Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaans van almal, vir almal

Taalbulle en taalliefhebbers stem oor een ding saam: Die toekoms van Afrikaans is onder ernstige druk. Waaroor hulle nié saamstem nie, is hoe om Afrikaans se toekoms te verseker, skryf Jean Oosthuizen.

Die onthulling van ’n muurskildery deur Afrikaans.com en ouervoorligting deur die ATR en Fedsas by Irista Primêre Skool in Kuilsrivier.

Daaroor gryp hulle mekaar gereeld aan die keel. Dit is teen hierdie agtergrond dat die Afrikaanse Taalraad (ATR) vanjaar die organisasie se eerste dekade vier.

Saamleef in geregtigheid is skynbaar nie so maklik soos wat prof. Jakes Gerwel bepleit het nie. Daarvoor is ’n nuwe strategie nodig.

Die kloof tussen die wit en bruin sprekers van Afrikaans is dikwels maar alte duidelik. Die woede van die verlede teenoor wit sprekers se betrokkenheid by negatiewe politieke gebeure is nog vars in die geheue.

Afrikaans se verlede tel teen die taal, of ons dit nou wil weet of nie, sê prof. Wannie Carstens, wat tien jaar gelede betrokke was by die totstandkoming van die ATR.

“Die rede is heel eenvoudig: Dit is voorgehou as ’n taal van hoofsaaklik wit sprekers terwyl die werklikheid anders was. Daar was nog altyd meer bruin sprekers van Afrikaans as wit sprekers. In hierdie proses het enorme verwydering tussen die wit en bruin en swart sprekers van Afrikaans ingetree. Die apartheidsbeleid – wat in ’n groot mate uitgevoer is in die monde van wit sprekers van Afrikaans – het hierin ’n groot rol gespeel. Laat dit duidelik gesê word.”

Vir die ATR lê die toekoms van Afrikaans in die inklusiewe, harmonieuse naasbestaansrol in ’n meertalige Suid-Afrika.

Die winde van verandering het die laaste jare sterk oor Afrikaans begin waai. Dit is nie meer net ’n groepie wit mans wat soos in 1875 die Genootskap van Regte Afrikaners gestig het wat nou opstaan vir Afrikaans nie.

Nuwe strategie

Saam met mense soos dr. Christa van Louw, destydse voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, het Carstens sedert 2003 aan ’n “nasionale strategie vir Afrikaans” gewerk. In 2008 het dit gelei tot die stigtingsvergadering van die Afrikaanse Taalraad op Wellington met Carstens as eerste voorsitter.

Die ATR het die afgelope dekade hard gewerk aan hierdie nuwe strategie om ’n beter balans met groter inklusiwiteit tussen Afrikaanssprekers te bewerkstellig en helende versoening na te streef.

Daarom is die plek en rol van ’n burgerlike liggaam soos die ATR onontbeerlik om die taal meer inklusief te maak. Vir die ATR lê die toekoms van Afrikaans in die inklusiewe, harmonieuse naasbestaansrol in ’n meertalige Suid-Afrika. Hierdie rol sluit konstruktiewe vennootskappe met ander inheemse taalgemeenskappe in.

Ria Olivier, lid van die eerste ATR-direksie en huidige projekbestuurder, sê die uitdaging bly steeds om die negatiewe bagasie van Afrikaans af te skud, gegee die belemmerende invloed daarvan op Afrikaans en op versoening tussen Afrikaansgebruikers – tussen moedertaal- en niemoedertaalsprekers, maar ook tussen Afrikaanssprekers en die sprekers van die ander inheemse tale. Dis waarom versoening ’n belangrike fokusgebied van die ATR is.

Diversiteit

Afrikaans het uit ’n groot verskeidenheid bronne ontwikkel. Die taalwortels lê oor drie vastelande versprei – Europa, Asië en Afrika.

Dit is hierdie verskeidenheid wat in die ATR weerspieël word.

Dit herinner aan die woorde van Breyten Breytenbach: “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so.”

Om elke gespreksgenoot ernstig op te neem, na sy woord te luister, en hom steeds as medespreker te respekteer.

In die onkonvensionele reisboek, ’n Seisoen in die Paradys, skryf Breytenbach: “Ons moet kompos wees, ontbindend om wéér in ander vorme te kan bind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag regverdig. En om dit te kon doen, moes ons ons gewaande stamidentiteit stol. Ons moes áfkamp, bekamp, verkramp. Ons moes ons andersheid verskans en terselfdertyd behou wat ons verower het.

“Ons het van ons andersheid die norm, die standaard gemaak – en die ideaal . . . Ons het mure gebou. Nie stede nie, maar stadsmure . . . en ons het die begrip van suiwerheid begin aanhang. Dit is apartheid . . .”

Die ATR het die afgelope tien jaar baanbrekerswerk gedoen om hierdie gaping tussen Afrikaanssprekendes te oorbrug en stede pleks van stadsmure te bou.

“Daar is geen ‘hulle’ in Afrikaans nie. Daar is enkel en alleen ’n ‘ons’, en ons is ’n groep mense wat van verskeie kante onder druk is met ’n taal, ’n hartstaal, ’n leeftaal, ’n liefhêtaal, wat ewe seer onder druk verkeer,” het Marius Swart van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch einde verlede jaar by die ATR se Koker-toekenningsgeleentheid gesê.

“Afrikaanse mense moenie die toekoms met angs en paranoia tegemoet gaan nie, maar ook nie naïef wees oor die druk wat daar op Afrikaans is nie.”

Die Kokers

Die Kokers word jaarliks deur die ATR toegeken vir spesiale bydraes tot die Afrikaanse taal. Dit is ’n manier om erkenning te gee aan mense wat brûe bou, ’n verskil maak en die voortou in en deur Afrikaans neem.

In Gerwel se woorde slaag die ATR daarin om “aan te hou praat, redelik te praat, selfs waar die drif en die daad dreig om die woord te verswelg ( . . .)

Om elke gespreksgenoot ernstig op te neem, na sy woord te luister, en hom steeds as medespreker te respekteer. Om volhardend te bly werk aan die skepping van daardie grammatika van saamlééf in geregtigheid.”

  • Oosthuizen is ’n vryskutskrywer.

Meer oor:  Afrikaans  |  Aktueel  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.