Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alkoholisme bekruip jou ongesiens

Donderdae word die boodskap klokslag op sosiale media rondgestuur: Onthou om jou drank vir die naweek te koop. Want as Covid-19 iéts aan ons gewys het, is dit dat Suid-Afrikaners ’n ongesonde verhouding met alkohol het, berig Raymond Willemse.

Om pret te hê en “gelukkig” te wees móét jy drink. Dis ’n persepsie en deel van Suid-Afrika se drankkultuur.

Maar, waarsku Ray G, nasionale sekretaris van Alkoholiste Anoniem, om dié kultuur te verander moet mense vroegtydig bewus gemaak word van die gevare van alkoholmisbruik.

Hy beskryf Suid-Afrika se drankmisbruik as “uniek, maar nie iets om op trots te wees nie”.

Suid-Afrikaners is “wêreldkampioene in die misbruik van alkohol”, sê Ray. “Dis vreemd, want ’n groot persentasie van volwassenes stel glad nie in drank belang nie of het nog nooit gedrink nie. Nogtans is die statistieke van die kleiner groepie wat oormatig drink, ontstellend.”

Maar, sê Thembekile Msane, woordvoerder van die Suid- Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca), ons moet fyner kyk na die oorsake wat lei tot die oormatige misbruik van alkohol.

“Dit sal ons help om die belangrikste kwessies te takel, die gebruik van alkohol te beperk en om ’n volhoubare oplossing te vind en verandering te bewerkstellig.”

Een probleem met die drankkultuur is dat mense so gewoond is daaraan om ’n drankie (of twee, of drie) te geniet dat baie mense wat eintlik ’n drankprobleem het, dit glad nie weet nie.

Foto: ISTOCK
Die laaste om te weet

Sheryl Rahme, mede-eienaar en direkteur van Changes Rehab in Johannesburg, sê iemand met ’n drankprobleem is gewoonlik die laaste persoon om daarvan bewus te word.

“Jou familie, vriende en selfs jou drankmaatjies sal eerste jou oormatige gebruik uitwys.”

Volgens Rahme is alkoholisme ’n progressiewe siekte.

“Dit begin deur te eksperimenteer, maar lei later tot alkoholisme vir sekere mense. Dit word later ’n groot probleem. Mense begin nie net eendag om drank te misbruik nie. Dit gaan om goed oor hulself te voel of om te ontsnap omdat hulle nie gemaklik in hul eie vel is nie.”

Ray sê alkoholiste het verskillende drankgewoontes. “Daar is diegene wat elke dag drink en dié wat elke oggend moet drink. In my geval was ek ’n binge-drinker wat oormatig oor ’n naweek gedrink het. Ek kon weer twee weke sonder ’n druppel alkohol gaan en wéér later binge-drink.”

Baie mense wat oor naweke of feestyd fuifdrink, is trots op die feit dat hulle “enige tyd kan ophou” en beskou hulself dus nie as ’n verslaafde nie.

Dis moeilik om ’n geliefde te sien verval in alkoholverslawing, maar so ’n mens moet uiteindelik self hulp soek.

David Briskham, direkteur van Twin Rivers Rehab in Plettenbergbaai, sê daar is baie ontkenning rakende alkoholisme.

“Dit neem lank voordat verslaafdes erken dat hulle ’n probleem het. Hul werk en bestaan is om geld te hê vir drank. Hulle weet nie dit is vernietigend nie. Dis vir hulle die norm.

“Vir sommige mense is dit ontsettend moeilik om net op te hou drink. Van die mense weet hulle het ’n probleem. Hulle reik uit om hulp, maar hulle kom net nie tot by daardie punt om hulp te aanvaar en op die pad van herstel te begin nie.”

Ray sê “alkohol word deur ellende aangetrek”.

Mense drink byvoorbeeld meer wanneer hulle ’n krisis beleef, soos om jou werk of verblyf te verloor.

“Daar is min wat ons kan doen as iemand nie self hulp wil hê nie. As hulle wil ophou, sal ons alles in ons vermoë doen om te help. Die persoon wat hardkoppig weier om iets aan sy probleem te doen, gaan tot die bitter einde drink. En die einde vir dié wat nie wil ophou nie, is nie mooi nie.”

Rahme sê wanneer mense by hulle om hulp aanklop, is dit soms reeds te laat.

“Die fout wat familie en vriende maak, is om eerste die probleem self te wil hanteer. Dit kan soms jare neem voordat families voor ons deur staan. Ons moet die publiek opvoed om eerste met ons te praat om profes­sionele hulp in te kry. Ons weet wat die siekte is en hoe om dit te behandel.”

Rahme benadruk dat diegene wat wel om hulp aanklop, nie veroordeel moet word nie. “Van hulle is reeds skaam. Hulle moet ondersteun word in die herstelproses.”

Daardie onskuldige glasie wyn ná werk is vir baie mense die eerste tree na verslawing. Foto: ISTOCK

Glasie wyn ná werk

Msane sê die sosiale gebruik van alkohol as vertroosting, hanteringsmeganisme of ontspanning aan die einde van ’n skynbaar lang dag is die probleem wat getakel moet word.

Die samelewing sien dit as “skadeloos” – maar vir baie mense is dit die begin van verslawing.

Volgens Msane is daar gesonder aktiwiteite wat ’n mens kan beoefen om ná werk te ontspan, soos om te mediteer, te stap of na musiek te luister “eerder as om met ’n gewoonte te begin wat later tot verslawing kan lei”.

Ray sê by AA oordeel hulle nie mense wat drink nie. “Daar is niks fout met ’n glasie wyn ná werk nie. Dit kan wel ’n probleem word as die tweede een nog geselskap soek, wat dan ’n derde en vierde maatjie soek . . .”

Hy beklemtoon dat jy nie “uit die bloute” aan drank verslaaf raak nie, maar dat dit iets is wat oor ’n tydperk gebeur.

Volgens Rahme is daardie glasie wyn ná werk vir baie mense ’n deel van die ontkenning van die probleem.

“Dit begin ’n ritueel word. Dit mag begin met een of twee glasies. Alkohol verander jou en hoe jy voel – daar is ’n chemiese verandering wat plaasvind. As alkohol nie ons gedrag verander het nie, sal dit nie ’n probleem gewees het nie,” sê sy.

Foto:

Is dit oorerflik?

Volgens Rahme is daar al hoe meer bewyse dat daar ’n genetiese skakel is.

Sy sê sedert sy in die rehabilitasiebedryf is, is sy “verbyster” om te sien hoeveel volwassenes wat as kinders gesien het hoe hul ouers drank misbruik, “later daardie selfde gif drink wat verwoesting in die ouerhuis gesaai het, om ’n gat in hul siel te vul”.

’n Mens sal volgens haar dink iemand wat die negatiewe impak van drank ervaar het, sal nooit daaraan vat nie, maar tog gebeur dit.

Ray sê wetenskaplikes het bevind daar is ’n geen wat met alkohol verband hou. “As jy dit het, beteken dit nie jy gaan ’n alkoholis word nie. Dit beteken jy het die vermoë om een te word. Ek ken twee sibbe wie se ouers alkoholiste is waarvan die een ’n probleem met drank het, maar die ander een nie.”

’n Familiegeskiedenis van alkoholisme hou ook volgens Msane­ verband met ’n verhoogde risiko vir genetiese geneigdheid tot alkoholisme.

“Gene speel ’n spesifieke rol in ’n mens se lewe. Dit wissel van sy gedrag tot fisieke eienskappe en genetika is verantwoordelik vir byna elke menslike eienskap van ’n persoon.

“Ons het gesien hoe kinders wat ’n ouer het wat sukkel met alkoholmisbruik, die gevaar loop om self alkoholiste te word. Om in so ’n omgewing groot te word, kan ’n persoon ook aan die siekte blootstel. Dit beteken nie omdat jy uit ’n familie van alkoholiste kom, jy ook een gaan word nie. Daar is ander bydraende faktore wat daartoe lei dat ’n persoon verslaaf raak.”

Lang herstelproses

Gaan soek jy wel die dag hulp, moet jy volgens Ray besef jy gaan baie ondersteuning nodig hê.

“Dis nie net ’n driemaande-proses en ‘poef!’, jy is verlos nie. Elke dag, selfs elke uur gaan jy ondersteuning nodig hê wanneer jy daardie glasie drank wil vat omdat die een of ander ding ’n sneller vir jou is. Daarom is dit baie belangrik om AA-vergaderings by te woon. Jy sal dit vir die res van jou lewe moet bywoon.”

Raymond Willemse

Hy sê danksy tegnologie is daar elke oomblik van die dag ’n vergadering op sosialemedia-platforms vir diegene wat sukkel met alkoholmisbruik.

Rahme bevestig ook dat rehabilitasie nie net binne 21 dae geskied nie.

“Dis ’n lang proses. Dit kan tot ’n jaar neem om iemand te rehabiliteer. Daarna het jy ’n ondersteuningsbasis nodig, soos AA-vergaderings.”

Rahme sê verslaafdes moet self in hul toekoms belê.

“Daar is daardie ingesteldheid dat rehabilitasie filantropies moet wees. Mense wil nie daarvoor betaal nie, maar het die geld om hul verslawing te onderhou.”

Heling beteken ook om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou gedrag en dade, sê Rahme.

“Verslawing is ’n siekte . . . Ons oordeel niemand nie. Jy moet self eienaarskap vat van jou probleem en jou herstel. Ons sloop die ontkenning en daag pasiënte se eie oortuigings uit dat hulle nie alkoholiste is nie en leer hulle wat ’n alkoholis is.”

Ray sê ’n deel van die helingsproses is om reg te maak wat jy opgefoeter het.

Maar terwyl daar hulp is vir individue met verslawing, krap kenners kop oor hoe die drankkultuur in Suid-Afrika verander moet word.

Briskham sê sodra ’n kultuur wortel skiet en bepaalde gedrag sosiaal aanvaarbaar word, is dit baie moeilik om dit te verander.

  • Willemse is ’n redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Raymond Willemse  |  Alkoholisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.