Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
AIG bied kans om te assosieer

Koos Kombuis het onlangs in die tweede reeks van die alternatiewe Afrikaanse musiekprogram Die wasgoedlyn wat op DStv gewys is afkeurend gesê: “Ons het nie geprotesteer sodat daar iets kan wees soos Afrikaans is Groot in die Moreletapark-kerksaal nie.”

Alida Kok

In dieselfde week wat hierdie TV-program uitgesaai is, het Afrikaans is Groot in ’n nuwe arena langs ’n casino (en nie in die Moreletapark-kerksaal nie) in Pretoria-Oos plaasgevind.

85 000 kaartjies is daarvoor verkoop en nege konserte is in Pretoria gehou. Dit blyk dat die vertonings hoofsaaklik deur wit Afrikaanssprekendes van die gebied bygewoon is. (Steve Hofmeyr se Instagram-foto’s gee ’n idee van hoe die gehoor gelyk het.) Met ongeveer 498 000 wit Afrikaanssprekendes wat in Pretoria woon – die grootste konsentrasie van hierdie taal- en rasgroep in die land – beteken dit ongeveer 17% van hierdie groep het die geleentheid bygewoon.

Dit moet die grootste byeenkoms van hierdie mense in ’n hele paar jaar wees. Die enigste ander onlangse geleentheid met ’n groot wit Pretoriase massabywoning was die twee vertonings van die Britse folk-rockgroep Mumford & Sons in 2016 in die Voortrekkermonument se amfiteater. Meer as 50 000 mense het hierdie konserte bygewoon. (Die groep se musiekvideo op YouTube “Live from South Africa: Dust and Thunder” wys hoe ’n massiewe skare jong Suid-Afrikaners hulle toejuig.)

Rugby en Loftus Versfeld (met plek vir 51 000 mense) is nie meer die trekpleister in Pretoria wat dit altyd was nie; ’n paar duisend mense het aan onlangse politieke protesoptogte in die hoofstad deelgeneem; en Angus Buchan het ook maar ’n skamele paar duisend mense met sy laaste bidgeleentheid in die stad gelok. ’n Ander geleentheid in Pretoria met ’n massabywoning is die musiekfeeste in Moretelepark in Mamelodi.

Die Suid-Afrikaanse samelewing het idees van diversiteit skeefgetrek en mense ly swaar daaronder.

Waar die alternatiewe Afrikaanse musiek wat in Die wasgoedlyn-reeks gespeel is as “egter kuns” omskryf kan word, het Afrikaans is Groot ’n beeld wat gepaardgaan met poptreffers en ’n country-soort kommersiële sukses. Bernoldus Niemand het juis in 1985 gepraat-sing dat “oral in die strate is die fans van country-plate, in Pretoria” en dit lyk sowaar asof hierdie liriek oor Pretoria steeds geld.

Hoe verduidelik ’n mens die massa-bywoning van die Afrikaans is Groot-konserte in Pretoria? Dit is veral ’n interessante vraag as ’n mens in ag neem dat hierdie konsert ’n redelik omstrede regse politieke identiteit onder mense het. Nie almal wat die konsert bygewoon het, sal maklik vir iemand anders sê dat hulle daar was nie, want volgens ’n onuitgesproke populêre mening kan jou bywoning van dié geleentheid by ander die idee skep dat jy ’n sogenaamde regse politiek onderskryf. In ons samelewing is dit ’n groot politieke sonde.

Buiten die feit dat die perseel waar die Afrikaans is Groot-konserte nou aangebied word toegankliker en aanlokliker as ’n kerksaal is, het hierdie reeks konserte mense wat smag om weer te ervaar hoe dit voel om deel van ’n gemeenskap te wees bymekaargebring. Op die konsert was daar oomblikke dat ooms in die gehoor sigbaar staan en huil het. ’n Skeptiese kommentator sal sê emosionele opsweping het mense laat huil, maar ek dink tog die konserte het wit Afrikaanse mense die geleentheid gebied om in mekaar se teenwoordigheid te rou oor die gemeenskap wat hulle verloor het sonder om skaam te wees daaroor.

’n Gesonde samelewing beskerm en bevorder diversiteit, maar bewaar ook die geleenthede vir mense om in hul vryheid te kan assosieer met ander mense wat “soos hulle is”.

Die Suid-Afrikaanse samelewing het idees van diversiteit skeefgetrek en mense ly swaar daaronder.

  • Kok is ’n dosent in politiek by Akademia.
Meer oor:  Assosieer  |  Aig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.