Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ai tog, het PG du Plessis oor dié ‘kind’ gesê
Tienie Holtzhausen
Tienie Holtzhausen

Toe ek ’n paar jaar voor sy dood die kans kry om vir ’n vrouetydskrif ’n onderhoud met PG du Plessis te gaan voer, berei ek deeglik voor. Lees baie op oor hom. My vrae tik ek netjies op papier uit. Geen skootrekenaar tussen ons nie, besluit ek.

Sy plaas, nie ver van Ventersdorp af nie, is in ’n omgewing waar daar al heelwat plaasaanvalle was. Bangjan en versigtig vra ek my man om saam te gaan. Die plaashek hang skeef. Wawyd oop. Geen veiligheid nie. Sy kantoorkompleks, weg van die hoofhuis, is oopplan, met ’n sitkamertjie, badkamer en hordes boekrakke.

Met sy stem sterk praat hy oor sy prostaatkanker. Nooit het ek toe kon droom dat dit hom vier jaar later finaal sou inhaal nie. Sy glashelder verstand het my beïndruk.

“Toe jy my bel, kon ek hoor jy is nie meer jonk nie,” is PG se eerste woorde toe ek voor sy oorvol lessenaar gaan sit. “Maar ek het tog maar bly hoop die tydskrif stuur ’n wulpse jong poppie vir die onderhoud.” Sy oë vonkel.

Ek maak keel skoon en probeer om waardig te klink. “Ten minste weet ek meer as wat jong poppies weet, nie waar nie?”

Maar ek het tog maar bly hoop die tydskrif stuur ’n wulpse jong poppie vir die onderhoud.

Hy lig sy wenkbroue, asof verbaas oor die manier waarop ek hom geantwoord het. Ek kriewel in my stoel toe hy lank en ernstig na my staar. Eindelik breek hy die stilte. “En wat het jý nou al alles in jou lewe geskryf, my ding?”

Aangespoor deur sy belangstelling, vertel ek van my jare as joernalis. Hy luister aandagtig en dit maak my nog meer vrypostig. “Ja, dit sluit ook in agterblaaie en humorsketse.” Ek noem op en wei uit. Vol van myself sit ek regopper.

“Nogal ’n merkwaardige vrou wat jy het,” praat hy met my man. Dié se mondhoeke roer effens en PG kry my weer in sy visier. “Maar mens, dan moet jy seker baie van letterkunde ook weet?”

Ek skud my kop beslis. “Nee. Van letterkunde en poësie weet ek zero. Zilch. Nada.”

“O. Regtig?” Hy kyk so lank na my dat ek weer in my stoel begin kriewel van ongemak.

“Kom, ek gaan wys jou iets.” Hy stap na ’n boekrak met glasdeure en haal iets daar uit. “Hierdie houtkissie het N.P. van Wyk Louw vir my geskenk enkele dae voor sy dood.” Hy lig die deksel half heilig op. Die handgeskrewe bladsy wat hy uithaal, sit hy stadig en versigtig op die tafelblad langs ons neer. “Lees, kind, lees.” Ek wil-wil iets sê oor die “kind”, maar bly stil en lees. Ek trek my skouers vraend op. Ek het nie ’n idee wat dit is of hoekom hy dit aan my wys nie.

“Van Wyk Louw se wonderlikste sonnet nog ooit in Afrikaans!” Sy oë glinster.

Ek probeer om slim te klink. “Was dit iewers gepubliseer of is dit ongepubliseerd aan jou geskenk?”

Hy sug kliphard, draai sy rug op my en gooi sy hande in die lug. Hy stap na my man, wat in die ander hoek van die vertrek sit. “Meneer, jou vrou het wragtag nie gelieg oor haar kennis van letterkunde nie. Hoe gaan ek dit ooit deur hierdie onderhoud maak?”

  • Holtzhausen is ’n vryskutskrywer van Stilbaai.
Meer oor:  Tienie Holtzhausen  |  Pg Du Plessis  |  Onderhoud  |  Skrywer  |  Gedigte  |  Boeke  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.