SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Afrikaanses vra nou ander stem
Barnard Beukman

Die alewige bekgeveg tussen die punte van die ideologiese hoefyster – ook in die Afrikaanse gemeenskap – mis die eise van ons tyd.

In die een hoek is die konserwatiewes, wat meermale deur die verkramptes in hul geledere (erkenning aan wyle Wimpie de Klerk) op sleeptou geneem word. Uit die ander hoek is die oorbeligtes (erkenning aan wyle Julius Jeppe), maar te gretig vir die twis. RSG kondig selfs melodramaties aan dat daar ’n oorlog onder Afrikaanses woed.

Van die noue ooreenkomste tussen die twee groepe is dat hulle nooit werklik enige erg gehad het aan die Nelson Mandela-skikking net voor 1994 nie. Die oorbeligtes kla oor die soveelste bottel rooiwyn hulle het swaar onder die ou bedeling se vervolging gely as stemme teen apartheid. Toe kom Mandela sowaar en bereik ’n skikking met een van die konserwatiewes uit die PW Botha-era – FW de Klerk – en dié wen selfs die Nobelvredesprys. En hulle word toe sonder erkenning eenkant gegooi.

Die Grondwet, wat ontwerp is om ’n hoogs verdeelde samelewing op koers te hou, is gereeld die teiken van hul en die teenpool se gekombineerde grofgeskut – al is dit oor verskillende redes.

Maar hulle kan nie die voortdurend beledigende twiste weerstaan waar skuimbolle al hoe groter om die mond staan soos wat hulle die oordeel oor mekaar vel nie. En wat albei groepe graag aangryp as omtrent die enigste manier om inhoud aan hul veronderstelde identiteit te probeer gee.

Dit wil amper lyk asof die koms van pres. Cyril Ramaphosa nie net opposisiepartye in ’n oor-die-voete-val-dans van herposisionering en die ANC in ’n politieke maalkolk gedompel het nie. Die Afrikaanses weet klaarblyklik ook nie hoe om op hom te reageer nie.

En die oorgrote meerderheid middelgroep, wat duidelik sigbaar, maar net soms in lesersdiskoerse, na vore tree?

Hy is geen politieke messias nie en moet eers nog sy eie interne magstryd in die ANC wen. Maar bied tog ’n venster van hoop dat rede, logika en wedersydse begrip en akkommodering, soos nog nooit nie, kan wortelskiet. Ongelukkig is dit nie mooi genoeg klinkende politieke krete nie. En sal hy gou agterkom dat heelwat kragte daarop uit is – ook in Afrikaanse geledere – om ons te dryf tot in die onomkeerbare ewige skaakmat van die Israelse/Palestynse konflik. Die waarheid is hulle soek geen kompromis nie.

AfriForum – deel van die invloedryke Solidariteit-groep met al meer as 400 000 bydraende lede – is ’n handboekvoorbeeld van ’n suksesvolle burgerlike organisasie, maar maak dit die laaste paar maande meermale ongedaan in wat Tim du Plessis verlede jaar in Rapport beskryf het as ’n “KP-agtigheid” wat kop uitsteek. Veral die indruk dat hulle soms baklei oor rassensitiewe kwessies wat beledigend ervaar word, skep dié beeld. Is dit waar dat daar ’n interne toutrekkery tussen “valke” en “duiwe” is daaroor?

Afrikaanses het ook ’n trotse tradisie van skrywersbewegings, kunstenaars, akademici, joernaliste en ander linkse stemme wat op kritieke tye ongemaklike uitdagings gestel het – ’n belangrike rol in enige samelewing met ’n toekoms. Maar beleef tans ’n bestaanskrisis sonder enige gravitas of benul van hul nodige rol. Dit is ongelukkig altyd ’n ondankbare rol, met geen ruimte vir die versugting na oppervlakkige erkenning nie. Dit deur af te daal na die laagste gemene deler, soos tans.

En die oorgrote meerderheid middelgroep, wat duidelik sigbaar, maar net soms in lesersdiskoerse, na vore tree?

Hulle wil graag die “hand gaan bysit” (erkenning aan Hugh Masekela en Ramaphosa), wat nodig is om ’n stabiele verskil vir hul toekoms hier te maak. Hulle word nie verteenwoordig deur die selfgesentreerde twitterati en self-aangestelde wysneuse nie.

Afrikaanses vra nou ’n ander stem.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Politiek  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.