Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Afspraak met toekoms hier?
Barnard Beukman

Dit het Dinsdagmiddag maar strak gelyk in die kabinetsbanke toe pres. Cyril Ramaphosa leefstyl­oudits vir politici en senior amptenare aangekondig het.

“En ons gaan by die kabinet begin,” het hy voortborduur in sy repliek op die debat oor die staatsrede.

’n Eerste konkrete stap om inhoud te gee aan sy belofte dat 2018 die jaar is waarin korrupsie vasgevat gaan word.

Daar moet heelwat mense wees vir wie die politiek nie meer na so ’n rooskleurige beroep lyk as leefstyloudits die nuwe manier van doen word nie.

Die betekenisvolste – en duidelik berekende – beklemtoning in die toespraak was dat die Nasionale Ontwikkelingsplan sy en die ANC se plan is vir die pad vorentoe. Dit in reaksie op die EFF se beskuldiging dat hy net allerlei berade wil hou omdat daar nie ’n plan is nie. Die plan – wat selfs groot internasionale aansien het – was in die verlede ’n bron van verdeeldheid in die ANC. Dit het daartoe gelei dat Jacob Zuma dit op die rak laat stof opgaar het. Maar nou is die streep duidelik in die sand getrek. Nog ’n belangrike stap vorentoe om sekerheid en stabiliteit te bring oor watter riglyne vir toekomstige regering en ekonomiese groei beoog word. Moenie die moed wat dit verg, onderskat nie.

Die ongekende golf van positiwiteit onder die meeste Suid-Afrikaners in reaksie op Ramaphosa se benadering duur voort. Ook onder Beeld se lesers, op ’n ongekende skaal, te oordeel na hul reaksie wat hier ingestroom het.

Baie het bloot te doen met reaksie op positiewe woorde, simboliek, die oggendstaptogte saam met lede van die publiek en ’n algemene sin van waardigheid en ordentlikheid wat in die land se hoogste amp herstel is.

Ramaphosa se herontdekte reënboog gaan beslis straf getoets word oor vele kwessies.

Hoewel hy ’n politieke regeringshoof is, is ons president ook die staatshoof. En is dit sy opdrag om eenheid onder alle Suid-Afrikaners te bevorder. Daarmee het hy uitstekend weggespring en verdien hy die goeie reaksie.

Hyself het gister selfs aangevoer dat die Nasionale Vergadering se waardigheid herstel is in die manier waarop debat oor sy staatsrede gevoer is. En hy het gevra dat dit voortgesit word, “want dit is die mense se huis dié”.

Is dit nou alles maneskyn en rosegeur? Gaan die onwilliges wat teensinnig saamgesleep word op die Ramaphosa-wittebrood gou die skietgoed kry wat hulle soek om die einde van die sprokie aan te kondig?

Ramaphosa se herontdekte reënboog gaan beslis straf getoets word oor vele kwessies. Hoe hy ’n gebreekte staatsdiens gaan regruk om dienslewering en sy planne uitgevoer te kry. Sy beoogde herverdeling van grond en die impak daarvan op die ekonomie. En daar is nog geen teken dat hy die gekke idee van ’n nasionale gesondheidsplan nek wil omdraai nie – hoewel hy dit al by wyse van spreke met die kernkragplan begin doen het. Ook of Panyaza Lesufi se verskroeideaardebeleid teenoor Afrikaanse skole gaan voortduur.

Uit ’n ander windrigting – glo dit of nie – gaan hy ook wel deeglik getoets word as daar begin word om Zuma en ander politieke ampsdraers, soos Ace Magashule, te vervolg.

Baie interessant gaan wees hoe die DA, die EFF, die UDM en Cope hulself herdefinieer noudat Zuma nie meer die teiken in die gevegsarena van politieke wedywering is nie. Ongeduld oor hul rondvallery is ook merkbaar in Beeld-lesers se briewe en SMS’e.

In ag genome waar die land kon gewees het as Ramaphosa nie gewen het nie, is dit dalk vir alle Suid-Afrikaners die moeite werd om die geleentheid aan te gryp. Ook vir Afrikaanssprekendes is dit ’n tyd om takties nuut te dink. Is hier dalk ’n historiese geleentheid vir ’n sinvolle afspraak met die toekoms?

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Debat  |  Staatsrede  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.