Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Aitsa is protes én nuwe begin
Willie Spies

Woensdagaand vind die eerste Aitsa- Afrikaanse musiekprysuitdeling in die Moreletapark-ouditorium in Pretoria plaas. Dit gaan ’n grootse vertoning met 20 van die land se gewildste Afrikaanse kunstenaars wees.

Die geleentheid is tegelyk ’n protes, maar ook ’n nuwe begin. ’n Protes omdat dit ’n regstreekse uitvloeisel is van die ongelukkige voorval vroeër vanjaar toe die organiseerders van die Ghoema-pryse, op aandrang van die hoofborg, die benoeming van die musiekvideo van “Die land” in die kategorie vir beste musiekvideo moes onttrek.

Dít was omdat Steve Hofmeyr een van vyf kunstenaars was wat daarin opgetree het. Die ander sangers wat saam aan die lied gewerk het, was Bok van Blerk, Jay du Plessis, Bobby van Jaarsveld en Ruhan du Toit.

Heidi Edeling, die uitvoerende hoof van die Ghoemas, het destyds te kenne gegee dat die keurkomitee “demokraties” besluit het om die lied te diskwalifiseer ná ’n ultimatum van die hoofborg.

Die lirieke van “Die land” is geskryf deur Johan Oberholzer, ’n begaafde jong liedjieskrywer uit Namibië. Dit is ’n ode van ’n ouer aan sy kind te midde van die onsekerheid oor die toekoms:

Waar gaan jy speel met jou maatjies? / Waar gaan jou spore toe waai? / Waar gaan jy val, gaan jy opstaan en huil? / En waar gaan jy staar na die sonsak wat myle strek?

Wat los ons oor vir ons kinders? / Wat gaan ons eendag kan wys? / Wat is nog reg of verkeerd, wil ek weet? / Wat maak ons as jare se sweet te vergete gaan?

Dit is noodsaaklik om ’n selfstandige stem aan Afrikaanse kunstenaars te gee.

Ek los vir jou die son en die see en die land my kind / Belowe jy sal my aan die einde vind / My vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai vir jou / En jou veilig hou

Ek los vir jou die son en die see en die land my kind / Die here hoor my – Ons sal ’n lewe vind / My vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai vir jou / Ek belowe jou: Die land behoort jou

Die diskwalifisering van die lied was ’n onreg. Die enigste rede daarvoor was die identiteit en standpunte van een van die vyf kunstenaars wat saam die lied vertolk het.

By die oorhandiging van die Ghoemas in April het Demi Lee Moore, wie se musiekvideo van “Mis, eet, slaap, herhaal”, wat toevallig ook deur Johan Oberholzer geskryf is, in haar aanvaardingstoespraak gesê sy wil die prys deel met die vyf kunstenaars wat nie daardie aand vereer is nie.

“Verder wil ek dit opdra aan elke persoon wat nog hoop het in hierdie land, wat bly in hierdie land, wat hulle kinders grootmaak in hierdie land en wat lief is vir hierdie land,” het sy onder luide toejuiging gesê.

Die Aitsa-pryse kan ook ’n nuwe begin wees vir die Afrikaanse musiekbedryf.

Volgende Woensdagaand is Demi Lee Moore, Elvis Blue, Steve Hofmeyr, Corlea Botha, Refentse, Snotkop, Dewald Wasserfal en Adam Tas almal in die vertoning wat deel van die toekenningsgeleentheid gaan uitmaak.

Wat die pryse self betref, het ’n onafhanklike paneel die beoordeling gedoen en die organiseerders of borge geen rol gespeel nie. In vyf kategorieë kon lede van die publiek stem.

Volgens die organiseerders van die geleentheid is die kaartjieverkope reeds heelwat meer as vir soortgelyke gesellighede.

Dit is noodsaaklik om ’n selfstandige stem aan Afrikaanse kunstenaars te gee. Kunstenaars moenie aan bande gelê word deur die heersende politiek van die dag nie.

Die Aitsa-pryse kan die begin daarvan wees.

  • Spies is die voorsitter van Pretoria FM wat die inisiatief geneem het om die Aitsa-pryse te vestig.
Meer oor:  Willie Spies  |  Musiek  |  Afrikaans  |  Aitsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.