Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Al wat seker is: Woede is ’n doodloopstraat

Ná hoeveel jaar besoek jy weer die Voortrekkermonument in Pretoria.

Die wagte by die hek is vriendelik. Die grasperke is gesny. In die parkeerterrein klim kinders uit ’n skoolbus en draf met die trappies op, nes jy ook meer as 40 jaar gelede gedoen het. Jy stoom agterna.

Dana Snyman

Halfpad gaan staan jy om te rus. ’n Man kom staan by jou. Riaan, ’n afgetrede ingenieur. Julle begin gesels. Hy is ook hier om te kom soek na iets wat hy nie mooi kan verwoord nie.

Riaan is ook ’n onrehabiliteerbare Afrikaner. Maar hy kan ook nie meer glo die Afrikaners is God se uitverkore volk nie. Hy glo nie meer aan daardie god wat ons vir onsself geskep het nie: die nukkerige ou man met die baard wat iewers bokant die wolke op ’n troon sit en ons dophou, gereed om ons te straf nie.

Elke mens het ’n siel, en ’n Afrikaner se siel is nie belangriker as ’n Xhosa of ’n Chinees s’n nie. ’n Afrikaner is ook nie net wit nie. Soveel van ons se bloed is vermeng met dié van slawe uit die Ooste en inheemse mense met donker velle.

Riaan voel ook nie meer tuis tussen mense wat die ou Suid-Afrikaanse vlag swaai en “Die Stem” sing nie. Hy het ja in 1992 se referendum gestem omdat hy opreg gehoop het op iets beters. Hy is ontnugter met die nuwe Suid-Afrika, maar hy weet ook ontnugtering lei maklik tot woede, en woede is ’n doodloopstraat.

Ons is nie links of regs, verlig of verkramp nie.

Daar is baie Afrikaners wat soos ons voel, sê Riaan. Maar ons het nie ’n Steve om lawaai namens ons te maak nie. Ons kan ook nie daardie nuwe, self­aangestelde, jong volksleier – die een met die duisende volgelinge op sosiale media – ernstig opneem nie. Hy herinner ’n mens te veel aan ’n CSV-leier uit die 1970’s.

Ons besef ons het nuwe sekerhede nodig om ons lewens mee te rig. Of ons moet ons ou sekerhede nuut ontdek. Dis miskien wat ons hier by die monument kom doen. Ons is nie links of regs, verlig of verkramp nie. Ons is verantwoordelike mense wat besef ons blindelingse vertroue in ons vroeëre volksleiers het baie pyn en hartseer vir ander gebring. Ons kan nie nou baarde groei en op ons perde spring en die verlede in jaag nie.

Ons weet instinktief daar is ’n sekere geesteskrag te put deur jou onsekerheid oor belangrike kwessies te bely. Dié wat nie vrae vra nie, beland dikwels in die greep van populistiese leiers en blink pastore. Om vanaand “Die Stem” uit volle bors te sing, laat jou dalk beter voel, maar môre is jy terug in die werklikheid van ’n gebreekte land waarin almal swaarkry.

Lank staan jy en Riaan daar op die monument se trappe en gesels. Die dag sal kom – nog meer as nou – om ons teen die regering te verset, maar eers moet ons probeer bou en liefhê. Hoop is nie maklik nie. Dan groet julle.

Minute later staan jy alleen in die monument en kyk hoe ’n sonstraal by die gat in die dak inskyn en ’n ronde ligkol maak langs die senotaaf waarop staan: Ons vir jou Suid-Afrika.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Voortrekkermonument  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.