Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alles is Covid, maar Covid is wel nie alles nie

In 1985 het die Nederlandse teoloog wyle Harry Kuitert ’n opspraakwekkende boek geskryf met die titel Alles is politiek maar politiek is niet alles. In hierdie dae wil ’n mens by Kuitert se titel (nie noodwendig by al sy inhoud nie) leen, en sê alles is Covid-19, maar Covid-19 is nie alles nie.

Nico Koopman

Alles is Covid-19. As mense leef ons voortdurend met siekte en sterfte, selfs baie sterftes in dieselfde huishouding, onvoldoende gesondheidsorg, ondernemings wat bankrot speel, ekonomiese agteruitgang en werkloosheid.

Daar is armoede en ongelykheid, emosionele en geestelike ongesteldheid, trauma, vrees en angs, paniek en skok, onsekerheid en onvoorspelbaarheid, verwarring en disoriëntasie, vrae oor die sin en betekenis van die lewe, sosiale afstand en sosiale isolasie, misdaad en geweld teen vroue en kinders.

In die Covid-19-tyd word hierdie sorge egter in ’n ommesientjie opeengehoop, vermenigvuldig, versnel en geïntensifiseer. En al hierdie sorge word skielik in alle mense oor die wêreld se binnekringe ingedra. Alles is Covid-19. Covid-19 impakteer op al ons bestaande sorge, vererger daardie sorge en dit bring nuwe sorge.

Die bestaande kwellinge intensifiseer en vermenigvuldig en ons kan nog nie peil wat die omvang van die negatiewe impak daarvan is nie. Wat skuil in hierdie pandemie en wat wag nog op ons?

Die andersheid van Covid-19 bestaan ook daarin dat ons nie in fisieke nabyheid kan funksioneer nie. Ons mis daardie omgaan met mekaar waar al ons sintuie ingespan word om sin te maak.

Ons mis dit om mekaar in die oë te kyk, die hoor van mekaar se woorde en die emosies, liggaamstaal en gesigsuitdrukkings wat die woorde verstaanbaar maak.

Ons mis dit om mekaar in die oë te kyk, die hoor van mekaar se woorde en die emosies, liggaamstaal en gesigsuitdrukkings wat die woorde verstaanbaar maak. Ons mis die aanraking en omarming, veral te midde van seer en leed, om saam te ruik, te proe en selfs om mekaar net aan te voel. Alles is Covid-19. Ons noodsaaklike menslike omgaan met mekaar word negatief beïnvloed.

Al is alles Covid-19, is Covid-19 nie alles nie. Covid-19 is nie alles nie, beteken enersyds Covid-19 is nie ons enigste probleem nie. Dit beteken veral ook ons durf nie toelaat dat Covid-19 voor ons staan as ’n absolute mag waarteen ons nie opgewasse is nie. Covid-19 durf ons nie verlam en apaties maak nie. Die kerkhervormer Martin Luther is bekend vir sy stelling: Al weet ek ook die wêreld sal môre vergaan, sal ek vandag ’n boom plant.

Te midde van bedreiging en hopeloosheid, verkondig die profeet Jeremia: Belê in die toekoms, laat julle kinders trou, en laat hulle kinders verwek (Jeremia 29:6). Gaan transaksies aan, want daar sal weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop word (Jeremia 32:15-17).

Een gepaste respons op Covid-19 is dalk om op intensiewe en vernuwende wyse die pandemie se nuwe en onseker uitdagings te takel, sowel as die bestaande probleme wat die pandemie op nuwe wyse blootlê.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Covid 19  |  Geloof  |  Korona  |  Teologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.