Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaanse gelowiges moet taal in kerk bevorder

Gelowiges vra deesdae tereg of Afrikaans ’n probleem in die kerk is. Nico Botha skryf oor ’n onlangse seminaar waar na antwoorde gesoek is.

Nico Botha

Die woonbuurt Eersterust in Pretoria is oorwegend Afrikaanssprekend.

Die oorgrote meerderheid van inwoners is Christene, nominaal of toegewyd. ’n Mens het al amper opgehou tel hoeveel kerke daar is.

Daar woon ook sowat 1 005 Moslems in Eersterust, wat mense van Bangladesj en Pakistan insluit.

Wat taal betref, is hulle by die moskee verplig om Engels as voertaal te gebruik ten einde almal te akkommodeer, nie dat dit enigsins beteken dat die Moslems in Eersterust Engels as moedertaal praat nie.

In die kerke het daar langsamerhand ’n verskuiwing begin plaasvind en vra gelowiges tereg: Is Afrikaans ’n probleem in die kerk? Daar is ook pastore, priesters en dominees wat die vraag stel, gegewe die meertalige omgewing waarin hulle hul bevind.

Behalwe vir Afrikaans en Engels, is daar ook heelwat mense in die woonbuurt wat goed in tale soos Noord-Sotho en Pedi kan kommunikeer, om nou slegs hierdie twee as voorbeelde te noem.

Tydens die Afrikaanse Taalraad se Geloofstaalseminaar, wat op 15 Junie in Eersterust plaasgevind het, het ’n hele aantal uiters interessante perspektiewe na vore gekom in reaksie op die vraag of Afrikaans ’n probleem is in die kerk.

Daar was diegene wat dink dat daar nie regtig ’n probleem is nie. Ander was egter van mening dat of ’n mens dit nou as ’n probleem identifiseer of nie, dit tog lyk asof die situasie só bestuur sal moet word dat Afrikaans nie in die slag bly nie.

Die baie geesdriftige deelnemers aan die seminaar het selfs hier en daar sterk uitsprake gemaak, soos om te waarsku dat daar nie met die taal gepeuter moet word nie – deur niemand nie. Die oorheersende sentiment was egter dat Afrikaanssprekendes self verantwoordelikheid moet neem vir wat met die taal gebeur of juis nie gebeur nie.

Afrikaans in die konteks van meertaligheid

Daarom was die baie skeppende en proaktiewe insig dat Afrikaanssprekendes in die godsdiens in die algemeen, en in die kerk in die besonder, ’n manier moet vind om die taal as onderrigtaal in die kerk op verskillende wyses te bevorder. Dit moet gebeur sonder om ’n valse dilemma te skep tussen verskillende tale. Die uitdaging is eerder om oor die Afrikaanse taal in ’n konteks van meertaligheid te onderhandel.

’n Mens sou van die sterk sentimente wat na vore gekom het soos volg kon verwoord.

Eerstens dat Afrikaanssprekendes in die kerk daarop bedag moet wees dat die taal nie soos voorheen op nuwe maniere gebruik word om veral van regeringskant stemming te maak teen die taal en daardeur op nuwe maniere die sprekers van die taal te marginaliseer nie.

Tweedens dat die taal sy vryheid gegun word en nie weer vir allerhande politieke doeleindes gebruik moet word nie. Iemand het die sterk mening uitgespreek dat die taal nie eens vir veronderstelde positiewe doeleindes soos geregtigheid en versoening gebruik moet word nie.

Wat die seminaar op ’n onfeilbare wyse aangetoon het, is dat mense op grondvlak in hul daaglikse lewe met kwessies te kampe het wat bo alle ideologiese voorveronderstellings uitstyg.

Derdens, het ’n deelnemer uit die NG Kerk in opregtheid by kerkmense van Eersterust daarop aangedring dat hulle dié kerk moet help om die kwessie van meertaligheid goed te bestuur. In Eersterust se kerk is daar immers al onuitgesproke en ongeskrewe oplossings gevind.

Vierdens het ’n sterk nuwe insig wat na vore gekom dat die Afrikaanse taal as hulpbron gesien moet word wat in die kerk en in ander samelewingsverbande tot die bemagtiging van mense kan bydra.

Die seminaar het deelnemers met soveel geesdrif en inspirasie vervul dat daar nou op ’n forum vir Afrikaans in Eersterust aangedring word. Die forum beoog nie enige mededinging met ander Afrikaanse organisasies nie, maar eerder hartlike samewerking.

Die geloofstaalseminaar het dit in die kleine al reggekry met die teenwoordigheid van deelnemers van die ATKV. Wat die geloofstaalseminaar op ’n onfeilbare wyse aangetoon het, is dat mense op grondvlak in hul daaglikse lewe met kwessies te kampe het wat bo alle ideologiese voorveronderstellings uitstyg.

Hulle soek korttermynoplossings vir brandende kwessies in hul gemeenskappe te midde van en ondanks makropolitieke onsekerhede.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Eersterust  |  Afrikaans  |  Christene  |  Kerke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.