Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Al die jare was ék toe die Bokke se Jona

Ek het vroeg laasweek al besluit dat ek Saterdagoggend iets sal moet reël om tydens die Bokke en All Black toets te doen.

Of dít, of Oudok vra om vir my sterker bloeddrukpille voor te skryf.

Ek maak toe daai tyd ’n sleepwa skoon, saag takke, ry vuilgoed weg en speel met my kleinkind.

Blouwillem

Vir die eerste keer sedert 1960 met ou Awie Lawweskagnie se uitsendings luister ek nie radio nie, kyk nie eers met ’n swysbril die wedstryd op televisie nie en bewys so my volk ’n hengse guns.

Ek besef nou dat ek al die jare die Bokke se Jona was, oftewel minstens sedert 1995 toe ek op Ellispark vir Joël Stransky met sy skepskop gehelp het.

Nee, natuurlik het ek agterna die hele wedstryd drie keer gekyk en selfs “rewind” om beserings oor en oor te kyk, om van die drieë nie te praat nie. Lekker verby!

Maar wie my nou na dese ooit weer met ’n toetswedstryd na ’n losie gaan nooi weet ek nie.

Sal dit werk as ek myself vermom en inglip met die Loftustoets oor twee weke?

Dis darem tragies om te hoor dat Johannesburg 29 brandweerstasies het, maar net 16 werkende brandweerwaens.

Oom Johnny sê dit laat hom amper na ou Maaik Schutte verlang.

Ou Maaik het mos die brandweer gebel en benoud geskree: “Kom dadelik, my huis is aan die brand!”

’n Kalm stem aan die ander kant probeer toe sy woonadres uit ou Maaik kry en vra: “En hoe kom ons daar by u meneer?”, waarop Maaik benoud vra: “Het julle dan nie meer van daai rooi lorries wat julle altyd gehad het nie?!”

Ja, ou Maaik, en nou is dit so naby aan die werklikheid dat dit ook nie eers meer snaaks is nie.

Ai Maaik, en waar’s die dag toe ’n ou met jou kom simpatiseer het oor jou winkel wat afgebrand het en jy so rondgeloer en dringend gefluister het: “ Sjuuuut, dis eers moreaand!”

Toe maar ou vriend, die volk dink nog baie aan jou in hierdie dae waar die grappies skraps geraak het!

Hierdie week het daar mos ’n stokou amptelike brief uit 1972 se lugdiensjare sy verskyning gemaak waarin ’n skraal waardunnetjie (stet), Elza Bester, gewaarsku is dat sy 1,1 kg te swaar is en dat sy haar werk kan verloor as sy nie vinnig van die oortollige vetjies ontslae raak nie.

Met ’n vlugdiens wat gereeld geweeg en te lig bevind word, maar met ’n goeie kwota waardikkes wat saamvlieg en saameet, sal jy darem sien as jy in vandag se tye so ’n ou briefie skryf, hoe vinnig die vetbonde op jou sal wees.

Maar nou ja, as die Britse tydskrif Cosmopolitan ’n model wat op 136 kg inweeg op hul voorblad kan hê (volgens hulle ’n rolmodel) gee ek regtig nie om wat ons lugwaardinnetjies weeg nie, solank hul net vriendelik “môre oom” sê as ek opklim.

Meer oor:  Blouwillem  |  Bokke  |  Springbokke  |  Rubriek  |  All Blacks  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.