre onderwysinstellings beroeps- en akademiese opleiding kon ontvang, kan Afrikaanssprekendes deesdae hul plek oor die wêreld heen volstaan.

Maar die laaste jare het dieselfde US sy moeder – Afrikaans – in die rug gesteek. Dis nie te kras om te sê dat ál die rektore sedert die begin van die eeu hul moedertaal flagrant verraai het nie.

Ek hoop vuriglik ek is verkeerd, maar dit lyk vir my of die US verby ’n kantelpunt is om binne enkele jare eentalig Engels te word. Dit beteken dat daar slegs een Afrikaanse kampus oor is – Potchefstroom – en dáár bou die druk teen Afrikaans ook op.

Wat bly oor? Die toekoms, vermoed ek, lê by plekke soos Solidariteit se private universiteit, Akademia.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Us  |  Gelyke Kanse  |  Leopold Scholtz  |  Afrikaans  |  Kombuistaal  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.