Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Algerië, Soedan bied hoop in ’19

Dit was ’n woelige 2019 met heelparty hoogtepunte én laagtepunte in Afrika noord van ons grense.

Die mees dramatiese hiervan was sekerlik die gebeure in Soedan en Algerië waar mense deur massaoptrede hul diktators en siek, ou leiers uit die kussings gelig het. Só ’n populêre mobilisasie van mense om van hul leiers ontslae te raak, is ongekend sedert die Arabiese Lente van 2011.

Liesl Louw-Vaudran

Daar was wel ’n massabeweging in Burkina Faso in 2014 waarmee die president verdryf is, en soortgelyke bewegings in Senegal en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Maar niks op die skaal van wat vanjaar ervaar is nie.

In Algerië gaan die vreedsame protesbeweging steeds voort. Ongelukkig gee die internasionale nuuskanale nie veel aandag daaraan nie, maar die onverpoosde mobilisasie van Algeryne in die strate van al die belangrikste stede sedert vroeg vanjaar is indrukwekkend.

In April het pres. Abdelaziz Bouteflika bedank, maar die protesgangers het aangehou. Nuwe verkiesings is keer op keer uitgestel omdat mense eenvoudig daarop aangedring het dat die ou garde wat jare lank al regeer, plek moet maak vir ’n nuwe geslag innoverende leiers. Korrupte politici en sakelui is voor die hof gedaag en heelparty is tronk toe gestuur. Dit sluit in twee vorige eerste ministers wat onlangs tronkstraf van onderskeidelik 15 en 12 jaar opgelê is (wys die nasionale vervolgingsgesag ’n bietjie daarop . . .)

Die militêre leiers wat by Bouteflika oorgeneem het, het uiteindelik besluit om op 12 Desember ’n verkiesing te hou, maar die kiesersopkoms was op ’n historiese laagtepunt van rondom 40%.

Dieselfde het min of meer gebeur in Soedan waar die diktator Omar al-Basjir ook uit die kussings gelig is – die einste Al-Basjir wat weens aantygings van menseregtevergrype voor die internasionale strafhof gedaag is.

Hy moes in 2015 soos ’n dief in die nag uit Suid-Afrika vlug nadat ’n plaaslike hof gelas het Suid-Afrika moet hom in hegtenis neem. Hy is nou agter tralies danksy die groot getalle Soedannese wat weke lank hul lewe tydens optogte teen sy regime gewaag het.

Daar is tog hoop as mense in lande soos Soedan en Algerië hul lot in hul eie hande neem.

Dit is interessant dat die Afrika-Unie (AU), so dikwels uitgekryt as ’n ondoeltreffende klub van diktators, ingegryp en gehelp het om die oorgang in Soedan deur onderhandelinge te bewerkstellig.

Die vraag is of die AU uiteindelik nou besef dat hy moet fokus op die welstand van gewone mense, eerder as net op leiers en regerings? In ’n era van sosiale media en mobilisasie van mense, kan jy nie net terugsit en dink die enigste politieke “akteurs” is politieke partye, die regering en rebellegroepe nie.

Burgerlike organisasies en die media speel ’n groot rol in demokratiese lande soos Suid-Afrika, maar in geslote, outoritêre state is die informele, dikwels gesiglose bewegings die werklike setels van mag en potensiële verandering. En waar dit sleg gaan, gee hierdie bewegings wel hoop.

Aan die negatiewe kant het Afrika vanjaar swaar gebuk gegaan onder die verwoesting wat radikale Islamitiese groepe oor die vasteland heen saai.

Van Mali tot Somalië en nou ook in die noorde van Mosambiek word mense byna daagliks wreed vermoor. Om hul doel te bereik, word jongmense in hierdie lande en streke gelok om by die groepe aan te sluit – dikwels werkloses en armes wat deur die staat verwaarloos is.

Dit is dus toenemend nodig om te sorg dat ekonomiese geleenthede ook die uithoeke van Afrika bereik – iets wat selfs state met goeie bedoelings klaarblyklik net nie kan regkry nie.

Maar daar is tog hoop as mense in plekke soos in Soedan en Algerië hul lot in hul eie hande neem.

  • Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies.
Meer oor:  Liesl Louw-Vaudran  |  Soedan  |  Afrika  |  2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.