Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alberton genoem na soldaat, boer, sakeman
Fransjohan Pretorius

Onlangs is genl. Hennie Alberts in Beeld genoem as die persoon na wie Alberton aan die Oos-Rand genoem is. Nooit van gehoor nie, merk een leser op.

Hendrik Abraham Alberts is op 7 April 1855 in Hoeko in die distrik Ladismith in die Kaapkolonie gebore – Langenhoven-wêreld. Dié intelligente boerseun geniet uitstekende tuisonderrig van sy ma wat hom bo die meeste van sy tydgenote laat uitstyg. In 1874 trou hy met Petronella Johanna Oosthuizen van dieselfde distrik en gaan boer hy in die Heidelberg-distrik van die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Anglo-Boereoorlog

By die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het hy hom reeds as ’n vermoënde boer en knap sakeman bewys, soos die aanwesigheid van ’n stoommeule op sy plaas getuig. As gewone burger bevind hy hom as 44-jarige lid van die Heidelberg-kommando aan die Natalse front. Hy neem aan die veldslae van Talana, Modderspruit, Colenso en Spioenkop deel. By Spioenkop (24 Januarie 1900) is hy reeds waarnemende veldkornet.

Ná die Britse inname van Pretoria in Junie 1900 val Alberts saam met die Transvaalse kommando’s ooswaarts terug na Machadodorp. Hier word hy tot kommandant verkies in die plek van kmdt. C.J. Spruyt, wat tot veggeneraal bevorder word.

Bevorder tot veggeneraal

As waarnemende veggeneraal ondersteun Alberts kmdt.genl. Louis Botha op 6 Februarie 1901 by Chrissiesmeer en toe Spruyt in Julie 1901 sneuwel, word hy tot veggeneraal bevorder. Hy word Botha se reg­terhand in Oos-Transvaal, onder meer by die Slag van Bakenlaagte op 30 Oktober 1901, waar lt.kol. George­ Benson – ’n doring in die vlees van die Boeremagte – noodlottig gewond word.

In Februarie 1902 wend lord Kitchener­ ’n verbete poging aan om die Noordoos-Vrystaatse kommando’s onder genl. Christiaan de Wet noord van Harrismith teen die Drakensberge vas te keer en tot oorgawe te dwing. Alberts word met sy Heidelberg-kommando’s ter ondersteuning van die Vrystaters daarheen gestuur.

Breek deur die Britse linies

Op 26 Februarie is hy by Kalkkrans in bevel van die gesamentlike republikeinse strydmag wat daarin slaag om De Wet, pres. M.T. Steyn en die Vrystaatse regering en die meeste van die Noordoos-Vrystaatse kommando’s deur die Britse linies te laat breek.

Terug in Oos-Transvaal konsentreer hy daarop om die Britse verbindingslinies – veral die spoortrajek tussen Val en Heidelberg – te ontwrig en sodoende die druk op Botha se kommando’s te verlig.

Alberts is ’n afgevaardigde vir die Heidelberg-kommando’s na die vredesamesprekings in Vereeniging, waar hy ten gunste van die vredesvoorstelle stem.

Politieke rekonstruksie

Soos alle Boere is hy deur die oorlog geruïneer, maar met sy sakesin kom hy vanweë winsgewende grondtransaksies weer finansieel op die been. As Botha-ondersteuner neem hy ’n leidende aandeel aan die politieke rekonstruksie. Hy is medestigter van Botha se Het Volkparty en Christelike Nasionale Onderwysskole as teenvoeter vir lord Milner se verengelsingsbeleid.

Alberts is lid van ’n sindikaat wat ’n deel van die plaas Elandsfontein aankoop waarop Alberton in 1904 gestig word en wat na hom genoem word. Op 8 September 1906 sterf hy op 51-jarige leeftyd aan hartversaking. Sy graf is op ’n verkeersirkel in Alberton.

’n Biografiese skets van Alberts sê: “Vaderlander by uitnemendheid, diep godsdienstig, vriendelik en genaakbaar . . .”

  • Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Alberton  |  Geskiedenis  |  Boere  |  Britte  |  Anglo-Boereoorlog  |  Sakeman  |  Soldaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.