Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Agter die skerms in Iran

Die konfrontasie tussen Amerika en Iran laat die vraag ontstaan: Wat beweeg die Iranse regime? Leopold Scholtz probeer om die wêreld, soos dit vanuit Teheran lyk, te verklaar.

Grafika: ISTOCK

Een van die heel moeilikste dinge in die lewe is om jou in die posisie van ’n ander in te dink. Veral as “die ander” ook nog iemand is wat jy grondig wantrou, selfs haat.

Tog, as ’n mens die wêreld behoorlik wil begryp, is dit nodig. Immers, die wêreld vanuit Moskou of Beijing bekyk, lyk heeltemal anders as dié vanuit Washington, Londen of Berlyn.

Let wel, om te verstaan beteken nie dieselfde as goedkeur nie. Maar as jy verstáán, kan jy “die ander” se optrede beter voorspel – en daarmee ook jou eie veiligheid dien.

Hoe lyk die wêreld dan vanuit Teheran? Waardeur word die teokratiese diktatuur in Iran gedryf? Om mee te begin, moet jy weet dat Iran ’n eeue oue hoë beskawing huisves, een wat die Grieks-Romeinse wêreld eeue lank uitgedaag en selfs dikwels uitgeput het.

Die land het tot 1935 bekend gestaan as Persië (afkomstig van Parsa, die naam van die nomadiese stam wat die omgewing teen 1 000 v.C. bevolk het), waarna dit onder Nazi-Duitsland se invloed verander is na Iran (wat herinner aan die begrip Ariërs).

Dié antieke Persië was uiters tolerant. Dit was die Persiese koning Koeroesj (die Bybelse Kores) wat die Israeliete in 539 v.C. toegelaat het om terug na Jerusalem te gaan en die tempel te herbou. In die sewende eeu n.C. is die gebied deur die profeet Mohammed se volgelinge verower en het dit ’n Islamitiese land geword. Binne enkele dekades ná Mohammed se dood in die jaar 632 het sy volgelinge in twee groepe uiteengeval: Die een was van mening dat slegs afstammelinge van die profeet se dogter (hy het geen seuns gehad nie) kalief kon wees; die ander dat die gemeenskap die kalief moes aanwys.

Dit was die begin van die skeuring tussen die Soenni’s (85% van die Moslems) en die Sjiïete (15%). Iran het ’n Sjiïtiese land geword, en Sjiïete vorm ook die meerderheid in Irak en beduidende minderhede in Libanon, Jemen en Sirië.

Die konflik tussen die twee groepe het die laaste jare tot ’n voortslepende oorlog – die Islamitiese ekwivalent van die Europese godsdiensoorloë van die 16de en 17de eeu – uitgegroei.

Voorlopig lyk dit of die Amerikaanse teregstelling van Soleimani Iran laat skrik het. Maar die onderliggende faktore wat die sig uit Teheran bepaal, het nie verander nie; dis eerder versterk.

Dit vorm die agtergrond van die gedurige rusies in Irak en Libanon, asook die burgeroorloë in Sirië en Jemen.

Die Iraniërs is ’n Indo-Europese volk, etnies verwant aan die Europeërs, en wie se taal en kultuur drasties van dié van die Arabiere verskil. Dit word versterk deur die feit dat Iran die leidende Sjiïtiese moondheid is.

In 1979 het die belangrikste Sjiïtiese teoloog, ajatolla Roeholla Chomeini, uit ballingskap in Irak teruggekeer en sjah Reza Pahlavi verban.

Chomeini het die sekulêre sjah se diktatuur spoedig met sy eie diktatoriale teokrasie vervang en alle minderhede – Soenniete, Koerde, Christene, aanhangers van die antieke Persiese profeet Zoroaster – wreed vervolg.

’n Ekstra komplikasie was die feit dat die Irakse diktator Saddam Hoesein in dié ontwrigte Iran ’n kans gesien het om sy eie mag te vergroot, en hy het Iran binnegeval. ’n Bloedige oorlog van agt jaar het gevolg, waarin meer as ’n halfmiljoen mense dood is, voordat die uitgeputte moondhede halt geroep het.

Chomeini is in 1989 oorlede en opgevolg deur ajatolla Sajjid Ali Hosseini Chamenei.

Uit dié geskiedenis blyk dat die sig vanuit Teheran deur een onregstreekse en twee onmiddellike faktore bepaal word.

Die eerste is die gevoel dat die Perse anders (en meerderwaardig) as die omringende Arabiere is. Dit wek uiteraard weersin by die Arabiere.

Die tweede, wat met die eerste saamhang, is dat Iran hom weens sy leidende posisie onder die Sjiïete as uitverkore beskou. Onderliggend aan al die internasionale optredes is die geloof dat die land die plig het om die gebrekkige Soenniete kennis met die “ware” Islam te laat maak.

Dis een van die belangrikste redes waarom Iran betrokke is by die burgeroorloë in Sirië en Jemen. In Sirië help hy die bewind van pres. Basjar al-Assad (lid van die Alawitiese sekte, verwant aan die Sjiïete), en in Jemen staan hy aan die kant van die Sjiïtiese rebelle.

Daarbenewens probeer die land ook steeds om sy invloed in Irak en Libanon uit te brei. Dis ’n gedeeltelike verklaring vir sy verbitterde vyandskap met die Soennitiese Saoedi-Arabië, die bewaker van Mekka – ook vir die Sjiïete ’n heilige stad.

Maar daar is ook ’n derde faktor: Teheran voel homself voortdurend bedreig. Dit het reeds binne enkele weke ná die val van die sjah begin, toe Irak Iran binnegeval het.

Die ideoloë in Teheran (van wie wyle genl. Kassem Soleimani een was) bekyk die buitewêreld dus voortdurend met wantroue en is geneig om bedreigings by wyse van spreke onder elke bed te soek.

Teen dié agtergrond het Iran se veiligheidsbeleid in die praktyk op twee pilare gerus.

Die een was om kernwapens aktief na te streef. Dié strewe is geblokkeer deur die internasionale ooreenkoms van 2015, waarvolgens Iran die ontwikkeling van kernwapens vir 15 jaar onder internasionale toesig moes staak. Die waghond wat moes kyk dat Iran dit nakom, was die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA), wat elke jaar gesertifiseer het dat die land hom aan sy verpligtings hou.

Die bewerings van pres. Donald Trump en premier Binyamin Netanyahu van Israel dat Iran kierang, is telkens deur die IAEA geloënstraf.

In 2018 het Trump Amerika aan die verdrag onttrek. Daarmee het hy minstens gedeeltelik die fondament vir die afgelope weke se krisis geskep.

Nou het ook Iran aangekondig dat hy hom nie meer aan die verdrag se bepalings gaan hou nie. Wat die hele veiligheidsituasie in die Midde-Ooste lelik kan laat uitrafel.

Die tweede pilaar van die Iranse buitelandse beleid is om bedreigings teen hom te neutraliseer. Dit is die ander rede vir Iran se steun aan Sjiïtiese elemente elders in die Midde-Ooste.

Die probleem is dat die omringende Arabiese Soennitiese lande dit op húl beurt weer as ’n bedreiging vir húlle beskou. En só kry jy ’n bose kringloop wat buitengewoon moeilik deurbreek kan word. Voorlopig lyk dit of die Amerikaanse teregstelling van Soleimani Iran laat skrik het. Maar die onderliggende faktore wat die sig uit Teheran bepaal, het nie verander nie; dis eerder versterk.

Daar is egter ’n liggie aan die horison. Die onopsetlike neerskiet van ’n Oekraïense passasiersvliegtuig buite Teheran het die groeiende ontevredenheid onder die bevolking laat uitbars.

Die korrupsie in die land, die ekonomiese swart gat waarin hy val, die dramatiese ineenstorting van die gewone mense se lewensomstandighede kan dálk, net dálk, tot die omverwerping van die teokrasie lei.

En dan? Nugter weet alleen – en hy wil nie sê nie.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Amerika  |  Iran
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.