Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikane het in 2019 met hul ‘voete’ gestem

In geslote, outoritêre state is die informele, dikwels gesiglose bewegings die werklike setels van mag en potensiële verandering, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Mense in Algiers betoog ten gunste van die verkiesing. Foto: Reuters

Dit was ’n woelige 2019 met heelparty hoogtepunte – en natuurlik ook laagtepunte – in Afrika noord van ons grense.

Die mees dramatiese hiervan was sekerlik die gebeure in Soedan en Algerië waar mense deur massaoptrede hul diktators en siek, ou leiers uit die kussings gelig het. So ’n populêre mobilisasie van mense om van hul leiers ontslae te raak, is ongekend sedert die Arabiese Lente van 2011.

Daar was wel ’n massabeweging in Burkina Faso in 2014 waarmee die president verdryf is, en soortgelyke bewegings in Senegal en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Maar niks op die skaal van wat ons vanjaar ervaar het nie.

In Algerië gaan die vreedsame protesbeweging steeds voort.

Ongelukkig gee CNN en die BBC nie veel aandag daaraan nie – dus het baie mense dit nie besef nie – maar die onverpoosde mobilisasie van Algeryne in die strate van al die land se vernaamste stede sedert vroeg vanjaar is werklik indrukwekkend.

Korrupte politici en sakelui is ook voor die hof gedaag en heelparty van hulle is tronk toe gestuur.

In April het pres. Abdelaziz Bouteflika bedank, maar die protesgangers het steeds aangehou. Nuwe verkiesings is keer op keer uitgestel omdat mense eenvoudig daarop aangedring het dat die ou garde wat jare lank al die land regeer plek moet maak vir ’n nuwe geslag innoverende leiers.

Korrupte politici en sakelui is ook voor die hof gedaag en heelparty van hulle is tronk toe gestuur. Dit sluit in twee voormalige eerste ministers wat vroeër hierdie week tronkstraf van 15 en 12 jaar opgelê is. (Wys die nasionale vervolgingsgesag ’n bietjie daarop . . . )

Die militêre leiers wat by Bouteflika oorgeneem het, het uiteindelik besluit om op 12 Desember ’n verkiesing te hou, maar die voorspelling is dat min mense gaan opdaag.

Dieselfde het min of meer in Soedan gebeur waar die diktator Omar al-Basjir ook uit die kussings gelig is – die einste Al-Basjir wat weens aantygings van menseregtevergrype voor die internasionale strafhof gedaag is. Hy moes in 2015 soos ’n dief in die nag uit Suid-Afrika vlug nadat ’n plaaslike hof gelas het Suid-Afrika moet hom in hegtenis neem.

Hy is nou agter tralies danksy die massas Soedannese wat vir weke lank hul lewe gewaag het om aan straatoptogte teen sy regime deel te neem.

Die werklike politieke ‘akteurs’

Liesl Louw-Vaudran

Dit is ook interessant dat die Afrika-Unie (AU), so dikwels uitgekryt as ’n ondoeltreffende klub van diktators, ingegryp en gehelp het om die oorgang in Soedan deur onderhandelinge te bewerkstellig.

Die vraag is of die AU uiteindelik nou besef dat hy moet fokus op die welstand van gewone mense, eerder as net op leiers en regerings?

In ’n era van sosiale media en mobilisasie van mense kan jy nie net terugsit en dink die enigste politieke “akteurs” is politieke partye, die regering en rebellegroepe nie.

Burgerlike organisasies en die media speel ’n groot rol in demokratiese lande soos Suid-Afrika, maar in geslote, outoritêre state is die informele, dikwels gesiglose bewegings die werklike setels van mag en potensiële verandering.

En waar dit sleg gaan – soos op baie plekke in Afrika – gee hierdie bewegings wel hoop. Wanneer dan die massabetogings teen Eskom?

Aan die negatiewe kant, ongelukkig, het Afrika hierdie jaar swaar gebuk gegaan onder die verwoesting wat radikale Islamitiese groepe oor die vasteland heen saai.

Dit is dus toenemend nodig om te sorg dat ekonomiese geleenthede ook die uithoeke van Afrika bereik.

Van Mali tot Somalië en nou ook in die noorde van Mosambiek word mense byna op ’n daaglikse grondslag wreed vermoor. Om hul doel te bereik, word jong mense in hierdie lande en streke gelok om by die groepe aan te sluit – dikwels werkloses en armes wat deur die staat verwaarloos is.

Dit is dus toenemend nodig om te sorg dat ekonomiese geleenthede ook die uithoeke van Afrika bereik – iets wat selfs state met goeie bedoelings klaarblyklik net nie kan regkry nie.

Maar daar is tog hoop as mense in plekke soos in Soedan en Algerië hul lot in hul eie hande neem.

Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.