Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Akademiese potensiaal van Afrikaans deur US versterk

Die opskrif “Taaltwis is opgelos, sê US” in Die Burger van 11 Mei en die spotprent in Die Burger van 12 Mei kan die verkeerde indruk wek – dat die Universiteit Stellenbosch (US) van mening is dat alle kwessies om Afrikaans aan die US, sover dit ons betref, opgelos is.

Dit is nie wat die US aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) met dié se besoek aan die US op Maandag 10 Mei deurgegee het nie.

Die feite is dat die US, via sy rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, spesifiek verwys het na die kwessie van ’n beweerde verbod op Afrikaans in (’n) spesifieke koshuis(e) tydens die verwelkomingsperiode.

Fred Mouton se spotprent wat op 12 Mei verskyn het.

De Villiers het aan die MRK gesê in ’n komplekse omgewing soos ’n groot universiteit verloop alles nie altyd volgens plan nie. Indien studenteleiers wél nuwelingstudente opdrag gegee het om slegs Engels in sosiale verband te gebruik,sou dit verkeerd wees. Dít is nie die US se beleid nie; dis nie veronderstel om te gebeur nie.

Hy het ook gesê toe die bewerings aan die lig gekom het, die US dit vinnig begin ondersoek het en daar opgetree is. Via die afdeling studentesake is daar met studenteleiers en studente in koshuise in gesprek getree om ’n gemeenskaplike begrip van die taalbeleid en die implementering in die koshuisruimte te verseker.

En sover ons bewus is, is die kwessies bevredigend opgelos.

In sy aanbieding aan die MRK het De Villiers dit duidelik gestel dat die suggestie dat studente oor die hele kampus heen in enige stadium ingevolge universiteitsbeleid verbied is om in Afrikaans te kommunikeer onwaar is.

Om De Villiers direk aan te haal: “Daar is geen verbod op Afrikaans by die US nie – nie in lesinglokale, in koshuise of op enige ander plek op kampus nie. Dit is nié ons beleid nie.”

En: “Daar is geen beleid dat slegs Engels in koshuise gebruik mag word nie. En studente behoort nie verbied te word om Afrikaans of enige ander taal te praat nie. Die universiteit kan dit nie goedpraat nie, want dit sou strydig wees met ons visie, ons waardes sowel as ons taalbeleid.”

Sake wat met taal, insluitende Afrikaans, verband hou, is vir die US belangrik – daarvan getuig ons taalbeleid en die erns waarmee ons dit benader.

Soos die rektor dit in sy aanbieding gestel het: “Afrikaans het oor dekades ’n akademiese repertorium opgebou waartoe die US beduidend bygedra het.

“Die toepassing en versterking van die akademiese potensiaal van Afrikaans dien as ’n instrument om ’n groot en diverse gemeenskap in Suid-Afrika te bemagtig.

“Ons is ’n inklusiewe, meertalige universiteit, een van net ’n handvol hoëronderwysinstellings in ons meertalige land wat hierdie benadering volg.

“Deur aan meertaligheid blootgestel te word en mekaar se kultuurerfenis te leer respekteer, word ons studente betrokke burgers in ’n diverse samelewing. Ons is vol vertroue dat die Universiteit Stellenbosch se studente meer keuses, groter toegang en ’n beter toekoms het danksy ons benadering tot taal.”

  • De Villiers se volledig aanbieding is op die US se webblad, www.sun.ac.za, beskikbaar.Dr. Van Rooi is die Universiteit Stellenbosch se senior direkteur: sosiale impak en transformasie en woordvoerder oor taal.
Meer oor:  Afrikaans  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.