Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaanses wat hul taal misken, minag hulself

Migrasie is aan die orde van die dag. Soms weens omstandighede tuis, soos vervolging, geweld, diskriminasie en selfs oorlog. Maar dikwels gaan dit om ekonomiese redes.

Miljoene Suid-Afrikaners het die afgelope jare die land verlaat weens ’n kombinasie van bogenoemde faktore. Nie net professionele mense soos geneeshere of sakelui is gesogte migrante nie; ook goeie sportmanne en -vroue. In baie lande is selfs die afrigters van nasionale sportspanne mense van buite. In bykans alle gevalle moet die migrant ingeburger raak in ’n samelewing met ’n ander kultuur én ander taal. Daarom leer jong rugbyspelers Frans en Japannees en sokkerspelers probeer Spaans en Portugees onder die knie kry.

Ek het dikwels sit en luister na die goeie Ne-derlands van sokkerspelers en -afrigters nadat hulle maar net vir enkele jare in Nederland (of Vlaandere) gespeel het.

Engelse het hulle gewoonlik verkneukel oor wat baie bestempel het as die “steenkool-Engels” van die Nederlander Louis van Gaal wat Man-chester United vir ’n paar jaar afgerig het. Maar hy het sy bes gedoen om Engels te praat en nie die een of ander patois deur-spek met Nederlands nie.

Dat die gehalte van geskrewe én gesproke Afrikaans die afgelope jare dramaties verswak het, is kwalik nog nuus.

Dan veral is dit ’n ontnugtering wanneer ’n mens luister na ons nasionale rugby-afrigter (en spelers) wie se moedertaal Afrikaans is. Meestal wek hulle die indruk dat hulle ongeletterd is, want hulle Afrikaans is vrot en vol Engelse uitdrukkings. Met baie rugbykom-mentators, met die “nommers” in die agterlyn en spelers wat hulle “hand opsteek”, gaan dit nie veel beter nie. Dat die gehalte van geskrewe én gesproke Afrikaans die afgelope jare dramaties verswak het, is kwalik nog nuus.

Selfs joernaliste wat in die verlede as voorbeelde gegeld het van suiwer Afrikaans, se berigte is vol taal-foute. Een van die mooistes was die verwysing onlangs na die afgestorwe sportkommentator, prof. Kotie Grové, as ’n voormalige “professor in Grieks en Latyns”.

In programme oor koffie, boerekos met ’n kinkel of oor meer eksotiese Franse cuisine maak die aanbieders of gaste ruimskoots gebruik van Engelse terme. Selfs eenvoudige bestanddele soos salie, basilie en songedroogte tamaties (om van koljander en kaneel nie eens te praat nie) is skynbaar onbekend. Maar wat my verstom, is hoe selfversekerd hierdie onkunde uitgestal word asof dit bewonderenswaardig is.

Redes vir dié toedrag van sake lê voor die hand. Wanneer mense in ’n Engelse omgewing werk en boonop hulle onderrig in dié taal ontvang, raak die eie taal maklik verlore.

Dit is ’n belangrike gevolg van die verdwyning van die sogenaamde “hoër funksies” van ’n taal.

Die belangrikste rede is ’n gebrek aan trots op Afrikaans, dalk omdat alles Afrikaans in die spervuur staan. Maar miskenning van jou taal (en dus jou herkoms en identiteit) is eintlik minagting van die self.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Afrikaans  |  Taal  |  Migrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.