Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afrikaner kyk nou vorentoe
’’n Onlangse lugfoto van Orania in die Noordkaap.

Verlede jaar kan in een woord opgesom word en dit is die nuwe Afrikaanse woord “staatskaping”. In minder ontwikkelde Afrikastate sou dit eenvoudig as ’n mislukte staatsgreep beskryf word, skryf Carel Boshoffin sy “volkstaat-betoog” vir 2017 vir Orania.

Hierdie is ’n verkorte en geredigeerde weergaweStaatskaping en staatsgreep hou ten nouste met mekaar verband, want in albei gevalle kom dit daarop neer dat ’n belangegroep binne die staatselite probeer om toegang tot en beheer oor staatsinstrumente te monopoliseer en te behou.

Die klassieke staatsgreep word met behulp van die veiligheidsmag uitgevoer en is daarop gemik om die volgende magsetels te verower: die uitvoerende staatsgesag soos die presidensie, die openbare uitsaaier en die staatskas.

’n Staatsgreep is egter net moontlik waar die magsorde sodanig gekonsentreerd is dat dit met enkele beslagleggings of plaasvervangings oorgeneem kan word.

Dit gebeur byvoorbeeld waar ’n president selfstandige amptenare met lojaliste vervang het tot so ’n mate dat daar van ’n sin vir die staat, apart van die mense wat ampte beklee, naastenby niks oorgebly het nie.

’n Mens kan dus aanvoer dat ’n staatsgreep, of selfs net ’n ernstige poging tot ’n staatsgreep, deur suksesvolle staatskaping voorafgegaan moes word om regtig denkbaar te wees.

Anders sou daar eenvoudig te veel departementshoofde, regters, ministers en rekenmeesters wees – om van opposisieleiers en burgerlike verteenwoordigers nie eens te praat nie – wat hulle nie aan die selfaangestelde nuwe gesag onderwerp nie.

Daar is niks toevalligs daaraan dat, naas al die lonende poste wat mense om pres. Jacob Zuma ingeneem het, daar verlede jaar so ’n felle storm om die kop van die minister van finansies en die bedryfshoof van die SAUK losgebars het nie.

Nie eens ’n sittende president kan sy staat soos persoonlike eiendom behandel as hy nie die staatskas en openbare kommunikasie beheer nie.

Dit tel tot Suid-Afrika se krediet dat daar genoeg demokratiese instellings en kultuur was om die staatskaping te ontmasker en (voorlopig) te stuit.

Afrikaners kom uit ’n tradisie waar grond besit kan word en waar grondregte staatlik geadministreer word aangesien die staat histories die reg op lewe en eiendom waarborg.

Die Voortrekkers het byvoorbeeld vroeg reeds republikeinse owerheidsinstellings opgerig en ’n grondregime ingestel om ordelike vestiging te verseker.

Intussen het Zuma, in ’n land waar die meeste inwoners aan gemeenskaplike eerder as individuele grondbesit glo, dit sy nuwejaarsvoorneme gemaak om die herverdeling van grond ten koste van wit en ten gunste van swart inwoners te versnel.

Daarvoor beroep hy hom op nuwe onteieningswetgewing en op die Grondwet, maar ten diepste natuurlik op die populistiese sentimente van die deel van die bevolking wat aan armoede en wanhoop uitgelewer is.

Dit is nie ’n nuwe onderwerp nie, maar baie Afrikaners is nog geneig om te dink die staatlike grondregime waarmee hulle nog altyd bekend is, is ’n neutraal rasionele gegewe wat sal standhou teen die meerderheid se irrasionele en afwykende sienings daarvan.

Dit kan hulle suur bekom.

So lank as wat Suid-Afrika ’n demokratiese regstaat is, word goeie regsprosedure oor iets soos grondbesit of onteiening gewaarborg. Die feit dat staatskaping onlangs ontmasker en gestuit is, spreek natuurlik boekdele en het baie mense se geloof in die regstaat herbevestig.

Dit neem egter nie weg dat selfs ’n werkende liberale demokrasie uiteindelik aan die meerderheid se belang voorkeur gee nie en dat Afrikaners tot ’n ongeliefde minderheid behoort.

Of onteiening uiteindelik met rowwe werkershande of met fluweelhandskoene gedoen word, maak eintlik nie so ’n groot verskil nie; die vraag is of die staat ons reg op grond en eiendom beskerm of bedreig.

Ons bevind ons in ’n beskawingskonflik waarin elke kant op ’n intuïtiewe manier oortuig is van sy meriete en alles in sy vermoë sal doen om sy belang te bevorder.

Daar is vandag tekens dat Afrikaners hul ewewig herwin.

Afrikaners beskik egter, anders as tevore, nie oor enige staatsmag nie en is aangewese op so veel of min “gesonde verstand” as wat daar nog in die toepaslike dele van die staatsadministrasie oor is.

Aan die ander kant beroep die nuwe elite hom ondubbelsinnig op die Vryheidsmanifes en die gedagte dat die grond moet behoort aan wie dit bewerk – ’n gedagte met genoeg ooglopende appèl om nie sonder meer veroordeel te word nie.

Saam met ander transformasiestrategieë soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging plaas dit natuurlik enorme spanning op onderlinge verhoudinge – spanning wat deur sommige aangeblaas word ter bevordering van hul eie politieke denkbeelde en ondersteuning.

Bes moontlik gebeur daar nie in 2017 ’n enkele aardskuddende ding nie – behalwe dalk dat Zuma vervang word, maar selfs dit sal die Afrikaner se situasie nie wesenlik verander nie.

Daarvoor is die onderliggende kragte te sterk op die belange van die armoedige massa en hul (nie so armoedige) verteenwoordigers afgestem.

Maar selfs al aanskou ons steeds nie ’n kataklisme nie, moet ons teen ’n valse gerustheid waak. Afrikaners se posisie gaan heeltyd agteruit. Ons vermoë om strategieë wat ons selfstandigheid bevorder, in werking te stel, word in die proses ondermyn.

Ons moet dus nie die fout maak om die tyd wat ons gegun word te onderbenut nie.

Daar is vandag tekens dat Afrikaners hul ewewig herwin.

Daarby word bedoel dat ons mense weer selfvertroue openbaar en die gedagte dat ons met ’n ondraaglike skuldlas gestraf is, van ons afskuif.

Ons verlede is nie sonder foute nie, maar dit is ook nie net ’n reeks misdade nie.

Talle Afrikaners eien hul geskiedenis opnuut en op ’n gebalanseerde wyse toe.

Dit lê die grondslag vir ’n nugtere beoordeling van die hede en van maniere waarop ons vandag weer vir ons eie, billike belang kan intree – nie ten koste van ander nie, maar ook nie ten koste van onsself nie.

Ons moet besef dat Suid-Afrika al langer as twee dekades aan ’n doelgerigte transformasieproses onderwerp is.

Met ander woorde: Die Suid-Afrika van vandag kan eenvoudig nie die Suid-Afrika van 20 jaar gelede wees nie.

Ons moet ons nie verbeel dat die horlosie teruggedraai kan word en óns bloudruk op Suid-Afrika afgedruk kan word nie. Daarenteen moet ons nie ophou planne maak om ons eie, regmatige plek in die wêreld op te neem nie.

Die punt is dat hierdie woorde toenemend ’n staatkundige strekking kry.

Meer oor:  Orania  |  Afrikaner  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.