Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaner-akademici presteer in Nederland
Fransjohan Pretorius

Afrikaanse studente het ’n trotse studie-geskiedenis aan Nederlandse universiteite.

Tussen 1887 en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het minstens 380 Afrikaanse studente hul horisonne aan Nederlandse universiteite en opleidingsentra gaan verbreed.

Die stamverwantskap het dit aanloklik gemaak, veral toe die Nederlanders ná die Eerste Anglo-Boereoorlog en die Boere-oorwinning by Majuba hul Afrikaanse neefs herontdek het. Dit het gelei tot die stigting van die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Vereeniging in 1881 en vier jaar later die Studiefonds voor Zuid-Afrikaansche Studenten in Nederland, wat hierdie studies moontlik gemaak het.

Nagraadse opleiding

Maar ook voor 1887 het Afrikaanse studente hul nagraadse opleiding in Nederland geniet. Die eerste vroeë Afrikanerpa en -seun wat hul doktorsgrade in Nederland verwerf het, was Christoffel en Jan Brand, albei aan die Universiteit van Leiden. Christoffel het in 1820 gelyktydig twee doktorsgrade gekry – in die lettere en in regte. Jan behaal sy doktorsgraad in regte in 1845. Hy sou as president die Oranje-Vrystaat in ’n modelrepubliek omskep.

Later bekende teoloë van die NG Kerk wat in Utrecht gestudeer het, sluit in G.W.A. van der Lingen van die Strooidakkerk in die Paarl; N.J. Hofmeyr, wat professor aan die teologiese kweekskool op Stellenbosch sou word; en T.F. Burgers van Hanover, later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (1872-1877).

In 1887 het die eerste Afrikaanse studente met die studiefonds in Nederland gaan studeer. Minstens drie kêrels het voor die Anglo-Boereoorlog teruggekeer om die wapen teen Brittanje op te neem, en ná die oorlog weer na Nederland gegaan om hul doktorsgrade te voltooi: W.M.R. Malherbe (1906, stigter van die regsfakulteit op Stellenbosch); Hjalmar Reitz (1904, seun van die ZAR-staat­sekretaris F.W. Reitz) en H.C.M. Fourie (1910, teoloog van die NH Kerk en medevertaler van die Afrikaanse Bybel in 1933).

Doktorsgrade

Latere bekendes wat hul doktorsgrade voor 1939 verwerf het, was J.B.M. Hertzog (regte, 1892, Amsterdam); sy seun Albert (regte, 1929, Leiden); J.D. du Toit (“Totius”, teologie, 1903, Vrije Universiteit); D.F. Malan (teologie, 1905, Utrecht); J.F.W. Grosskopf (regte, 1913, Leiden); J.R.L. van Bruggen (letterkunde, 1922, Amsterdam); H.D. van Broekhuizen (teologie, 1922, Leiden, wat ook vir Suid-Afrika rugby gespeel het); C.M. van den Heever (letterkunde, 1929, Amsterdam); P.J. van der Merwe (geskiedenis, 1937, Leiden); G.D. Scholtz (geskiedenis, 1937, Amsterdam) en E.M. Hamman (regte, 1938, Leiden). Paul van Warmelo (regte) en F.J. du Toit Spies (geskiedenis) kon eers ná die Tweede Wêreldoorlog (met doktorsgrade van Leiden) huiswaarts keer.

Formidabele vroue

Formidabele vroue was daar ook.

Lydia van Niekerk het haar doktorsgraad in letterkunde in 1916 te Amsterdam behaal. Sy het op Stellenbosch die eerste vroueprofessor in Suid-Afrika geword. In 1923 het Petronella van Heerden, kleindogter van Marie Koopmans-De Wet, te Amsterdam die eerste mediese doktorsgraad in Afrikaans verwerf.

Elizabeth Conradie, wat in 1934 in Amsterdam in die letterkunde gepromoveer het, het haar beywer vir die kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika.

Dié Afrikaners se ervarings in ’n vreemde land gryp my aan.

Fisiek en geestelik ver van huis, verbysterende belewenisse in ’n onverwags anderse kulturele wêreld, met meedoënlose uitdagings wat hulle moes hanteer . . .

  • Prof. Pretorius is ’n geskiedkundige van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Nederland  |  Studente  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.