Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Afrikaners vermoor hul eie taal'

Mense mag dalk dink hy’s pedanties of oudmodies, maar dis Afrikaners self wat hul taal vermoor, skryf Gert van der Westhuizen.

Gert van der Westhuizen

Terwyl selfaangestelde taalstryders byna elke dag agter al

wat ’n bos is uitkruip, is Afrikaners besig om hul taal stilletjies te vermoor. Hul vernaamste wapen in dié moordtog is vertaalde Engels.

Hulle kompeteer eerder as wat hulle meeding, analiseer eerder as wat hulle ontleed. Hulle praat van sisteme en vergeet van stelsels. Miskonsepsies klink ook mos beter as wanopvatting?

Of hoe?

Die sogenaamde “jargon” wat alledaags in Engels geword het, deurspek hedendaagse Afrikaans ongelukkig ook.

“Ons sal jou navraag eskaleer, meneer,” hoor ’n mens dikwels waarna jy uiterste selfbeheersing moet toepas om nie jou foon middeldeur te byt nie.

My “persoonlike gunsteling” bly “ons sal die probleem aanspreek” – seker nes ons “the problem address” in Engels. Ons probeer nie meer die probleem oplos nie; ons spreek dit aan.

Ek wonder steeds hoe presies ’n mens dit doen.

“Hallo, Probleem. Hoe gaan dit nog met jou? Met my gaan dit eintlik heel goed. Dis net jou bestaan wat my sake ’n bietjie deurmekaar krap.”

As dinge maar net by die daaglikse aanspreek van probleme gebly het.

Maar vertaalde Engels is “besigheid soos gewoonlik”: ons hardloop ook uit geld uit, dit raak nie net meer op nie. Tyd en geduld loop ook soos in Engels uit.

Sommiges, vermoed ek, doen dit om slim te klink, hoewel hulle nie altyd die betekenis van “slim woorde” begryp nie.

Ons maak ook eerder op vir iets eerder as wat ons daarvoor vergoed.

“Dit wys jou net tot hoeveel moeite hy gegaan het,” hoor ek die ander dag oor die motorradio terwyl ek bestuur. Hoewel ek nie op een van ons land se “hoofwegte”” was nie, kon ek gelukkig beheer oor my motor behou en ná ’n paar ordentlike Afrikaanse vloekwoorde wonder waarom die persoon maar nie net gesê het: “Dit wys jou hoeveel moeite hy gedoen het” nie?

Dit voel vir my of sulke gruwelikhede net nie ophou nie. Klagtes word “gebring”, die Stormers is laaste op die “puntetafel”, “in the wild” word sommer “in die wild”. Mense “val aan die slaap”, hulle raak nie meer aan die slaap nie.

Iemand hoop sy span “eindig die seisoen af” met ’n sege. Hopelik volg sy span se spelers die bal op as daar geskop word en “jaag” hulle dit nie “af” nie.

Ek wonder gereeld waarom mense so graag na vertaalde Engels gryp. Ek vermoed hulle doen dit gereeld omdat hulle bloot te lui is om aan iets beters in Afrikaans te dink. Dalk weet hulle ook nie van beter nie.

Sommiges, vermoed ek, doen dit om slim te klink, hoewel hulle nie altyd die betekenis van “slim woorde” begryp nie.

“Ikoniese” is ’n voorbeeld. As ek nou nog een keer moet hoor iemand is ’n ikoniese speler vir sy span, sal ek dit straks nie oorleef nie. “Ikoon” beteken volgens my woordeboek bloot “gelukbringer”.

Hoe deel jy met iemand? Jy kan jou toebroodjies met ’n vriend deel of tien deur twee deel as jy besig is met wiskunde.

Gelukbringer veronderstel ’n haaspoot wat iemand in sy sak dra of aan ’n hangertjie om sy nek hang omdat hy glo dit gaan die wêreld vir hom ’n veel aangenamer plek maak en hom help om die regte Lotto-nommers te kies.

Duane Vermeulen is beslis nie ’n gelukbringer vir die Springbok-rugbyspan nie, hy is tog eerder ’n steunpilaar of sleutelspeler. Terloops, die woord “ikoniese” kon ek nêrens in ’n woordeboek opspoor nie. Beteken dit dalk daar bestaan nie so ’n woord in Afrikaans nie?

’n Mens kan tog verstaan as vertaalde Engels spontaan in ’n stryery of op die ingewing van die oomblik gebruik word.

Daar is egter geen verskoning as dit byvoorbeeld in radio- of televisie-advertensies gehoor word nie. Mense is mos betaal om advertensies te skep en het tyd gehad om daaroor te dink.

“Ek moes net met een persoon deel,” hoor ek deesdae omtrent daagliks oor die radio as ek werk toe ry.

Hoe deel jy met iemand? Jy kan jou toebroodjies met ’n vriend deel of tien deur twee deel as jy besig is met wiskunde.

Daar word seker bedoel die spreker het net nodig gehad om met een mens te praat. Maar nou deel hy/sy met net een mens soos jy in Engels met ander persone “deal”.

Aaklik, aaklig, aaklig . . .

Ander sal dink ek is onnodig pedanties of oudmodies. Maar sulke taalgebruik sal my bly pla.

Nonne het mos die kêreltjie “opgebring” eerder as grootgemaak? Nes die kolwer sy vyftigtal “opgebring” het met ’n kaphou.

Dis inderdaad genoeg om van naar te word.

* Gert van der Westhuizen is Beeld se sportredakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.