Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Agterdogtige histerici smag na komplotte

Fietse, treine, roltrappe, hysers, vliegtuie en nou entstowwe. Daar is net geen einde aan samesweringsteorieë nie, skryf Rhynie Greeff.

’n Versameling histerici in opmars. Ondersteuners van Donald Trump op 6 Januarie op pad na die kongresgebou in Washington D.C. Foto: Getty Images

Histories was die wêreld dikwels histeries. Menigmaal op die rug van oningeligte histerici. Die onlangse strooptog op die kongresgebou in Amerika was só ’n versameling histerici in opmars.

Soms is die luidste histerici egter bakleiers teen nuwe innoverings – agterdogtige sinici wat alles verwerp waarvan hulle niks weet nie en ingewikkelde probleme oplos met eenvoudige samesweringsteorieë.

Religieuse histerici

Produkskandering is deesdae alledaags. Foto: Getty Images

Vat nou produkskandering. Vandag gaap jy verveeld agter jou masker by jou supermark se kasregister terwyl jou beursie met elektroniese toete leegloop. Vyf dekades gelede was dit anders toe genommerde strepieskodes op produkte begin verskyn, want massakore van “deskundige” onkundiges het dit uitgejou as 666, die merk van die duiwel, regstreeks uit Openbaring 13 vers 16.

Met die koms van die telefoon het Sweedse predikante in die 1800’s dit as ’n instrument van die duiwel uitgekryt. Ja, telefoonlyne was geleiers van bose geeste en is daarom gesteel en gesaboteer.

Gevaar in agterdog

Maarskalk Ferdinand Foch suig aan ’n sigaret. Hy was baie skepties oor die militêre waarde van vliegtuie. Foto: Getty Images

Toe die fiets gewild word, is dit gesien as ’n bron van kranksinnigheid. Dokters het “fietsgesig” gediagnoseer met donker skaduwees onder die oë en moeë uitdrukkings wat, veral vir vrouens, ’n gesondheidsgevaar was.

Treinontwikkelings in die 1800’s het “kundiges” genoop om te waarsku dat die hoë treinspoed mense se breine sou beskadig, dat mense hul verstand op treinritte sou verloor, dat mense se liggame sou smelt, ledemate van die liggaam afgeruk sou word en selfs dat vroue se baarmoeders teen die allemintige nuwe spoed van 50 myl per uur uit hul liggame sou vlieg.

Later, toe twyfelaars treine begin aanvaar, arriveer die motorkar. Dié perdelose kontrepsie was vir skeptici só gevaarlik dat Brittanje ’n wet gehad het dat selfaangedrewe voertuie op publieke paaie vooraf begelei moes word deur ’n man wat ’n rooi vlag waai en op ’n blaashoring trompetter. Ek is bly daar is nie vandag ’n ou in ’n rooi oorpak met ’n rooi vlag en ’n vuvuzela voor my in die pad nie.

En die eerste kameras? Daar is gou “gekliek” dis mos bose instrumente. Die Victoriaanse skilder sir Edwin Landseer het dit afgemaak as die “foe to graphic art”. Kodak se eerste draagbare kamera van 1888 het paniek veroorsaak omdat mense se privaatheid geskend sou word deur taktlose kieklustiges.

’n Vroeë roltrap, iets wat vrees by baie mense ingeboesem het. Foto: Getty Images

En wat van die innovasie van vliegtuie?

In 1895 verklaar die briljante Lord Kelvin, na wie die basiese temperatuur-eenheid kelvin vernoem is: “Heavier-than-air flying machines are impossible.” Gaan vertel dit nou vir Elon Musk. Hy het genoeg geld vermors.

Frankryk se maarskalk Ferdinand Foch, opperbevelvoerder van die Geallieerdes in die Eerste Wêreldoorlog, het eens op ’n tyd verklaar dat vliegtuie interessante speelgoed is, maar van geen militêre waarde nie. Fochville in Suid-Afrika is na maarskalk Foch vernoem, maar ook twee ander dinge: in 1929 ’n Franse kruiserskip Foch met twee vliegtuie op dek en in 1960 ’n groot vliegdekskip Foch met 40 vliegtuie. Dit bewys maar net dat Foch nie die fochste benul van visie gehad het nie. Soos baie agterdogtiges.

Hysbakke is gesien as doodsgevaarlik tot ’n skouspelagtige oomblik van tegnofobiese genesing. Tydens die New York Wêreldskou van 1853 klim Elisha Otis op ’n platform, laat hom ophys voor ’n skare met ’n tou en gee ’n man met ’n byl opdrag om die tou af te kap. Die byl kom af, die skare snak na hul asem, die platform skud vir ’n oomblik, maar dit val nie. Dit was die eerste veiligheidshysbak en die begin van ons wêreld van wolkekrabbers.

Uit die hysbak word die roltrap gebore en mense tree skielik weer op soos muise gedurende middagete by ’n katkonvensie.

In 1898 moes kliënte met vlugsout en brandewyn gemotiveer word om Brittanje se eerste roltrap by Harrods te gebruik. By die eerste roltrap in die Londense moltreinstelsel in 1911 by Earls Court is verskriktes gepaai deur ’n man met ’n houtbeen wie se werk dit was om die hele dag op en af met die roltrap te ry.

Baie lesers sal Y2K onthou. Vir jonger lesers, die wêreld was vasgevang in ’n histeriese vrees dat rekenaars nie op 31 Januarie 1999 die syfers van 2000 sou kon lees nie. Ja, ons sou weens rekenaarfoute op die nuwe millenniumdag moes koes vir Boeings met rekenaarfoute wat op ons neerbons. Rekenaars is toe vooraf aangepas. Niks het gebeur nie. Ook nie met onaangepaste rekenaars nie. Dit was maar net onsin.

Onsin oor Covid-19

Samesweringsteorieë oor Bill Gates en Covid kom oor die wêreld heen voor. Dié plakkaat was in Berlyn, Duitsland, te sien. Foto: Getty Images

Miskien het dit begin met los viruspraatjies sonder bewyse. Hei, die virus was ’n laboratoriumproduk. Ja, biologiese oorlogvoering vanuit China. Nee, die CIA het Covid-19 ontwerp en in China gaan plant. Nee-nee, dis gesteel uit ’n Kanadese laboratorium deur die Chinese. Wag, hulle sê dis ’n anti-Moslem-komplot. Dit kom van vlermuisgeregte. Nee, ietermagogsop. Nee, van muskiete. Dis ’n bevolkingsbeheerkomplot. Wragtig? Ja, kry nog ’n bier en vat ’n tjoppie.

Nou is Covid-19-entstowwe uiteindelik ontwikkel, maar dit word ontsier met abstrakte samesweringsteorieë.

Rhynie Greeff

Watter afkophoenderlogika lê agter die “feit” dat die Covid-19-pandemie ’n dekmantel is om opspoorbare mikroskyfies met entstowwe via 5G-selfoontegnologie by mense in te plant? Dit klink soos daardie Sweedse predikante wat telefoonlyne as geleiers van bose geeste gesien het. Hoe het ander afkophoenders “ontdek” dis Bill Gates se meesterplan om mense se brein te beheer? Draadlose inspuitings uit torings deur die lug reguit in jou brein? Wie ook al agter die 5G-Gates ding is, en dié wat daarin glo, kan maar rustig slaap want, as iemand jou brein gaan beheer, is daar een voorvereiste: jy moet darem ’n brein hê.

Selfs ons hoofregter Mogoeng Mogoeng het hom uitgespreek soos ’n Sweedse predikant teen “enige entstof van die duiwel wat bestem is om 666 in die lewe van mense in te spuit om hul DNS te korrupteer”. Ek steun vryheid van spraak, maar vergeet van die kool wat nie die sous werd is nie, want, as jy jou voet in jou mond sit, is die sool nie die kous werd nie. Hoe word 50 jaar gelede se kaf oor genommerde strepieskodes nou Bybels verbind aan Covid-19 en jou DNS?

Waarom glo so baie mense dat die Covid-19-entstof jou eintlik die siekte sal géé en doodmaak? Hoe het die misplaaste idees oor doodsgevaar van fietse, treine, karre, hysbakke, roltrappe en Y2K nou ’n Covid-19-gevaarteorie geword? Ons is vandag gesond omdat ons ouers ons laat inent het teen polio, masels, geelkoors, die lot. Covid-inenting gevaarlik? Die entstof wat ons nou kry, bevat nie eens lewende, dooie of onaktiewe Covid-virus nie, net ’n boodskap-katalisator om ’n skadelose proteïen vir immuniteit te aktiveer.

Kwessie van opregte onkunde en nougesette stommiteit

Graffiti in Londen wat die samesweringsteorie oor 5G onderskryf. Foto: Getty Images

As jy niks weet nie, bly dom en moenie ontleed nie. Ingewikkelde sake het mos ’n eenvoudig verklaring. Sameswering.

Digitale tegnologie het die wêreld kunsmatige intelligensie gegee, maar ongelukkig ook kunsmatige dwaasheid.

Kunsmatige dwaasheid verlei stommerike om te dink hulle is deskundiges wat “weet” ’n nuwe innovering kan nie suksesvol wees nie. Hierdie wêreldwye inenting van almal is vir wêreldwye welsyn. Dit moet gedoen word.

Nou ja, soos Peter Ustinov gesê het: “If the world blows itself up, the last audible voice would be that of an expert saying it can’t be done.”

• Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Elon Musk  |  Bill Gates  |  Samesweringsteorieë  |  5G  |  Vliegtuie  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.