Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ai, tog net nie nog ’n Zuma nie

Iewers staan daar in die Groot Boek opgeskryf dat as jy een bose gees verjaag, keer hy op die ou end terug met sewe ander, boser as hyself.

Johann Maarman

Die bedoeling was regtig nie om vandag ’n politieke preek af te steek oor Jacob Zuma nie, want ’n mens het al versadigingspunt bereik as dit by die Nommer Een van Nkandla kom. Kan dié man die land nog meer skok?

Want as hy nie met alle mag koes dat hy sy dag in die hof kry nie (iets waarvoor hy nogal self gevra het), dan is dit ’n twyfelagtige siekbrief van sy dokter wat die hoofnuus haal.

Met die naderende leierskapverkiesing van die balhorige ANC-jeugliga is daar egter weer ’n Zuma wat uitdraf. In dié geval is dit Duduzane Zuma, seun van vader Jacob, wat glo aspirasies het om tot adjunkleier van die ANC se kleuterskool verkies te word.

Duduzane duik nou oral op plekke op waar die ANC massavergaderings hou – veral in KwaZulu-Natal, wat ’n geil politieke akker is.

As ’n mens sien hoe lede van die ANC se vroueliga omtrent gemesmeraais word en oor hul voete val om ’n selfie met die jong Zuma te neem, sou ’n mens sweer hy is ’n bloubloed-ANC-engel. Onthou, dis nou dieselfde ANC-vroueliga wat gedink het dat Jacob Zuma se ongekende charisma hom oor politieke berge en dale sou dra en met jubelende akklamasie aangekondig het dat Zuma nooit herroep sou word as president van die land nie.

Hoewel die ANC-jeugliga nou maar ’n lae-oktaan-familielid is van die bevrydingsbeweging, het hulle al hoë-oktaan-leiers soos Peter Mokaba, Malusi Gigaba, Fikile Mbalula en . . . (oef) Julius Malema opgelewer. Onthou, wyle oudpres. Nelson Mandela was op sy dag self ’n ANC-jeugleier.

Durf ons die rol vergeet wat die ANC-jeugliga in die vernederende nederlaag van oudpres. Thabo Mbeki gespeel het?

Gigaba en Mbalula is albei deur Zuma nader gehark om in sy kabinet te dien en ook pres. Cyril Ramaphosa het albei ministersposte aangebied voordat Gigaba uit sy pos bedank het ná sy seksuele eskapades wat in die kuberruimte uitgespeel het, asook sy beweerde betrokkenheid by staatskaping.

Durf ons die rol vergeet wat die ANC-jeugliga in die vernederende nederlaag van oudpres. Thabo Mbeki gespeel het? Toe die ander lede van die ANC-familie nog aan die hanna-hanna was oor of hy moet bly of gly, was dit die jeugliga met Malema aan die spits wat die veldtog begin het dat Mbeki se dae getel is.

Wat ’n mens fyn moet dophou, is met wie die jong Zuma hom omring. Dit is die koalisie van die gewondes soos Ace Magashule en Bathabile Dlamini in wie se kraal die jong Zuma hom bevind – die selfaangestelde agente van radikale ekonomiese transformasie.

Natuurlik pas hierdie narratief van radikale ekonomiese transformasie vir Duduzane Zuma soos ’n handskoen, want dit is ’n agenda wat onder Jacob Zuma opgestel is. Hoe graag sou hy nie dié politieke projek van sy pa wil voltooi nie. Alles in die naam van die ANC se nasionale demokratiese revolusie, en nog beter as dit die tjap van die Zuma-handelsnaam kan kry.

Destyds is Malema as jong Cosas-leier nie gesien as iemand wat die ANC se boot kan roer nie. Dit was ’n verregaande idee. Hy was nat agter die ore en het geen politieke bedreiging ingehou nie. Totdat hy begin dromme omgooi en president van die ANC-jeugliga geword het en nou in die parlement sit as die leier van die derde grootste politieke party.

’n Mens behoort seker nie die vaders se sondes toe te reken aan hul telge nie. Maar noudat daar geluide is dat die jong Zuma in die krip neergelê word vir ’n leiersposisie, moet die alarms maar fyn gestel word.

Om dit bruut te stel: Ons het ons kwota Zuma’s gehad. Nie nog een nie.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Jacob Zuma  |  Politiek  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.