Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaans se nuwe pad

Die geskiedenis van Afrikaans moenie langer in stand gehou word uit die perspektief van die skepe nie, maar ook van die land af gestalte kry. Dít was die kernboodskap op die Dak-netwerk se waarheids-en-versoeningsberaad oor Afrikaans. Retha Fick berig.

afrikaans

Danie van Wyk, onderwysman van Kuilsrivier, het ’n droom gehad: Afrikaanssprekendes moet oor die wanpersepsies en verdeeldheid tussen hulle praat.

Die waarheid moet belig word. Ongemaklikhede moet uitgepluis en bekentenisse gemaak word om by ’n ruimte van versoening uit te kom.

Vir die taal se oorlewing is so ’n eerlike gesprek noodsaaklik. Die resultaat was ’n twee dae lange beraad in Pinelands, Kaapstad, aangebied deur die Dak-netwerk, waarvan Van Wyk ’n direksielid is.

Die byeenkoms word as ’n geskiedkundige gebeurtenis bestempel. Dit was ook ’n bemagtigende geleentheid, het prof. Julian Sonn, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se sakeskool, opgemerk. Want inheemse mense kon, soos hulle hul stories vertel, hul waardigheid begin terugvind.

Die uitgangspunt was van meet af aan duidelik: Oor Afrikaans is daar nie ’n enkelvoudige waarheid nie. Die taal het ook nie net een geskiedenis nie.

In sy DNS is iets ingeweef wat diversiteit vergestalt en die tyd het aangebreek om sy unieke versoeningspotensiaal te ontsluit.

’n Nuwe verhaal

Die uitsluitende narratief dat Afrikaans die eiendom van wit mense is, vervreem derduisende sprekers, sê prof. Hein Willemse, verbonde aan die departement van Afrikaans van die Universiteit van Pretoria.

Hierdie narratief, wat in 1874 deur ds. S.J. du Toit en die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) geskep is, ontken die diverse wortels en karakter van Afrikaans.

Du Toit se stelling “Afrikaans is ’n witmans-taal, ’n suiwer Germaanse taal . . .” ignoreer dat Afrikaans die taal van Moslem-skrywers aan die Kaap was nog voordat daar sprake van die GRA was, voor C. Louis Leipoldt en N.P. van Wyk Louw.

Al in 1686, net meer as 30 jaar ná die vasmeer van die Drommedaris, Reijger en Goede Hoop in Tafelbaai op 6 April 1652, was daar geskrewe aanduidings van ’n nuwe taal wat uit die Kaapse mengelmoes van die tyd aan’t ontwikkel was.

Die eerste godsdienstige boek was teen die tyd van die GRA reeds in die Arabies-Afrikaanse skryftradisie geskryf.

Maar Du Toit se uitspraak in De Zuid-Afrikaan “het die aanvaarde waarheid geword en is ten gunste van eng nasionalisme tot die algehele waarheid verhef”.

“Dit is hierdie diskoers wat ’n koersaanpassing benodig indien die voortgesette groei van Afrikaans ons erns is.”

Standaardafrikaans versaak die taal

Waar staan Standaardafrikaans vandag in dié nuwe storie van Afrikaans? vra prof. Hans du Plessis, emeritusprofessor in Afrikaanse taalkunde en skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit.

Die feit bly staan dat verreweg die meeste sprekers nie Standaardafrikaans praat nie.

Du Plessis wys daarop dat die huidige gesproke variëteite van Afrikaans – Oranjerivierafrikaans, Kaaps- en Transvaalse Afrikaans – hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, uit die kontak tussen 17de eeuse Nederlands en veral Khoi en Oosterse tale van die slawe ontstaan het.

Teen 1700 was Afrikaans al 100 jaar oud.

“Standaardafrikaans, daarenteen, is vroeg in die vorige eeu geskoei op ’n doelbewuste en onnatuurlike vernederlandsing van Afrikaans.

“Dít het Afrikaans verarm en die kloof tussen gesproke variëteite van Afrikaans en Standaardafrikaans beklemtoon.”

Afrikaans is egter die somtotaal van ál sy variëteite en ’n dialek is nie ’n minderwaardige vorm nie, beklemtoon Du Plessis. Elke variëteit het sy eie standaard wat nie formeel deur ’n kommissie bereël kan word nie. Daarom moet Standaardafrikaans herskryf word om meer insluitend te wees.

“Afrikanernasionalisme het die Afrika-hart uit Afrikaans geruk. Versoening lê daarin dat ons versoen in die verantwoordelike transformasie van Standaardafrikaans, sonder om ons aan ondeurdagte linguistiese kaderontplooiing skuldig te maak.”

Die pyn van sy bruin sprekers

’n Taal is soos water of soos lug. Dit is eenvoudig daar – en jy dink nie daaraan nie, tot die dag dat dit besoedel, onbeskikbaar of verstikkend is, sê Willemse.

“Afrikaans was jare lank vir ons soos water of soos lug. Toe breek Junie 1976 aan.”

Volgens hom was die Soweto-opstande teen Afrikaans ’n oomblik van openbaring.

Onder een dak

Die akroniem Dak staan vir drie Khoi-helde van die vroeë koloniale geskiedenis, Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa. Hulle het as tolke opgetree.

Die Dak-netwerk ontwikkel oplossings vir sosiale, maatskaplike en ekonomiese kwessies van Afrikaans agtergestelde gemeenskappe wat gemeenskappe trots op hul herkoms maak. Volgens die 2011-sensus bestaan 60% van die Afrikaanse gemeenskap uit bruin, swart en Indiër- Suid-Afrikaners.  

“Die taal is as die draer van Afrikanernasionalisme en apartheid ontbloot. Sy sprekers moes leer leef met ’n neerdrukkende teenstrydigheid, ’n dubbele bewussyn: enersyds was Afrikaans hul hartstaal en andersyds was dit die simbool van hul eie verdrukking.

“Dit is ontsettend om in jou eie taal as ’n mindere, ’n vreemdeling, ’n gebrekkige kuriosum geag te word.”

Dié pyn van ongelykheid, kolonialisme, gedwonge verskuiwings en die volksmoord van die Khoi en San moet dringend gepak word, sê Stan Henkeman van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening.

Hy haal die Amerikaanse sielkundige Martha Cabrera aan: “Wanneer trauma wydverspreid en aanhoudend voorkom, beïnvloed dit hele gemeenskappe en selfs die land as geheel. Die implikasies is ernstig vir mense se gesondheid, die veerkragtigheid van die samelewing, die sukses van ontwikkelingsprojekte en die hoop van toekomstige generasies.”

Henkeman beklemtoon dat versoening die beloning van waarheid én regstelling is.

In dié konteks vra prof. Michael le Cordeur, voorsitter van die departement van kurrikulumstudies in die fakulteit opvoedkunde van die US, wie en wat die ware helde en monumente van Afrikaans is.

“Is dit S.J. du Toit en die Taalmonument? Of is dit sjeg Abu Bakr Effendi, Achmat Davids en die moskee in Dorpstraat?”

Armoede, ‘die masjien’ en ikone

’n Taal kan nie van sy sosio-politieke konteks losgemaak word nie, meen Quinton Adams, opvoedkundige sielkundige aan die US.

“Armoede heers onder die grootste gedeelte van Afrikaans se sprekers. Toegangsgeld by kunstefeeste is byvoorbeeld buite die bereik van baie. Wie bepaal steeds die agenda van Afrikaans? Vir Afrikaans om vorentoe te gaan moet dit gelyke vennote wees.”

Die kunste kan nie as ’n bysaak gesien word nie, meen Simon Witbooi, oftewel die klets­rymer Hemelbesem.

“Ons mense het nie ikone nie. Op TV hoor ons steeds net Pretoria-Afrikaans. Die masjien neem lank om te verander. Dit is bykans onmoontlik vir ’n bruin kunstenaar om op ’n speellys van ’n Afrikaanse radiostasie te kom. Jy is ten beste die plakkaat-gesig om equality te wys.

“Ikone word tog op platforms soos feeste, TV en radio gevorm.”

Malixole Gwatyu, direkteur van die reklamemaatskappy Brand et al en aanbieder van die landbouprogram Nisboere, meen die agenda moet inklusief en eerlik wees.

“As dit net een groep se agenda is, wil ek nie deel daarvan wees nie. Wie se stories vertel ons? Vertel ons die stories van die miljoene plaaswerkers? Sonder kapitaal kan ons dit nie doen nie.”

Die kunste is onontbeerlik om persepsies reg te stel en waardigheid terug te kry, beaam Emile Jansen, kletsrymer en gemeenskapsleier op die Kaapse Vlakte.

“Maar net een storie word in rolprente vertel. Neem byvoorbeeld Noem my skollie en Nommer 37 (wat albei op die Kaapse Vlakte afspeel). Die wanpersepsie van wie ons is, word herhaal. Die vorige regime het ons in daardie boks gesit, nou sit ons onsself ook in daardie boks.”

Pad na versoening

Hoe lyk die pad vorentoe?

“Die gewig van die geskiedenis druk swaar op die wit Afrikaanssprekende,” sê Flip Buys, hoof van die Solidariteitsbeweging.

“Ons het Afrikaans vroeër vir onsself opgeëis. Nou weet ons dat Afrikaans behoort aan almal wat die taal liefhet.”

Buys meen voortgesette ongelykheid is ’n struikelblok vir brugbou. “Ons moet praat oor hoe welvaart geskep word. Ons moet saam oplossings vind.”

Dr. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis, meen ons het toegelaat dat pigment ons kulturele erfenis polariseer.

Dr. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis, meen ons het toegelaat dat pigment ons kulturele erfenis polariseer en voeg by dat taal ’n unieke versoeningsgeskenk is, maar dat ons ’n groot fout sal maak as ons dink die taal sal ons kortpaaie na versoening kan gee.

“ ’n Gesprek oor versoening sal oor ongemaklike onderwerpe soos restitusie en ekonomiese geregtigheid moet wees. Die gesprekke kan en mag nooit alleenlik ’n gesprek oor taal wees nie, maar waagmoedige dialoog in Afrikaans oor die gemeenskaplike waardes, ideale en doelwitte wat die taalgenote deel.

Die erkenning van die mistastings van die verlede sal en behoort ’n lang tyd deel van die gesprek te bly. Die arrogansie wat ons groot foute laat maak het, mag nooit weer terugkeer nie.

“Die versoeningsgesprek kan en mag nooit ’n eksklusiewe gesprek bly nie. Nooit mag taal weer ’n veilige, eksklusiewe enklawe skep nie.

“Die taal moet ons die hele tyd help oor hoe ons brûe op onmoontlike plekke kan bou en oorsteek.”

Fick is Beeld se adjunk-redakteur.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.