Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Afrikaner kán dekoloniseer’
Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, en prof. Pitika Ntuli, beeldhouer, skrywer, digter en akademikus, gister op ’n FAK-konferensie oor kolo-niale erfenis.Foto: Sarel van der Walt

Die Afrikaner kan nie eenkant staan nie. Hy moet deel wees van dié beweging, al verskil hy oor sommige belangrike aspekte, het prof. ­Danie Goosen op ’n FAK-konferensie oor koloniale erfenis by die Voortrekkermonument gesê.

“Dit is nie ’n onmoontlike doel nie. In ons kollektiewe geheue blink steeds die heldhaftige gevegte wat ons teen die grootste koloniale mag van sy tyd geveg het.

“Om die waarheid te sê, die belangrikste dryfveer wat in ons geskiedenis aan die werk is en ons ten nouste met die dekolo­niale beweging deel, is die soeke na vryheid,” sê Goosen, ’n filosoof.

“Ek dink die Afrikaner kan gemeenskaplike grond met die dekoloniale beweging vind wanneer hy besef dat die positiewe doel van dekolonisering is om ’n Afrika te skep wat homself op ’n simboliese en praktiese vlak verstaan.”

Goosen sê ’n les wat Afrikaners op die harde manier in hul stryd teen kolonialisme geleer het, is dat die “politiek van ’n wrok” teen die koloniale verlede niks anders is nie as die pad na selfvernietiging.

“Ons het geleer dat die etos van harde werk, gemeenskappe wat vir hulself verantwoordelikheid aanvaar en die soeke na gemeenskaplike belange die enigste ware weg na vryheid is.

“As dit nie gedoen word nie, raak jy vasgevang in gegriefdheid en is jy op ’n vreemde manier steeds afhanklik van die koloniale manier van dink.

“Wanneer jy verantwoordelikheid aanvaar vir jouself, breek jy vry van die ‘koloniale vesting’ – al is die onmiddellike ekonomiese, politieke en kulturele voordele nie dadelik sigbaar nie,” sê Goosen.

Die Afrikaner sal makliker deel word van die dekoloniale beweging as dié beweging sekere uitdagings takel.

Ongelukkig is Afrikaners vandag aan die ontvangkant van die gesentraliseerde staat.

Die modernisasie van die hele wêreld deur die Europeërs het hand aan hand gegaan met kolonialisme.

“Dit is histories gesproke byna onmoontlik om te onderskei tussen dié twee prosesse, modernisasie en kolonialisasie. Die een volg altyd in die voetspore van die ander.”

Die Afrikaner sal deel word van die dekoloniale beweging as hy verseker kan word dat die beweging verbind is tot ’n bedeling buite die “sentraliseringstendense van die moderne koloniale staat”.

“So ’n bedeling kan gegrond wees op die idee van een land (en uiteindelik Afrika homself) as ’n gemeenskap van gemeenskappe.

“Ongelukkig is Afrikaners vandag aan die ontvangkant van die gesentraliseerde staat. Laasgenoemde toon ’n merkwaardige gebrek aan begrip vir die behoefte van die Afrikaner om ’n redelike sê te hê in skole, een of twee universiteite, ensovoorts,” sê Goosen.

Die gevolg is dat die Afrikaners skepties en selfs onverskillig daaroor is.

“Dit moet verander word. Ek stel ’n forum voor waar Afrikaners en verteenwoordigers van die dekoloniale beweging om ’n tafel byeenkom en tot begrip kom oor hul gesamentlike soektog na vryheid buite die destruktiewe rol van ’n koloniale ingesteldheid.

“Ek glo dit is moontlik. Die Afrikaner het eerstehandse ervaring van kolonialisme wat hom diep laat ly het. Pleks van ander te beskuldig, het ons geleer om verantwoordelikheid vir onsself te aanvaar. Ons kan baie na die tafel bring.

“Net soos ons swart landge­note sien ons uit na ’n ware post-koloniale toekoms,” sê ­Goosen.

Daar is volgens hom baie ironieë in die Afrikaner se geskiedenis.

“Aan die een kant het hy die Britse Ryk beveg en dié se sentraliseringstendense weerstaan.

“Aan die ander kant het ons apartheid op dieselfde wyse afgedwing.

“Tot op hierdie dag het die Afrikaner nog nie hierdie fundamentele paradoks in sy eie geskiedenis in berekening gebring nie. Die rede is dat hy nog nie die logika van die staat deurdink het nie.”

Goosen wys ook daarop dat hoewel die dekoloniale beweging kolonialisering met die een arm weerstaan, omarm hy modernisering met die ander.

“Onthou net dat die meeste van sy (die dekoloniale beweging se) intellektuele en leiers aan Westerse universiteite gestudeer het.

“By dié sentrums van moderne leer het hulle baie goed geleer wat hulle nou met beduidende sukses in hul stryd teen kolonialisme gebruik,” sê ­Goosen.

“Maar dié instrumente, soos onder meer nasionalisme,

Marx­isme en kommunisme, is op ’n fundamentele wyse geslyp deur moderne veronderstellings en, meer ter sake, deur die ideologie van modernisme,” sê ­Goosen.

“Dit laat ons met ’n vreemde ironie: Die weerstand teen kolonialisme is van die begin af gekenmerk deur dieselfde ding wat hy sê hy weerstaan – die koloniale manier van dink.”

Goosen sê hy verwys na die kernrol wat die moderne territoriale staat speel.

“Dit het ’n verwoestende uitwerking gehad op die veelheid van plaaslike gemeenskappe, ­tale, kulture en tradisies wat hulle nou binne die grense van die nuwe moderne staat bevind.

“Voor die aankoms van die moderne staat het die verskillende gemeenskappe in ou Europa ’n lewe van relatiewe onafhanklikheid gelei.

“Gegrond op die beginsel van subsidiariteit, het hulle ’n regstreekse sê gehad in hul eie ­sake. Die res het hulle oorgelaat aan hoër owerhede.”

Die moderne staat het dit alles verander en die staat het al hoe meer verantwoordelikhede begin oorneem.

“Die staat het homself al hoe meer begin sien as die enigste voorsiener, die opperste en soewereine heerser in sy eie gebied. Die ryk tekstuur van gemeenskapslewe het meegegee voor die aanslag van die staat en sy territoriale ambisie om te standaardiseer en te beheer,” sê Goosen.

Dieselfde het in Afrika gebeur.

“Diep snye is in die vesel van tradisionele gemeenskappe gemaak. Dit het daartoe gelei dat jy net as ’n beskaafde mens beskou is as jy jou stam gelos het om die staat te dien en sy bevele te gehoorsaam.

“In die voetstappe van modernisasie het die koloniale magte die idee gevestig dat die inheemse gemeenskappe minderwaardig, primitief en selfs barbaars was.

“Hulle moes dit dus vervang met ’n moderne (lees: ’n Engelse of ’n Franse) leefstyl,” sê ­Goosen.

Prof. Pitika Ntuli, skrywer, digter, struggleveteraan en akademikus, sê swart en wit is vas in “dieselfde boeie” en hulle moet mekaar help om daarvan los te kom.

“Om die heeltyd skuldig te voel oor die verlede gaan jou nêrens bring nie.

“Ons moet van mekaar leer, want jul toekoms is my toekoms.”

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.