Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Afrikaners is nie spesiaal
’n Groep mense wat op 30 Oktober aan die sogenaamde Swart Maandag-betogings in die Vrystaat deelgeneem het. Foto: Mlungisi Louw

Ek is ’n Afrikaner met my wortels op Vrystaatse plase, ’n nasaat van Voortrekkers en Boerekrygers. Elke keer as ek van ’n plaasaanval hoor, rebelleer my gene en voel ek kwaad en neerslagtig.

Maar dit is nou 2017. Ek is ’n ingeligte, denkende mens met die vermoë om die geskiedenis en die omgewing waarin ek leef te ontleed en te verstaan.

Ek is in staat om my oerinstinkte met feitgegronde rede te oorkom en uit te werk waar ek en my etniese groep in die groter nasie inpas.

Dít is hoekom ek nie op Swart Maandag swart gedra of aan die proteste teen plaasaanvalle deel­geneem het nie.

Ek was bang dat dit in Wit Maandag sou ontaard; dat dit meer oor identiteitspolitiek en wit broosheid as oor die fisieke veiligheid van plaasbewoners sou gaan.

My vrese is bewaarheid en nou praat ek nie eens van die klein groepie verregse malletjies wat die apartheidsvlag geswaai en “Die Stem” gesing het nie.

Die protes was bedoel om ’n boodskap aan medeburgers en die regering te stuur, maar die boodskap wat ontvang is, is dat die steeds bevoorregte wit mense slagoffer wil speel; hul eie mense se lewe as van meer waarde as ander ag; dat hulle arrogant, self­behep en onsensitief is.

Ek het geen rede om die opregtheid van my vriende en kennisse wat in swart geprotesteer het, te bevraagteken nie – om op ’n plaas te woon, is deesdae sinoniem met konstante vrees.

Ek was bang dat dit in Wit Maandag sou ontaard; dat dit meer oor wit broosheid as oor die veiligheid van plaasbewoners sou gaan.

Maar ons moet diep begin nadink oor hoe ons vorentoe te werk gaan.

Feite is belangrik. Ons wéét deesdae dat plase toe nié die gevaarlikste plekke is om te woon nie, dat politieke motiewe die uitsondering eerder as die reël is.

Jou lewe is in groter daaglikse gevaar as jy op die bendegeteisterde Kaapse Vlakte bly of in plakkerskampe en townships, soos ­Nyanga, KwaMashu, Tembisa, Umlazi, Kagiso en Diepsloot.

Dit maak plaasaanvalle natuurlik nie minder verskriklik nie, maar deur net daarop te konsentreer, sê dat jy die lewe van mense in dié gevaarplekke as minder werd ag.

Langs die foto’s van vermoorde boere moes die wit middelklas op Swart Maandag foto’s van vermoorde townshipkinders en -ma’s op plakkate gewys het. Ons het die middele om vir hulle op te staan.

As ’n 8%-minderheid is ons wit mense inderdaad onder druk in Suid-Afrika. Baie swart mense voel steeds wrokkig jeens ons. Ná ’n bittere geskiedenis van kolonialisme en apartheid kon ons nie anders verwag het nie.

As ’n groep gaan dit steeds stukke beter met ons as wat dit met swart mense as ’n groep gaan. Sit jouself ’n slag in ’n swart werker of werklose se skoene en probeer jou indink hoe jy sou gevoel het.

Ons Afrikaners is nie spesiaal nie. Ons verdien nie beter behandeling as ander burgers nie.

Alle Suid-Afrikaners is slag­offers van ’n roofdierregime. Die Zuma-regering is nie skelm en vrotsig omdat hulle swart is nie, hulle is net skelm en vrotsig, soos heelwat regeerders met bleek gesigte in die Midde-Ooste, Suid-Amerika en lande van die ou ­Sowjetunie.

Afrikaners, die sogenaamde “wit stam van Afrika”, is nog hier en nog sterk as ’n groep omdat ons oor vele geslagte heen pragmaties en energiek was.

Ons nuwe uitdaging in demokratiese Suid-Afrika noodsaak ’n nuwe pragmatisme en nuwe energie. Nuwe oorlewingstrategieë.

Eenkant, dikbek en aggressief is nie ’n goeie strategie nie. Ons moet ’n nuwe, delikate balans tussen selfgelding en uitreik, tussen selftrots en medemenslikheid vind.

Ons moet onsself uit ons iso­lasie lééf, in ons eie en in nasio­nale belang.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Afrikaans  |  Afrikaner  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.