Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alle oë nou op aankondiging van kabinet

Met die verkiesing agter die rug het die politieke nuus voorlopig die pas begin markeer.

Barnard Beukman

Dít tot die volgende oomblik van groot belang – nee nie die president se inhuldiging nie, maar die nuwe kabinet.

Die inhuldiging is wel in die nuus oor die koste en die skuif daarvan van die Uniegebou na Loftus Versfeld.

Die inhuldiging van ’n nuwe president in enige demokrasie bly ’n belangrike simboliese oomblik en is ook ’n internasionale uitstalvenster. ’n Mens moet dus nie kleinlik wees oor die koste daaraan verbonde nie. Dit is ’n belangrike belegging.

Ons wil nie daardie dag Bathabile Dlamini en kie se foto’s op ons voorblad dra nie

Tog is AfriForum reg wanneer die organisasie kapsie maak deur sy #StopdieBus-veldtog teen die besluit dat busse van oor die land heen – op munisipaliteite se rekening – opgekommandeer word om Loftus vol te maak. Die grootste owerheidskrisis in ons land is munisipaliteite. Om die kostelas ook nog op hul bankrot en meermale leeggesteelde geldkaste te laai, is onaanvaarbaar.

(Kallie Kriel en sy brigade sal wel vroeg moet opstaan as hulle die bus wil keer waarvoor ek self moet aanmeld – reeds 05:00 die oggend iewers in Pretoria!)

Dit is te verwelkom dat R100 miljoen reeds uit die koste gesny is vergeleke met die vorige jaar. Dalk kon nog meer bespaar gewees het deur ’n baie klein plegtigheid weer op die trappe van die Uniegebou te hou.

Gewoonlik lewer die inhuldigings nie groot aankondigings op nie en gaan dit meer oor ’n treffende toespraak. Daarom skuif waarnemers se visiere na die kabinetsaankondiging.

Met beleggingshuise en graderingsagentskappe wat reeds hul eerste geluide begin maak – Goldman Sachs positief, Moody’s onheilspellend waarskuwend – gaan die kabinetsaankondiging ’n kritieke oomblik vir pres. Cyril Ramaphosa wees. Sy eie en die geloofwaardigheid van sy termyn gaan, selfs buite redelike verband, grootliks daaraan gemeet word. Daar is begrip daarvoor dat enige kabinet noodwendig politieke passasiers moet dra wat die belangrikste faksies in ’n party verteenwoordig. Maar as hy selfs net een lid met die kleinste wolkie van staatskaping of korrupsie aanstel, begin hy met ’n agterstand wat hy gaan sukkel om in te haal. Hopelik verstaan hy die gravitas daarvan.

Ons wil nie daardie dag Bathabile Dlamini en kie se foto’s op ons voorblad dra nie – tensy daar plek gemaak word vir ’n “uit”-kolommetjie.

  • Die gekste oomblik van die jaar tot nou toe was toe Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, gekla het oor die mediafokus op stembusprobleme terwyl die werklike storie die algehele sukses is.

Sy opmerking verteenwoordig die vernietigende kultuur van ondergemiddeldheid as die nuwe strewe. Só gaan ons nooit regeringsfunksies en dienslewering op aanvaarbare vlakke kry nie. Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Aankondiging  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.