Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Aktivis beywer hom nou vir renosters

Lord Peter Hain, politikus en anti-apartheidsaktivis, het onlangs ’n boek gepubliseer oor renosterstroping. Hy het met Elise Tempelhoff gepraat.

Die nuwe realiteit . . . ’n renoster wat onthoring is en haar kalfie. Renosterstropery is die tema van Peter Hain se nuutste boek. Foto: ISTOCK

Peter Hain het reeds 20 boeke gepubliseer en die tema van sy jongste, The Rhino Conspiracy, is renosterstropery in Suid-Afrika.

In dié riller trek hy versigtig lyne tussen stropers en opdraggewers en die rol van amptenare en senior politici. Hain sê elkeen van die karakters is op regte mense gegrond, behalwe dié van Thandi Matjeke, ’n vrygeborene.

Van die karakters is die veteraan wat ontnugter is deur die ANC-regering; en die skerpskutter wat eers as lyfwag vir ’n president gewerk het, maar wie se visier deesdae op renosters gemik is.

Hain neem sy lesers van die denkbeeldige Zama Zama-reservaat na Kalkbaai, Johannesburg, Pretoria en selfs Londen.

Waarom die naam Zama Zama, want vir Suid-Afrikaners is dit sinoniem met onwettige myners? Hain verduidelik Zama Zama beteken in Zoeloe “hou aan probeer”.

Dié woorde eggo later weer in die boek wanneer die veteraan aan sy bondgenote (wat nou teen stropery en die verrotting van die ANC veg) sê: “Moet nooit, nooit, ooit opgee nie.”

Oorlogsone

Die saadjie vir die skryf van The Rhino Conspiracy is in 2015 geplant toe Hain en sy vrou, Elizabeth, “ ’n vakansie van ’n leeftyd” onderneem het.

Peter Hain saam Siya Bonge en Chad Bouwer, die twee veldwagters op wie die karakters Isaac Mkhize en Steve Brown gegrond is.Foto: JONATHAN BALL

“Ons het twee natuurreservate in Botswana besoek. My vrou hou baie van olifante, weet jy, daarom het ons Chobe besoek, waar ons báie gesien het. Hierna is ons na Thula Thula in die noorde van KwaZulu-Natal.”

Skielik was hulle in die middel van ’n “oorlogsone” vasgevang.

“Dit was skokkend. Ons het oral gewapende veldwagters gesien.”

Hy het begin vrae vra. “Waarom al die wapens? Hier in die rustige KwaZulu-Natal, op ’n natuurreservaat, waar dier en mens veilig behoort te wees en waarheen besoekers kom om liggaam en siel te verkwik? Waarom is hier soveel gewapende veldwagters? Waarom het veldwagters nou skielik soldate geword?”

Dis in dié gesprekke met veldwagters waar die idee vir die boek ontstaan het. Dit, saam met die werklikheid dat oudpres. Nelson Mandela se drome en hoop vir ’n beter Suid-Afrika onder oudpres. Jacob Zuma verpletter is.

Hy het goeie vriende geword met twee van die veldwagters en hulle is hoofkarakters in sy boek. Hain sê in sy gesprekke het hy bewus geword daarvan dat vertroue, wantroue en agterdog déél is van die veldwagters se lewens.

“Wie onder jou kollegas kan jy vertrou en wie heul met die vyand?”

’n Nuwe werklikheid, waarvan hy voorheen net vaagweg bewus was, het met sy besoek aan Suid-Afrika vir hom oopgegaan. Dis ’n wêreld van wildstropery, verraad, misdadige netwerke, sindikate, geldwassery, hebsug, die skending van menseregte, mensehandel, wapensmokkelary en selfs moord.

Hain, wat destyds as anti-apartheidsaktivis wou help om ’n onregverdige regering omver te gooi, is gekonfronteer met ’n nuwe stryd.

Hy sê hy was wel bewus daarvan dat die grensoorlog in Angola gedeeltelik deur ivoorsmokkelary gefinansier is.

“Hoë koppe, selfs generaals, was destyds betrokke by die smokkel van ivoor wat na die Ooste uitgevoer is. Die ivoor is in kratte verpak. Daarop is etikette geplak met die woorde: ‘Militêre toerusting’. Die stropery van renosters was vir my nuus.”

Die gebruik van renosterhoring deur die opkomende ryk elite in Viëtnam en China as ’n medisinale produk vir allerlei siektes waarvoor geen wetenskaplike bewyse is nie, is vir Hain “obseen”.

Peter en Elizabeth Hain op safari.

’n Wêreld sonder renosters

Terug in Brittanje het Hain met navorsing oor renosterstropery begin. Dit het twee jaar geduur.

Hy het Julian Rademeyer se Killing for Profit: Exposing the Illegal Rhino Horn Trade bestudeer om die binnewerking van sindikate te probeer verstaan.

Een van die vrae wat by hom opgekom het, is wat dit sou beteken as renosters heeltemal uit die ekostelsel sou verdwyn. Behalwe die funksionering van sindikate, was daar dus ’n ander, ewe ingewikkelde netwerk wat hy moes probeer ontrafel, naamlik dié van biodiversiteit. Dit het hom genoop om selfs die geografie te bestudeer waar sy boek afspeel. Watter diere en plante kom in watter klimaatstreke voor?

“Dit is een ding om bewus te wees van die natuurlike omgewing, maar dit is ’n ander ding om dit in diepte te verstaan,” sê hy.

Hy moes ook in detail oor renosters navorsing doen en weet hoe die diere funksioneer. Hy beskryf treffend hoe dié prehistoriese diere, half-blind, hul ore byna 360 grade kan draai om geluide te kan raakhoor en hoe ’n koei haar horing gebruik om haar kalfie te beskerm. Dit is juis dié horing wat die koei so nodig het wat in die visier van die stropers is . . .

“Met hul horings verdedig renosters hulself. Sonder hul horings is hulle niks, net reusagtige diere, verlore en verwilderd.”

Met sy navorsing het Hain besef die mens is besig om die natuur te vernietig.

Elise Tempelhoff

“Dit is ’n feit. Die mens is besig om die aarde se ekostelsels te vernietig om sy vraatsug te probeer bevredig. Die natuurlike wêreld is besig om terug te veg deur byvoorbeeld Covid-19, wat wetenskaplikes toeskryf aan die eet van vlermuise in China.”

In die boek, wat “mildelik” deur die bewaringsorganisasie Save the Rhino ondersteun is, word raak beskrywings gegee van die verskil tussen swart- en witrenosters.

Met sy besondere beskrywings van Kalkbaai, Valsbaai en selfs Pretoria, is dit moeilik om te glo Hain woon al sedert 1966 in Brittanje.

“Suid-Afrika is in my bloed,” verduidelik hy. Ná 1994 het hy dikwels teruggekom. Voor die oorgang na die nuwe regering, wou hy dit “nie waag nie”.

In sy navorsing, sê Hain, het hy ook afgekom op bewerings van korrupsie teen senior politici in die Zuma-era. Dit het hom kwaad gemaak, want hy reken daardeur “is die etiese beginsels van vryheidsvegters vertrap”.

Hoe gebeur dit dat sindikaatbase nie vasgetrek word nie en dat die stropery voortduur?

Dalk verklaar dié aanhaling in The Rhino Conspiracy van ’n voormalige comrade – gegrond op ’n werklike gesprek wat Hain gehad het – iets: “As jy vir jare feitlik niks gehad het om te eet nie en nou het jy die kans, dan eet jy soms te veel.”

  • Tempelhoff is ’n vryskut-omgewingsjoernalis.
Steun vir CR

Hain meen dinge in Suid-Afrika het erg begin skeefloop ná die Marikana-skietery en die Esidimeni-tragedie.

Hy erken hy is teleurgesteld, kwaad en ontnugter oor die feit dat oudpres. Jacob Zuma Suid-Afrika byna tot op sy knieë gebring het.

“Hy het drome vernietig, maar daar moet hoop wees vir ’n beter toekoms vir Suid-Afrika.

“As pres. Cyril Ramaphosa dit nie gaan regkry om Suid-Afrika op ’n ander – die regte – roete terug te bring en etiese waardes binne die ANC te herstel nie, lê daar ’n baie donker toekoms vir Suid-Afrika voor. Ek steun Ramaphosa.

“Ek het hoop vir Suid-Afrika onder hom.”

Aktivis

Hain is in 1950 in Kenia gebore, maar het in Suid-Afrika grootgeword. Sy ouers, Adelaine en Walter, moes in 1966 uit die land vlug weens hul standpunte teen apartheid.

In die laat sestigs was Hain die voorsitter van die komitee wat die Springbokrugbytoer in 1969-’70 na Brittanje ontwrig het. Die toer moes uiteindelik afgelas word.

Hain is hierna deur baie wit Suid-Afrikaners as vyand gebrandmerk.

Hy het verlede jaar voor die Zondo-kommissie na staatskaping in Suid-Afrika getuig sekere internasionale finansiële instellings, korporasies en regerings het staatskaping toegelaat. Hy het as lid van die Britse parlement en die Arbeidersparty ’n beroep op rolspelers gedoen om te verseker dat diegene wat Suid-Afrika “beroof het, aan die pen sal ry”.

Hoop is nie genoeg

The Rhino Conspiracy word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R340.

Volgens Hain het hy positiewe terugvoering van bewaringsbewustes oor die boek ontvang. Die doel van die boek was juis om mense insig te gee in die ingewikkelde werking van sindikate wat betrokke is by wildstropery en hoe gevaarlik dit vir Suid-Afrikaners is om dié misdaad gelate te aanvaar.

’n Vurige internasionale veldtog “van voetsoolvlak tot by die hoogste (eerlike) regeringsamptenare” is volgens hom al wat gaan help in hierdie stryd. “Hoop (dat renosters hierdie oorlog gaan oorleef) is nie genoeg nie.”

Hy verstaan ook nie waarom die departement van omgewingsake, bosbou en visserye nog nie veldtogte in China van stapel gestuur het teen die gebruik van renosterhoring nie. “Dit sou die aangewese manier wees om die wortel van die kwessie aan te pak.”

En waarom is die Chinese regering so stil?

Hain wys daarop dat mense in die Ooste bereid is om meer vir renosterhoring te betaal as vir goud.

Regerings sal beslissend móét optree en hy sien dit nog nie gebeur nie. Hy sal daarmee volhou om mense bewus te maak van die stryd teen renosterstropery, maar ook dié teen olifante, leeus en ander wild. “Dit is nie net in die diere se belang nie, maar in die belang van die mensdom.”

Hy het die boek aan sy vrou, Elizabeth, opgedra.




Meer oor:  Lord Peter Hain  |  Renosters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.