Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Allerlei soorte van mens, nie nét ’n vrou nie
Christina Landman

Dis Vrouemaand. Dit is deesdae rof om ’n vrou te wees. Ek wil liewers ’n mens wees.

Kyk byvoorbeeld na die vroue in die regering en in bestuur. Dis nou dié wat daar sit alleenlik omdat hulle vroue is. Nou moet hulle werk doen wat hulle nie kan doen nie, terwyl hulle iets anders goed sou doen. Dit moet vreeslike angs tot gevolg hê. Hulle word aan bomenslike standaarde gemeet en is tot mislukking gedoem. En so word al ons vroue ’n mislukking – en moet ons ook sommer almal ’n lessie leer: Bly weg. Julle kan nie daardie hoë dinge doen nie, vroue. Dit is dan nou juis waarvoor Vrouemaand nie moet staan nie.

Dan is daar nog die ding van hoe vroue aangespreek moet word. As jy die woord vrou gebruik, begin die manne sommer te bewe. Wat is tog die regte manier om ’n vrou aan te spreek? wonder hulle vreesbevange. En ’n vreesbevange man is ook maar ’n ander manier om ons vroue te slaan. Sies, julle laat ons soos monsters voel.

Ek wil nie ’n monster wees nie. Ek wil liewers ’n mens wees.

Gelukkig word ons nou nie meer op ons vrouedele geroep nie. Maar moet ons asseblief aan die ander kant ook nie ’n dame, of erger nog, ’n lady noem nie. ’n Lady is ’n Britse vrou wat niks doen nie omdat sy hoog gebore is.

Ek is ’n vrou van Afrika. Ek wil nie ’n Britse dame wees nie. Ek wil liewers ’n mens wees.

Ek is ’n vrou van Afrika. Ek wil nie ’n Britse dame wees nie. Ek wil liewers ’n mens wees. Ek wil my eie styl van menswees omhels.

Gelukkig is dit nou regeringsbeleid, lyk dit my. Dieselfde regering waar vroue soms swaarkry, groet mense by vergaderings nie meer as “dames en here” nie. Hulle groet net. En dis lekker. Om nie op jou geslag gegroet te word asof dit al is wat jy is nie.

So vra ek nou die dag vir ’n groep vrouepredikante wat die uitdagings van ’n vrouepredikant is. Ons is net predikante, sê hulle. Moenie ons uitskuif deur ons vrouepredikante te noem nie.

So wil ek ook nie ’n vrouepredikant wees wat vir die basaar moet kook nie. Ek wil liewers ’n menspredikant wees wat met al die mense in die gemeente kuier – terwyl ek die kos eet wat mense gemaak het wat goed kan kook. Ek wil saam met mense huil en bly wees – as ’n mens. Ek sal selfs saam met hulle rugby kyk. Om te wys ek kan allerhande soorte mense wees, en nie net ’n vroumens nie.

Dan kom die kerk, en op Vrouedag gee die vroue vir mekaar pienk geskenkies by ’n tee waar hulle wys hoe baie hulle mekaar as vroue respekteer. En die dominee preek oor ’n vrou in die Bybel – maar so verkeerd! Die vrou word bonatuurlik sterk voorgestel en ons word weer eens tot mislukking gedoem.

Want wie van ons kan so ’n wonderlike vrou wees soos ’n Bybelse vrou wat deur ’n dominee opgeblaas is om polities korrek te wees? Eers het die kerk vroue platgedruk net omdat hulle vroue was. Nou word hulle opgehemel – as vroue. Wanneer gaan hulle toegelaat word om mense te wees?

Dit lyk so lekker dat mans net mense kan wees. Gun dit vir die vroue ook. Op Mensedag.

  • Landman is professor in teologie aan Unisa en ’n dominee in die Verenigende Gereformeerde Kerk.
Meer oor:  Christina Landman  |  Vroue  |  Vrouemaand  |  Menswees  |  Vrouwees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.