Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alle oë gerig op grond(kwessie)
Gert Coetzee

Our land and jobs now, was ’n verkiesingspreuk van die Rooi Gevaar onder leiding van Son of the Soil as Commander-in-chief.

Beskerm private eiendomsreg, sê die VF Plus in sy kiesmanifes.

Grondhervorming moet mense grond-eienaars maak, nie lewenslange huurders nie, was die opskrif van die DA se grondklousules in sy manifes.

In die ANC met sy gesplete tong, hang dit af wie praat. Buitelands en hier beloof die sosiaal-demokratiese pres. Cyril Ramaphosa ordelike onteiening met die fokus op onbenutte staatsgrond, en dat al is dit sonder vergoeding niemand iets kwyt sal wees nie. Die nasionalistiese Ace Magashule stel dit baie meer radikaal.

In Bloemfontein het Magashule in September 2018 vir Olly Mlamleli, Mangaung-burgemeester, in ’n toespraak aan die Congress of South African Students (Cosas) gesê om haar magte te gebruik. “Herverdeel grond sonder vergoeding in die tradisionele wit woonbuurte van Mangaung sodat die township-inwoners wat ver bly, hier kan kom bly. Laat hulle sommer hul hutte bring,” het hy gesê.

Mlamleli was nie links nie. “Die grootbaas het gepraat. Heuwelsig, Heuwelsig!” het sy aangehits.

Ook is berig Magashule het tóé gesê dit lyk asof Mangaung bang is om vir swart mense grond te gee.

Dat swart mense in ons land bemagtig moet word, ook met grond, is ’n gegewe. Oor hoe dit moet geskied, heers verdeeldheid.

Dat swart mense in ons land bemagtig moet word, ook met grond, is ’n gegewe. Oor hoe dit moet geskied, heers verdeeldheid. Wat populistiese profete verswyg, is dat grondoordrag nie ’n kitsoplossing is nie.

Die berigte oor boere wat bankrot speel en vendusie-veilings vertel nie al die trauma nie. Kort-kort lees ’n mens van ’n boer wat sy lewe beëindig het.

Maar opstokers versuim om realiteite aan grondhongeres uit te stippel.

Weldenkendes is ten gunste van grondverspreiding, mits dit produktief en bemagtigend is en nie die landbou of die land knak nie.

Skaakmat, of nie? Talle berigte vertel hoe welwillende boere medeboere bystaan, ook met grond, en hulle tot die mark begelei. Sodat hulle later weer andere kan bemagtig.

Maar twyfel oor hoe die beleid vir grondonteiening gaan werk, verlam boerdery. ’n Suksesvolle boer sê aan my hy kan nou aanhou boer, maar nooit aftree nie, omdat onsekerheid grondkopers afskrik. Dit is soos om nie te kan weet nie – dan is ’n nee beter.

Die moedswillige skade wat Julius Malemas, Magashules en Mlamleli’s met hul opruiery van grondbesetters aanrig, is onbereken­baar.

Die moedswillige skade wat Julius Malemas, Magashules en Mlamleli’s met hul opruiery van grondbesetters aanrig, is onbereken­baar.

Teleurstellend is dat die presidensiële grondpaneel haalbare voorstelle van Agri SA oor hoe om arm kleinboere te betrek afgeskiet het, en Dan Kriek, Agri SA-president, en Nick Serfontein, leierboer, genoop het om – tot argwaan van dr. Vuyo Mahlati, voorsitter, ’n minderheidsverslag in te dien. Hopelik kry hul verslag wel lug.

Die allerlaaste ding wat nodig is om die grondvraagstuk te maak werk, is politiek. Maar dit is Suid-Afrika . . .

Naas die korrupsiestryd, gaan die grondkwessie in hierdie vyfjaartermyn ’n brandpunt wees. Die arena waar die wetlike stryd hom grootliks gaan uitspeel, is in die parlement waar die ad hoc-komitee vir die wysiging van die Grondwet se artikel 25 deurgedryf gaan word. Kon die “onderhandelinge” maar soos ’n Kodesa in die 1990’s benader word, maar die ANC en die EFF hou ’n tweederdemeerderheid. Thoko Didiza, ’n oudminister van landbou, lei die ad hoc-komitee wat ’n loot van die grondwetlike hersieningskomitee is.

Sy is bekwaam en nie ’n heethoof nie.

Op Nampo wys boere wat hulle kan – en wil – doen. Hulle én die land wag om te sien wat lewer die grondproses en hoe dit plase, stede én dorpe gaan raak.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Grond-Onteiening  |  Landbou  |  Eff  |  Grondbeleid  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.