Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alle oë op NGK "se boodskap"
Barnard Beukman

Alle oë sal in die komende dae op die sitting van die NG Kerk se algemene sinode wees wat in Benoni gehou word.

Een van die eerste sake op die agenda was om ’n moderator te kies wat dien as voorsitter van die vergadering van die algemene sinode en tussen sinodes as voorsitter van die dagbestuur.

Ds. Nelis Janse van Rensburg is vir ’n tweede termyn gekies. (Geluk, Nelis, en baie sterkte.) Hy is beslis goed toegerus vir die taak en sekerlik ook verder gevorm deur sy vorige termyn, wat hyself as “nie maklik nie” beskryf.

Soos vele kerke en ander organisasies in die heersende stormagtige tye wêreldwyd, sou hy ook die uitdagings daarvan ervaar het om ’n middelgrond bymekaar te probeer hou. Daar waar toenemend uiteenlopende standpunte meermale onverdraagsaam teenoor mekaar gestel word.

Wat vir sy tweede termyn waar is, geld ook die sinode en die kerk in sy geheel vorentoe. Pogings om almal bymekaar te hou kan nie ’n steriele watertrappery word wat in geen rigting gaan nie. Die middelgrond is universeel uitgekalwe en moet herbou word deur duidelik nuwe rigting te gee. Dit is waaraan die NG Kerk ook in die volgende vier jaar gemeet en getoets gaan word. Sterkte ook aan ds. Nioma Venter as eerste vroulike assessor.

Dit is reeds bekend dat die gay-kwessie hoog op die agenda vir aandag is

Dit is reeds bekend dat die gay-kwessie hoog op die agenda vir aandag is. Ongelukkig het dié kwessie ’n soort karakter aangeneem wat dit laat lyk of die drywers daarvan meermale omtrent al die suurstof van diskoers in die kerk daarmee wil opneem. Dit kan die indruk skep – ook met die gepaardgaande hofaksie – dat die NG Kerk, ten regte of hoogs waarskynlik ten onregte, die beeld van ’n een-kwessie-kerk kry. (En laat ons dadelik eerlik gelyk gee, die media het sekerlik ook ’n aandeel daaraan.)

Die meeste van die kerk se lidmate en welmenende waarnemers sal ook wil sien hoe die kerk reageer op van die ander kwessies op die agenda. Dit sluit in die ekonomie – wat middelklas-lidmate ook toenemend raak, gesprekke met politieke leiers, haatspraak, rassisme, godsdiens in skole, onderwys en grondsake, om enkele items te noem. Die agenda verwys ook na die kerk se getuienis oor onreg, korrupsie, mishandeling, wetteloosheid en etiese leierskap. Dit sluit aan by nog ’n agendapunt oor die kerk se voortgesette stryd teen armoede en ongeregtigheid.

Daar kan onmoontlik van die kerk verwag word om oplossings vir al die brandpunte te gee en boonop almal daaroor te laat saamstem.

Daar kan onmoontlik van die kerk verwag word om oplossings vir al die brandpunte te gee en boonop almal daaroor te laat saamstem. Maar ’n duidelike stem wat minstens probeer begrip wys en plek-plek selfs rigting gee, sal baie help om die kerk se geloofwaardigheid as ’n belangrike faktor in die gemeenskap lewendig te hou.

’n Belangrike vraagstuk in ons hedendaagse samelewing word verwoord in die sinode se agendapunt vir sessie 12: “Die rol van die kerk in ’n verdeelde samelewing, die skep van ruimtes vir begrip, hoe luister ons na mekaar?”

Ook hoe diversiteit en multikulturaliteit hanteer moet word. Dit is sekerlik een van die mees kritieke eise van ons hedendaagse historiese werklikheid – hetsy van Donald Trump in die Withuis tot Julius Malema en kie op eie werf. En moet gewone mense ook nie hiervan uitsluit nie. Vars denke hieroor kan beslis ’n verskil maak.

Uiteraard gaan ook aan heelwat suiwer kerklike en godsdienstige kwessies van die kerk se Christelike geloof aandag gegee word.

Met sy uiteenlopende verskeidenheid van gemeentes oor die land heen, wat soms heelwat verskil in karakter en bedieningstyl volgens die behoeftes van ’n spesifieke omgewing, het die NG Kerk beslis nog ’n sterk genoeg struktuur om veral op plaaslike vlak ’n positiewe katalisator te wees..

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Gays  |  Ngk  |  Predikante  |  Algemene Sinode  |  Ekonomie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.