Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaans se toekoms in bruin hande

Iets is aan’t gebeur tussen bruin Afrikaanspraters en hul taal. Betekenisvolle figure het begin naderstaan. Anders as in die jare kort ná 1994, toe hulle tentatief en voorwaardelik was. Ek sê dit met huiwering. Die risiko is groot van die wens die vader van die gedagte maak. Ons is ver van “alle Afrikaansies klap julle handjies; hier kom groot fees”. Indien ons ooit daar sal uitkom.

As ek in die vroeë post-’94-jare bruin, swart of ’n Indiër was met Afrikaans as moedertaal, was ek skepties, selfs afwysend, oor die geluide wat destyds uit wit Afrikaanse geledere gekom het. Ook oor die motiewe. Toe die Afrikaners die politieke mag verloor, het baie mos, immer gedagtig aan die gewig van getalle, aan bruin taalgenote gesê: “Julle mense” moet nou saam met ons kom staan, teen die swart oormag (en teen Engels).

Sonder om vir ’n oomblik te bedink hoe wit Afrikaanstaliges hul bruin taalgenote onder apartheid in die tande geskop en in die grond geboor het. Beginnende met die Afrikaner-Natte se beskamende optrede in die 1950’s toe die bruin mense hul stemreg ontneem is nadat die oppergesag van die reg so gruwelik ondermyn is.

Wit Afrikaans­sprekendes sal kan hand bysit. Maar nie meer vir lank nie.

Wit en bruin Afrikaanssprekendes het maar eers nou die dag begin werk maak van die onafgehandelde sake tussen hulle. Daar’s vordering, maar nog baie werk ook. Soos die skrywer William Faulkner oor slawerny geskryf het: “The past isn’t dead. It’s not even past.”

Ek skat baie Rapport-lesers het hulle laas Sondag verkneukel aan die sienings oor Afrikaans uit die gevatte mond van dr. Willa Boezak. “Die Stellenbosse here wil mos hierdie lekkerkry-taal van ons, hierdie kleinood, so agterlangs en agterbaks smoor,” sê Boezak, nieu-taalstryder. Hy wat nou saam met die wit omies van Gelyke Kanse in die kryt is vir ’n vaster plek vir Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US). Lekker!

Maar hopelik het almal ook raakgelees wat Boezak by dié punt gebring het. Naamlik die dag toe hy ontdek het daar is oortuigende historiese gegewens wat die lank bestaande mite weerlê dat Afrikaans in die mond van wit setlaars gebore is. Dat inheemse Khoi-bewoners aan die Kaapse kus ’n weergawe van Nederlands begin praat het met matrose met wie hulle in kontak gekom het lánk voordat Jan van Riebeeck geland het. En dat Afrikaans dáár begin het.

Gelyke Kanse se hofstryd – met Boezak in hul hoek – om gelykberegtiging vir Afrikaans aan die US is suiwer. Maar dis geen waarborg vir sukses nie.

Daar is ’n denkskool wat vermoed Gelyke Kanse kan op regsprosedure seëvier. Waarna die US se bestuur hul stryd vir Engels bloot sal hervat en dié ronde seker maak hul proses is onberispelik.

Dán betree Gelyke Kanse ’n ander dimensie, wanneer die stryd vir Afrikaans as ’n akademiese taal aan die US oorwegend in die hande van bruin, swart en Indiër-sprekers van die taal sal wees. As hulle dan wil, bygesê.

Wit Afrikaanssprekendes sal kan hand bysit. Maar nie meer vir lank nie. Die demograaf prof. Flip Smit raam, gegrond op kraakvars sensusdata, dat die huidige 2,7 miljoen wit Afrikaanstaliges teen 2030 net 1,8 miljoen sal tel en teen 2050 minder as 1 miljoen. Hierteenoor tel bruin Afrikaanssprekendes al sowat 3,2 miljoen. En hulle kan selfs meer word.

Dié week sê Smit dis veilig om te aanvaar die toekoms van Afrikaans is grootliks in die hande van die 3,2 miljoen bruin mense met Afrikaans as moedertaal. Aanvaar dit. Dis húlle wat die hedendaagse lord Milners in Stellenbosch kan gaan aanvat met ’n suiwer pedagogiese argument dat hulle, allesbehalwe wit bevoorregtes, ’n rég het op tersiêre onderrig in hul moedertaal. Ook omdat die weerhouding van onderrig in Afrikaans op naskoolse vlak een van die hoofredes is waarom bruin Suid-Afrikaners tans onderpresteer op tersiêre vlak.

Terloops, as jy nog beter wil verstaan waar Boezak en sy mense vandaan kom, gaan kyk die fliek Krotoa. Dis die storie van die Khoi-Khoi-vrou wat Van Riebeeck gebruik het as tolk in sy onderhandelinge met die Kaap se inheemse Khoi-Khoi. Van Riebeeck-hulle het haar “Eva” genoem. Sy’t met ’n wit amptenaar van die VOC getrou en hul kinders is die voorsate van baie wit Afrikaners.

Jy hoef jou nie te steur aan die lawaai oor “kulturele toe-eiening” nie, die sotlikheid wat dikteer dat wit mense nie Krotoa se storie mag vertel nie. Dis dieselfde snert wat in die 1960’s gehoor is toe gesê is net “Afrikaner-historici kan die Afrikaner se geskiedenis skryf”.

’n Jong, begaafde TV- en rolprentmaker, Kaye Ann Williams, is die hoofskrywer van Krotoa se draaiboek. In soverre dit belangrik is, Williams is nie wit nie.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt  |  Krotoa  |  Gelyke Kanse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.